huis

FOTO Inge Prins

Hieroor praat mense

Wat jy moet weet oor jou huis voor jy weggaan vir die vakansie

Volgende in ons “wat jy moet weet”-reeks is wenke vir hoe jy jou huis moet laat as jy weggaan vir die vakansie. Wees voorbereid sodat jy nie die huis inderhaas verlaat en ná die tyd wonder of jy ’n venster toegemaak het of die geiser afgeskakel het nie. Gaan deur dié maklike stappe en kom terug by ’n huis wat reg is vir 2017!

Lees verder vir ons wen-wenke:

Kombuis en badkamer

1. Maak seker jy gooi alle vullis weg voor jy die huis verlaat.

2. Skenk al jou bederfbare kos aan behoeftiges.

3. Sit jou bad- en wasbakproppe in sodat geen kruipers deur die drein in die huis in kan klim nie.

4. Stel die temperatuur van jou yskas laer of aktiveer die “vakansie”-stelling as jou yskas dit het. As jou huis met koopkrag werk, maak seker daar is genoeg eenhede vir die yskas om aan te bly.

5. Los jou wasmasjien, skottelgoedwasser en tuimeldroeër se deure oop om ’n muf-reuk te voorkom.

FOTO: Henk Hattingh

FOTO: Henk Hattingh

Diere en plante

1. Moenie van jou diere vergeet nie! Reël dat jou diere kos het en versorg is.

2. Gebruik ’n ou 2 l-bottel en maak dit vol water. Steek ’n klein gaatjie in die prop en dop die bottel om met die prop onder die bodem van jou potplant of huistuin se grond. Hierdie bottel sal regdeur die vakansie druppel vir druppel uitloop en jou plante genoeg water gee. As dit ’n klein plantjie is, gebruik ’n kleiner bottel.

3. Jy kan ook ’n bietjie water in die bad tap en jou plante daarin los. Die plant se wortels sal drink soos dit dors word.

FOTO: Henk Hattingh

FOTO: Henk Hattingh

Algemeen

1. Kanselleer jou koerantintekening tydelik of laat dit by iemand anders aflewer. Vra ook dat iemand anders jou pos uithaal as jy straataflewering het.

2. WEN-WENK: Dit is die perfekte tyd om jou huis te “fog”. Belê in ’n fogger en sit hom aan die werk voor jy die huis verlaat. Teen die tyd dat jy weer tuis is, sal daar net ’n ligte reuk in die lug hang, maar dit is nie skadelik nie. Dis glad nie nodig om beddegoed, klere of eetgerei te was nie. Lees die aanwysings op die bottel voor jy dit gebruik. Jou huis is skoon en gereed vir 2017!

3. Bedek jou swembad om minder water te verloor hierdie somer. Koop ook ’n chloor-houer wat dryf sodat die water nie groen is as jy terugkom nie.

4. Erken nou al dat jy nie lus gaan wees vir beddegoed was en beddens oortrek nie, so was voor jou vakansie en trek jou bed oor met skoon beddegoed. Jy gaan baie dankbaar wees as jy in jou vakansieluim terugkom en in ’n skoon bed inklim.

5. Skakel al jou onnodige proppe af en trek die kragprop uit – dis byna net nodig dat jou yskas en jou alarmstelsel aangeskakel is.

FOTO: Henk Hattingh

FOTO: Henk Hattingh

Veiligheid

1. As jy wil, dink daaraan om ’n kragprop te koop wat jy kan stel om ’n sekere tyd in die dag of nag aan en af te gaan. Sodoende lyk dit of iemand tuis is en die huis nie leeg is nie. Hierdie proppe is te kry by ysterwarewinkels.

2. ’n Slim wenk is om jou waardevolle besittings in die huis weg te steek – moenie alles in die kluis toesluit nie. Maak net seker jy skryf neer waar jy alles bêre, sodat jy nie later daardie mooi hangertjie in jou bed raakslaap nie!

3. Maak veral seker jy weet waar is jou ekstra sleutels sodat jy aanwysings kan gee sou iets gebeur.

4. Maak seker jy het die nommer van jou buurtwag, bure of iemand wat naby woon.

#WatJyMoetWeet

Lees nou

Wat jy moet weet oor threading