sr08moodsgreen01rz
Hieroor praat mense

Vrou skenk borsmelk ná miskraam

’n Amerikaanse vrou het haar seer in ’n seëning verander toe sy ná haar miskraam haar borsmelk aan vroeggebore babas geskenk het, berig Daily Mail.

In 2010 was Amy Anderson swanger met haar derde kind, Bryson. Hy het ongelukkig tydens haar tweede trimester in haar baarmoeder gesterf. Toe sy ná 20 weke van die fetus verlos is, het haar liggaam gereageer asof sy die lewe aan ’n gesonde baba geskenk het en melk begin afskei.

Dokters het haar aangeraai om haar borste op te bind ten einde die laktasie-proses te stop, maar dié raad het op dowe ore geval. Pleks daarvan het Amy ter ere van die baba wat sy verloor het oor ’n tydperk van agt maande byna 358 liter borsmelk afgeskei en opgevang en só gehelp om talle jong lewens te red. Borsmelk verskaf noodsaaklike voedingstowwe aan babas in hul vroeë ontwikkelingstadiums en help ook om hul immuniteit te versterk.

Volgens Aol het die melkafskeidingsproses Amy verlig en kalm laat voel. Dit het haar ook na aan Bryson laat voel en haar herinner aan hoe spesiaal dit was om haar oudste seun te borsvoed. Sy sê dit het “reg gevoel” en betekenis aan Bryson se lewe gegee.

Haar melk is aan twee melkbanke geskenk en het kinders in minstens drie lande gehelp.

Amy doen tans aanlyn vrywilligerdiens vir ’n melkbank, Mothers’ Milk Bank, waar sy onder meer raad gee oor borsvoeding.

Indien jy betrokke wil raak, besoek gerus die Suid-Afrikaanse Borsmelkreserwebank

Bronne: Aol en Daily Mail

Lees ook

ZZZ

Lees meer hier!