Diaan Lawrenson en Desiré Gardner op ons Augustus 2015-voorblad

Diaan Lawrenson en Desiré Gardner op ons Augustus 2015-voorblad

Hieroor praat mense

Wat sê Michélle, Diaan en Desiré oor ons splinternuwe mashoof?

Ons Augustus-uitgawe spog met ’n splinternuwe mashoof!

SARIE is ’n wêreld van inspirasie en verdien ’n nuwe mashoof – die 1ste sedert 2002! Dié logo sê in ’n oogwink waarvoor die tydskrif en elke leser staan: rooi vir passie en energie, die blok vir modern, die S vir stylvol en sensueel (ook SARIE), en die trefreël ons inspirasie belowe sáám is ons sterker, beter!

SARIE se redakteur, Michélle van Breda, sê

Presies 66 jaar gelede het die eerste Sarie Marais met groot geskal op die tydskrifrak in SA beland – meestal swart-wit, maar o!, so elegant met ’n swierige logo en 2 gesigte op die voorblad. ’n Uitgawe om te onthou, want binne ’n enkele dag het elke liewe eksemplaar landwyd uitverkoop.

Wel, hier’s nou nóg ’n onthou-SARIE! Augustus se uitgawe spog dié keer met ’n splinternuwe sexy logo, en weer 2 gesigte op die voorblad: twee SA sterre wat nog nooit voorheen saam afgeneem is nie en toe sommer dadelik voor ons kamera gekliek het. En ons viér Vrouemaand met nagenoeg 50 vroue in ons kollig, van die voorblad tot die agterblad. Aktrises, fotograwe, skrywers, dokters, vriendinne, ma’s, avonturiers, prokureurs, entrepreneurs, aktiviste, skoonheidskoninginne, voorbladgesigte, atlete. Vroue wat ons inspireer, bly maak en trots maak.

Dís die vrou wat deel is van ons SARIE-Wêreld. Sy’s nog net so vurig soos die vrou wat in 1949 vir die eerste keer daardie ikoniese Sarie Marais opgetel het. Geniet jou nuwe SARIE!

Ons pragtige voorbladsterre, Diaan Lawrenson en Desiré Gardner sê

Wow! Wat ’n absolute voorreg om deel van SARIE se nuwe voorkoms te wees. Die nuwe mashoof is vars, modern en tydloos. Viva SARIE Tydskrif! Dankie aan die A-Team vir die mooi voorblad. Al was Desiré bietjie siek, was sy ongelooflik professioneel en ’n ware “trooper”. Ons het verskriklik lekker saam gelag. Pret is die geheim tot groot sukses!

-         Diaan

Die voorbladsessie was ’n ongelooflike voorreg, nie net om op SARIE te wees nie – maar om op die NUWE SARIE te wees. Ek en Diaan het só lekker gelag, en sy is ’n groot inspirasie en iemand na wie ek opkyk in die vermaaklikheidsbedryf. Die span agter die skerms het my baie gemaklik laat voel, en my verskriklik mooi laat lyk. Hierdie is definitief een van die tydskrifte wat ek gaan bêre sodat ek dit eendag vir my kleinkinders kan wys.

-          Desiré