suiker
Hieroor praat mense

“Vet”-taks, dieet vir ekonomie?

Die verlies van tussen 6 000 en 60 000 werksgeleenthede; die bedreiging van die voortbestaan van duisende kleinsakeondernemings; en ’n koste van tot R14 miljard in bruto binnelandse produk (BBP).

Dís die donker prentjie wat kritici van die voorgestelde suikerbelasting skets. Pravin Gordhan, minister van finansies, het vroeër vanjaar aangekondig dat dit van 1 April aanstaande jaar gehef sal word. Belanghebbendes in die plaaslike koeldrankbedryf, soos die Beverage Association of South en individuele vervaardigers, maak nou stem dik. Coca-Cola waarsku hy sal dalk sy bedrywighede in SA moet staak weens verlies aan inkomste.

Die land gaan swaar gebuk onder nie-oordraagbare siektes (soos hartsiektes en kanker) en mond-gesondheidsprobleme, het die departement van gesondheid teruggekap. Die ekonomie ly groot skade weens druk op gesondheidsorg en afwesigheid by die werk. Die oormatige gebruik van suiker is wêreldwyd ’n probleem, volgens professor Melvyn Freeman, die departement se groepbestuurder vir nie-oordraagbare siektes. Die goeie resultate wat met sogenaamde “sondebelastings” (soos dié op alkohol en tabak) plaaslik en internasionaal bereik word, is ’n aanduiding dat dit ook met suiker sal gebeur.

Daar is geen twyfel dat SA die vetsug-vraagstuk moet takel nie. Sowat 70% van vroue en ’n derde van mans is oorgewig of vetsugtig. Die voorkoms van nie-oordraagbare siektes is ook hoog en baie daarvan word deur vetsug veroorsaak of vererger.

So, gaan suikerbelasting vetsug verminder? vra Marelise van der Merwe van die Daily Maverick. Nie op sy eie nie, word voortgegaan. Maar wel as dit teruggeploeg word in iets soos veldtogte om mense bewus te maak van ’n gesonde leefstyl, gesondheidsorg en/of die subsidie van gesonde kosse.

Gaan dit die ekonomie die reuse-knou gee wat voorspel word? As jy na die internasionale neiging kyk, is dit onwaarskynlik. Maar ja, daar gaan tog ’n impak wees, volgens die Daily Maverick.

Bykomende bronne: Reuters, IOL