41qfsptcw_l
Hieroor praat mense

Sielkundige praat oor Lance Armstrong + VIDEO

Hoe verklaar jy eerstens die leuens, en nou Armstrong se eerlikheid?
Die eenvoudige rede kan wees dat goeie mense ook verkeerde goed kan doen, trouens dit gebeur gereeld. Mense maak gruwelike foute, selfs internasionale fenomene soos Armstrong. En in die binnekringe van hoogs kompeterende sport is die verleiding van maniere om jou nóg beter te maak, konstant. 

Maar hoekom die lang ontkenning?
Ongelukkig gebeur dit dikwels dat dinge baie vinnig handuit ruk, en kort voor lank kom jy in die posisie waar jy moet besluit: Is dit beter om nou eerlik te wees ter wille van my gewete, of om my familie se inkomste te verloor, of kankerpasiënte te na te kom oor borgskappe wat onttrek word?   

Of dalk was dit net eenvoudig te moeilik om afstand te doen van die beeld as superster, humanis, dapper kanker-rolmodel en algemene held. En dit is nie die eerste keer dat dié verhaal hom in die lewe van ’n groot sportheld afspeel nie. Dink byvoorbeeld aan Hansie Cronjé en Joost van der Westhuizen …

Gaan dit dalk dieper?
Armstrong se persoonlike lewe is bekend genoeg om te weet dat hy as kind en jongmens ’n lang pad van verwerping gestap het, en dat hy alles in sy vermoë gedoen het om sy openbare beeld te beskerm. Daar is baie navorsing wat wys dat mense met ’n soortgelyke patroon dikwels diep gevoelens van skaamte en ’n lae selfbeeld het – en dan gewoonlik obsessief probeer om so goed moontlik vir ander voor te kom.

Kyk hier die begin van Lance se onderhoud met Oprah. Sy vra die moeilike vrae!

** Oprah se twee onderhoude met Lance word Donderdag en Vrydag om 04:00 op haar webtuiste Oprah.com uitgesaai. Dit word ook Vrydag en Saterdag om 19:30 op die DStv-kanaal TLC (kanaal 172) gewys.

NUWE REEKS! Verstaan jouself en ander beter.

Die bekende televisiepersoonlikheid, Lise Swart, en haar verloofde, Louis Awerbuck, ‘n kliniese sielkundige, is die aanbieders van ‘n splinternuwe radiogeselsprogram, Wie is ek? – met Louis & Lise. Die program fokus daarop om die gewone man op straat kennis en insig te gee in belangrike kwessies oor menslike gedrag. Kwellende vrae oor dié kwessies soos angstigheid en depressie word op ‘n eenvoudige en toeganklike manier aan Jan Publiek verduidelik.

  • bekkie

    dis alles maar net die begeerlikheid na die vlees.om ge sien en erken te word in die samelewing.
    bedrieglik is die hart bo alles,die mens se natuur is maar aanvaarding….en dis die grootste vyand van die mens die eie EK

  • Alice Hendriks

    Lieg. Bedrieg. Bieg. Het ‘n mens regtig ‘n sielkundige nodig om dit uit te lê? Daar is baie mense wat uit haglike omstandighede kom, maar nie die pad loop nie. Verwerping, kanker, wat ookal: dis nie ‘n verskoning vir bedrog nie. Ons almal maak foute. Maar, as ‘n mens op só ‘n skaal by herhaling dieselfde ‘fout’ doelbewus maak en daarmee die hele sportwêreld onder nog méér verdenking bring, is geen verskoning goed genoeg nie en kan geen biegsessie die skade herstel nie. Weersinwekkend is die woord.

  • Ekweetals

    GEEN gesonde persoon , en nog minder enige "na-kanker’ persoon kon met al die hulpmiddels wat Lance gebruik het, ooit sy fenomenale triomf ewenaar nie! Sal ook nooit kan nie, so eer die man vir sy ongekende deursettingsvermoë en dryfkrag!
    Lance Forever!

  • Pops

    Waar kan ek duidelikheid kry oor Lance en die opkikkers? Wat my betref is ek seker daar is BAIE van die fietsreyers wat goed is en al gebruik hulle opkikkers sal hulle nog nie so goed kan doen soos wat Lance vemag het nie…………….Wat van as dit oopgestel word dat almal maar opkikkers mag gebruik, dan kan gesien word wie werklik n kampieon is in die spesifieke sport??? Of is ek nou heeltemal die klits kwyt???

