FOTO Olympics

FOTO Olympics

Hieroor praat mense

Wat hou Chad se toekoms in?

Graham Hill is ná veertien jaar nie meer Suid-Afrika se veelbekroonde Olimpiese swemkampioen Chad le Clos se afrigter nie – en dít kan twee kante toe gaan, meen Christo Spies, ’n sportsielkundige van Bloemfontein.

“Soms is dit ’n goeie ding as iemand van afrigter verander, net om sake uit ’n ander hoek te benader, maar dit kan ook ’n groot aanpassing vir atlete wees,” meen hy.

Hy vertel van die Kanadese tennisspeler Eugenie Bouchard wat heeltemal platgeval het nadat sy haar afrigter van ses jaar gelos het. Sy het toe weer teruggekeer na haar oorspronklike afrigter.

Chad het die aankondiging op sy webtuiste gedeel en ook sy afrigter op sosiale media bedank.

“As jy kyk na ons Olimpiese gouemedalje-houer in die 400 m, Wayde van Niekerk, en sy afrigter, tannie Ans, gaan dit nie net oor die tegniese afrigting nie. Dit strek veel wyer – daar is naderhand ’n soort magic wat tussen afrigter en speler gebeur. En dít kan nie sommer dadelik opgebou word tussen ’n nuwe afrigter en atleet nie,” meen Christo.

FOTO Twitter

FOTO Twitter

Andrew Lewis, ’n sportsielkundige van Somerset-Wes en Stellenbosch, reken vertroue en respek is die belangrikste dinge tussen die afrigter en atleet.

“Deur die jare is daar baie gedeelde vreugdes, maar ook mislukkings, waardeur albei ‘werk’. Albei ontwikkel ’n gevoel vir mekaar. Chad is dapper om ’n nuwe afrigter te kry, want dít is nie dinge wat ’n mens sommer vinnig opbou nie. Dit hang natuurlik af wie jy kies. Hy kan makliker by ’n afrigter aanpas met baie ervaring en iemand wat hom ken, en omgekeerd. En soos hul vertroue groei, sal die band verstewig en tot sy voordeel strek.”

Christo en Andrew reken albei: “Die tyd sal leer wat gaan gebeur …”

Bronne: lewisandrew@mweb.co.za; Christo@christospies.com

Lees nou

Ernst kry sy goud!

Wayde van Niekerk se goue hart

Dís wat Usain vir Wayde gesê het