sarie snapchat
Hieroor praat mense

Volg SARIE op Snapchat en voel deel van ons tweede Modeskool!

Is jy hartseer omdat jy nie SARIE se tweede Modeskool kan bywoon nie? Wel, nou het jy rede om te glimlag, want jy kan ons op die sosialemedia-platform Snapchat volg om te sien wat gebeur terwyl en wanneer dit gebeur! Al wat jy moet doen is om SARIE (ons naam is SARIEtydskrif) op Snapchat te volg en jy kan al die hoogtepunte van dié geleentheid saam met ons geniet.

Snapchat 101

Wat is Snapchat?

Dit is ’n app waarmee jy teks, foto’s en video’s kan stuur. Anders as WhatsApp kan jy nie net aan vriende stuur nie, maar jy kan ook jou eie “storie” publiseer.

Dié app is verniet, maar wees gewaarsku – dit is baie verslawend en vreet vinnig jou data as jy eers ’n Snapchatter raak!

Wat maak dit anders? 

Wanneer jy ’n boodskap aan ’n vriend stuur, hou dit net vir ’n paar sekondes (tussen 1 – 10 sekondes, jy kan dit stel) nadat dit oopgemaak is. Daarna verdwyn dit in die niet.

Die ontvanger kan ’n skermgreep (screenshot) van jou boodskap neem, maar jy kry dan ’n boodskap om jou daarvan in kennis te stel.

Wanneer jy jou “storie” publiseer, hou daardie foto’s en video’s net vir 24 uur en daarna verdwyn dit, net soos jou boodskappe.

*Jy kan wel jou eie foto’s en video’s op jou foon stoor voordat jy dit aanstuur.

Waarom Snapchat?

Dit gaan nie noodwendig ’n groot leemte in jou lewe vul nie, maar dit is hope pret. Dit het verskillende “filters” wat byna daagliks verander – kyk direk in jou voorste kamera (waarmee jy gewoonlik ’n selfie sal neem), druk op jou gesig en kies jou filter!

Becky G op Snapchat

Becky G op Snapchat

Doen dit só

Laai Snapchat op jou foon af en skep vir jou ’n rekening met ’n naam en wagwoordVolg die stappe om jou vriende op te spoor wat ook Snapchat-rekeninge het.

Skerm 1: Kamera

Kyk direk na die skerm en druk met jou vinger op jou gesig. Sodra Snapchat jou gesig se buitelyne trek, sal die filters in sirkels onder-aan die skerm verskyn – wees ’n blomkind, ’n hondjie of ruil gesigte met iemand! Hulle laai byna daagliks nuwe filters en maak ook filters vir spesiale geleenthede soos groot sportgebeure.

Screenshot_2016-07-12-13-34-37

 

Druk op die blou pyltjie regs en jy word na ’n volgende skerm herlei. Hier kan jy kies om dit te stuur na ’n vriend of om jou storie onder “My Story” te publiseer.

Skerm 2: Jou vriende

Trek jou skerm na regs en jou vriende sal hier verskyn. Hier kan jy sien wat hulle vir jou stuur en ook vir hulle teksboodskappe stuur.

Skerm 3: Stories

Trek jou skerm na links en hier kan jy die stories sien van almal wat jy volg. (Nie almal kies om stories te publiseer nie.) Hier sal jy die nuutste goed sien wat SARIE deel!

Skerm 4: Soek vir SARIEtydskrif

Trek jou skerm na onder. Hier kan jy jou profielfoto in die spokie verander en vriende soek. Klik op “Add Friends”, “Add by username” en tik SARIEtydskrif in.

Hier’s ook ’n video wat kan help

Sien julle daar, Snapchatters!