  • girlhappy

    Voor ons kritiseer, kom ons ry ‘n myl in Lance se skoene. Ons "gewone" mense kan ons oortredings vir die buitewêreld wegsteek, privaat is meestal nog privaat; die "beroemdes" het egter nie daardie voorreg nie. En nee, ek is nie ‘n Lance Armstrong aanhanger nie, my goeiste, ek is nie eers ‘n sportliefhebber nie. Die publiek se valse sug na bloed het my egter nog altyd dwars in die krop gesteek. Na my mening is ons elkeen se flaters ‘n saak tussen ons en ons Skepper. Punt. ONS werk is om meer vir ons helde te bid, meer lief te hê en te vergewe. Los maar die oordeel, dis onse liewe Vader se departement.

  • CJ

    Ek weet ‘n mens mag nie oordeel nie, dit is nie ons plek nie.
    God alleen oordeel.
    Ek is egter van opinie dat mense soms te veel dinge die skuld gee vir hulle foute.
    Om iets te misbruik is ‘n keuse en jy weet tog jy doen verkeerd die eerste keer wat jy dit doen.
    Wat jou motivering ook al is. Jy moet mos weet dit is onwettig en kan op niks goeds uitloop nie.

    Mense moet eerder verantwoordelikheid aanvaar vir hulle eie aksies as om verskonings te soek.

  • Frans

    Ek is jammer om jou mee te deel dat sulke mense oneerlik is en soos diewe optree wat eer, roem en geld van ‘n ander eerlike deelnemer wat dit opreg en eerlik verdien het gesteel het. Jy kan nie teen mense kompeteer wat opkikkers gebruik en verwag dat jy kompetiesie vir hul gaan wees nie.
    Dit is om soos ‘n gewone padvaardige motor teen ‘n renmotor te laat kompeteer.

    Hulle verdien dit nie om daar te wees nie. Hul doen alle sport en ander mense in die samelewing die grootste skade en onguns aan.

    Dit is vals, oneerlik en krimeneel.
    Baie ander goeie sportmense het opgehou kompeteer omdat hulle nie opkikkers wil gebruik nie en doodeenvoudig nie gestand teen die druggies kan kompeteer en sulke super resultate kan lewer nie.

    Gaan kyk in die sport wereld, veral die profesionele sport wereld. Dan gaan jy sien dat feitlik al die top presteerders is op die een of ander tiepe opkikker van anaboliese steroiede en kreatien wat dieselfde newe effekte het maar net 2x langer neem voordat dit begin intree. Newe effekte is alle van verskillende kankers tot hartaanvalle en vetsug na die tyd. Kanker veral in die uriene stelsel en al die endrokieme organe is dikwels die gevolg.

    Die sogenaamde EPO maak weer dat jou bloed meer hemoglobien dra wat die suurstof dra vermoe verhoog. Dit veroorsaak bloedklont agtige verskeining veral wanner die atlede ontwater. Omlangs was daar ‘n bekende rugby speler wat ‘n tyd lank met die probleem gesit het wat kamtig oor erflik was.
    Ook is ‘n jong Suid Afrikaanse fietsryer in Europa oorlede terwyl Robbie Hunter hom finansieel probeer help het vir behandeling.

    Die atlete speel met vuur as daar nie ‘n mediese dokter is wat hul bystaan en die situasie monitor nie. Dit is op die korte termyn. Op die kort lang termyn word hulle meestal nie baie oud nie.Die skade aan jou liggaam is enorm en onvoorsienbaar. Look good, do good and die young konsep is ‘n doodsvonnis en baie verdriet vir daai mense se famielies en geliefdes.

  • Linda

    Ware woorde Bekkie, om mense te lieg en bedrieg gaan hand aan hand met ‘me,myself ‘n I’, ‘EK gee nie om wie kry seer solank EK baat daaruit’. Wat my verder hewig omkrap is dat diè soort mense altyd sal sè, "maar eintlik is ek ‘n goeie mens, ek het net ‘n verkeerde ding gedoen", huh??, nee, jy is NIE ‘n goeie mens nie, jy het geen respek vir jouself of jou medemens nie, jy gee om vir niks of niemand behalwe jouself nie, wat maak jou dan so goed?! Goeie mense maak nie ander seer nie, punt!! As Lance ook sooo ‘jammer’ is oor wat hy gedoen het, hoekom dit dan vir sooo lank doen en dan ook ontken? Het hy nie vir een oomblik met sy bedriegspel aan sy mede fietsryers gedink nie, die ure se harde oefening, die geld wat hulle moes uitgehaal het, my simpatie lè by die ou wat 2de gekom het, wat eintlik 1ste sou of moes wees en al die borgskappe, wengeld ens. moes gewen het. Selfsug is nie goed nie en nog minder maak dit die ou wat dit uitleef ”n goeie mens’. As jy bereid is om als oorboord te gooi, wetend wat jy doen verkeerd is en iemand anders as gevolg daarvan seermaak of te nakom, moenie jouself beskou as ‘n ‘goeie mens’ nie, jy is plat en plein ‘n lae skepsel wat geen respek of simpatie verdien nie.