Hieroor praat mense

Van dié 10 beroepe hou psigopate veral

Jy het vandag – niksvermoedend – by minstens een psigopaat verbygeloop. In ’n nuwe boek, Narsiste, psigopate, stalkers en sadiste (Tafelberg, R280), beskryf die oud-SARIE-joernalis André le Roux hoe jy hierdie ongure mense kan uitken – en vermy.

Dis wat psigopate so gevaarlik maak … Hulle maak ’n baie goeie eerste indruk. Jy sal dink: Wat ’n aangename, vriendelike en sjarmante mens wat so lekker en interessant kan gesels. Intelligent ook. En hy laat jou lag. Die trane sal wel later kom, maar dan is dit gewoonlik te laat. Terwyl jy swig voor die psigopaat se sjarme, is daar tog ’n manier om hom uit te ken: Kyk hoe hy ander mense hanteer – van die winkelassistent tot die kelnerin, mense wat hy nie wil manipuleer om iets uit hulle te kry nie. Terwyl hy jou op die hande dra. Hy is besig om jou in te katrol.

Maar psigopate pak ook hul aktetasse …

FOTO Elizabeth Tsung

Die beroepe waarvan hulle hou

In bepaalde beroepe sal jy meer as 1% psigopate aantref, soos in die regte (prokureurs en advokate). Psigopatiese trekke kom hulle goed te pas – vreesloos, gedrewe, onemosioneel, meedoënloos, onwrikbaar, sjarmant, manipulerend, met selfvertroue, ambisieus, magsbelus, wen-ten-alle-koste, eiebelang.

FOTO Rawpixel.com

Kevin Dutton, Oxford-sielkundige, psigopatie-navorser en skrywer van The Wisdom of Psychopaths, het in 2011 sy Great British Psychopath Survey onderneem en gevind die 10 beroepe met die meeste psigopate is, in volgorde:

1. Uitvoerende hoofde

2. Prokureurs

3. TV- en radiomense

4. Verkoopsmense

5. Chirurge

6. Joernaliste

7. Polisielede

8. Kerklikes (clerics)

9. Sjefs

10. Staatsdiensamptenare

FOTO Matthieu Joannon / Unsplash

As ’n paar hiervan jou wenkbroue laat lig …

– TV- en radiomense is bekend en dikwels beroemd. Hulle word bewonder en vertrou.

– Kerklikes is in ’n vertrouensposisie en hul gesag word nie maklik bevraagteken nie. In die kerk het hulle toegang tot ’n gerieflike infrastruktuur om ander uit te buit. Hulle kan makliker bondgenote kry om hulle te help of te beskerm. Boonop predik die meeste gelowe broederliefde en vergifnis, sou die psigopaat uitgevang word. Hulle kan ook altyd die skuld op die duiwel pak.

– Staatsdiensamptenare is eweneens in gesagsposisies.

– Die vloekende Britse sjef Gordon Ramsay het aan Vanity Fair gesê: “Sjefs is stapelgek. Hulle is almal selfbehep, delikaat, pieperig, onsekere klein siele en absolute psigopate. Elkeen van hulle.” Hy self ook? “Absoluut.”

– Dutton haal een van Brittanje se top-neurochirurge aan: “Ek’t geen medelye vir dié op wie ek opereer nie. Dis ’n luukse wat ek eenvoudig nie kan bekostig nie. In die teater word ek herbore. As ’n koue, hartelose masjien, totaal een met skalpel, boor en saag.” Emosies, sê die chirurg, is ernstig sleg vir besigheid: “I’ve hunted it down to extinction over the years.”

Lees nou:

Affairs: Só lyk die 4 tipe mans wat verneuk