FOTO: Instagram @yoga_girl

FOTO: Instagram @yoga_girl

Hieroor praat mense

Wat is mindfulness?

Bewustheid (mindfulness). Dis tans die gróót gonswoord. Dit bied ’n oplossing vir ons gejaagdheid; die geraas in ons kop. Dis ook ’n teenvoeter vir ons nuutste kwaal: digitale uitbranding. 

Dit het die wêreld aan’t praat.

Mindfulness.

In Afrikaans probeer ons dit vasvat met die woord “aandagtigheid”. Die digter Breyten Breytenbach het voorgestel ons praat van “bewustheid”.

Artikels hieroor verskyn gereeld in onder meer The New York Times, The Huffington Post en National Geographic. Die nuustydskrif TIME het verlede jaar ’n voorblad-artikel, “The Mindfulness Revolution”, gehad.

By Google, ’n maatskappy bekend daarvoor dat hy uit die boks dink, leer werknemers dit as deel van ’n “ondersoek jouself ”-kursus. Dis ’n nuutjie by styweboordjie, tradisionele
Britse instellings. Britse parlementslede en ook werknemers by die Bank van Engeland doen kursusse daarin.

Entrepreneurs in Silicon Valley (tuiste van die wêreld se grootste tegnologie-maatskappye in San Francisco) en Fortune 500-maatskappye (die gelyknamige tydskrif se lys van top- Amerikaanse ondernemings) span dit in. Selfs die Amerikaanse Pentagon het geld toegeken vir navorsing oor hoe dit seesoldate kan help om in konfliksituasies kop te hou.

Bewustheid word wêreldwyd gebruik om mense met stres, pyn, angs, depressie, eetsteurings, alkoholisme en ander verslawings te help. Studies toon dit help om jou bloeddruk te verlaag, jou immuniteit te versterk en om jou meer positief te maak. “As dit ’n pil was, het dokters dit voorgeskryf,” sê Casper Oelofsen van Mindful Leadership, ’n
maatskappy wat landwyd korporatiewe kursusse in bewustheid aanbied.

Wat beteken mindfulness? 

Mindfulness is ’n eenvoudige tegniek om die huidige oomblik (nóú) meer bewustelik, met
deernis en nuuskierigheid te benader. Sodat jy minder verstrengel raak in dinge wat in die verlede gebeur het, of wat dalk in die toekoms kan gebeur.

Alle mense tob oor die verlede of toekoms, want dis maar hoe die brein werk. Bewustheid is die vermoë om jou gedagtes en lyf dop te hou. Om sensasies, gedagtes en gevoelens te beleef en weer te laat gaan sonder om in die gewoonte te verval om alles te evalueer en te beoordeel. Dis om intens op jou eie gedagtes te fokus – en dan met volgehoue konsentrasie jou aandag na iets anders te verplaas.

Jy kan dit kweek

Goed, dit klink na iets wat jy graag sou wou probeer. Dalk het jy al, maar jy kan net nie die mal apie-geklets van jou oorwerkte brein stilkry nie. Moenie alleen voel nie. Om jou gedagte-maalkolk te tem is nie maklik nie, sê Casper. Bewustheid is nie ’n gewoonte nie. Jy moet dit oefen, dit kweek.

“Ek leer die meeste daarvan by my dogtertjie, Elizabeth (10). Toe sy kleiner was, sou sy vra ek moet met haar speel. Ek het dit gedoen, met my oog op my e-posse en die TV-nuus. Sy het aanhou vra, tot ons albei se frustrasie. Tot ek besef het: Stop, los alles en wees net dáár. Dís die beginsel van bewustheid. Ek sou my volle aandag vir vyf minute gee en sy was meer as tevrede. Sy sou eers weer môre vra ons moet speel. Ek het die waarde en mag van die oomblik besef.”

Jy doen dit reeds… 

Gewoonlik in oomblikke waar jy voel wow, die tyd staan stil. Die natuur, musiek en dans is veral bevorderlik daarvoor.

Al ooit in die bad gelê en skielik was jou kop vol nuwe idees? Studies wys dit is heeltyd daar. Maar eers as jy rustig raak, kry daardie idees ’n gaping om na die oppervlak te kom.

Bron: Karen Fitzgerald van Pretoria, in die pylvak vir haar doktorsgraad in die neurowetenskap aan die Universiteit van Kaapstad.

Dié inligting kom uit die artikel “Kuur vir jou foon-tamheid” in ons Maart 2015-uitgawe. Die uitgawe is nie meer op die rak nie, maar kan steeds digitaal afgelaai word om op jou rekenaar, tablet of slimfoon te lees – klik HIER.

Lees ook