Hieroor praat mense

Vriendskap is weelde

Met jou wye wit glimlag het jy in my hart kom nesmaak. Ons het ure gesels asof daar geen kultuurgrense of grootwordverskille was nie. In die moeilikste tyd was dit jy wat my teruggedokter het na die lewe met tee en broodjies. Dis jy wat die mure om my hart geïgnoreer en help afbreek het. Jy wat my kinders liefhet soos jou eie. Dis oor jou wat die trane gerol het toe ons trek gelaai is, dis na jou wat ek baie dae verlang. Jy het my geleer wat ek is, is net genade, en wat ek het, is net geleen. Ek mis jou my Emily-engelvriendin; vandag weet ek vriendskap is weelde.

Rosa Duvenhage, Hartenbos

  • Zaan

    Vriende is weelde, maar hoekom is dit, soos wat ons van ons Hoërskole afskeid neem so neem ons ook afskeid van ons vriende? Ek bly in dieselfde dorp as baie van my vriende maar sien die wat in ander dorpe bly meer, dis vir my baie vreemd hoe ons kies.

    Eers bly die groepie bymekaar, dan begin dié een werk en daai een toer. Dan raak die ander een verloof en die een wat klaar getroud is, verwag haar eerste… Ek ag myself vreeslik gelukkig dat ek al 10 jaar klaar is met skool en nogsteeds gelukkig genoeg is om van my vriende wat ek daar gemaak het nogsteeds te kan ken! Ek glo wat jou ‘n goeie vriend maak is nie noodwendig daaglikse kuiertjies, verjaarsdaggeskenke en blomme in die hospitaal nie, dis ‘n gevoel tussen mense, dat wanneer jy gelukkig genoeg is om ‘n koppie koffie te kan inpas in ‘n anders warrelende dag, jy jou hart kan uitstort en daai meisiekind wees wat nou vervang is deur die werkende, skeppende, georganiseerde, moeder en vrou. Jou vriende ken jou – nie wie jy vir die wêreld wys nie! En vir daai vriende is ek oneindig dankbaar.

    🙂

  • Dianne Paxton

    Wat baie belangrik is in enige vriendskap is eerlikheid en opregtheid. Wees wie jy is sonder om pretensieus te wees. Wees net jouself. Die klein dingetjies tel wel. n Eenvoudige ding soos ‘n sms om te se "ek dink vandag aan jou" of "watter plannne het jy vir vandag" Moenie vriende ken met die doel om iets daaruit te kry nie maar eerder om te kyk wat jy in ‘n vrienskap kan insit. Vriendkap is verniet, maar as mens dit verloor, voel dit asof jy iets baie kosbaars verloor het.