Vir Die Voels Poster
Hieroor praat mense

Vir die Voëls vir almal

Huisgenoot se eeufeesfliek, Vir die Voëls, het ’n uitstekende openingsnaweek gehad. Die romantiese drama, wat 25 November landwyd in teaters begin draai het, het naas die romantiese komedie Vir Altyd die grootste openingsnaweek vanjaar vir ’n Afrikaanse rolprent behaal.

Die rolprent het die afgelope naweek meer as R1m by die loket laat inrol en is deur meer as 20 000 mense gekyk. Naas Fantastic Beasts and Where to Find Them was dit boonop die gewildste keuse onder Sterk-Kinekor se fliekgangers.

Resensente besing eweneens die rolprent se lof.

“Die fliek werk omdat dit so bekoorlik en sonder pretensie is,” skryf die rolprentresensent Leon van Nierop in Rapport. “Dit probeer nooit meer wees as wat dit is nie. Dit gebruik ’n bekende resep en maak dit buitengewoon. Maar meer verblydend is die spelers wat hul rolle met soveel sjarme en gesag speel dat dit voel asof jy na regte mense kyk.”

Neels van Jaarsveld, Nicola Hanekom & Leandry Smith

Neels van Jaarsveld, Nicola Hanekom & Leandry Smith

“Dit kry reg wat min Afrikaanse romantiese flieks kan regkry: om jou op ’n romantiese reis te neem wat so persoonlik is dat jy vergeet dat jy na ’n rolprent kyk. Jy raak deel van die persoonlike vriendekring en jy kuier heerlik saam met jou soort mense.

“(Quentin) Krog (die regisseur) slaag vir een van die min kere in Afrikaans daarin om ’n romantiese storie gemaklik in Afrikaans te vertel.”

Die kunsresensent Paul Boekkooi skryf in Beeld: “Vir die Voëls is ’n lewensverrykende tydsdokument, ook ’n heel persoonlike een wat ons op die kronkelpad van die liefde neem, sonder om in ’n moeras van Afrikanersentiment vas te val óf deur ’n onverdedigbare idealisering van die verlede sy gesonde ingeslane koers te verloor.”

Simone Nortmann & Elize Cawood

Simone Nortmann & Elize Cawood

Dit is ook nie net Afrikaanse resensente wat beïndruk is met die fliek nie.

Volgens El Broide van People Magazine het die film soveel meer hart en emosie juis omdat dit op regte mense se verhaal gegrond is.  “It’s one of the best Afrikaans films of 2016 and the audience are bound to leave the cinema with a huge smile on their faces. This is a must-watch.”

Francois Jacobs

Francois Jacobs

Die resensiewebtuiste Spling het die fliek agt uit tien sterre gegee en onder meer geskryf:

The cast chemistry is fantastic, the production design is immersive, the nostalgic music will take people back, the story’s verve is infectious, the performances are charming and heartfelt, the cinematography is effortless, the screenwriting is deft, the themes are universal and the direction is sensitive yet sensible.”

Vir die Voëls is gegrond op die ware liefdesverhaal van Huisgenoot-lesers Irma en Sampie de Klerk van Newcastle. Irma het die leserswedstryd gewen waarmee inspirasie vir die draaiboek gesoek is. Huisgenoot het die fliek in samewerking met kykNET Films en The Film Factory vervaardig.