FOTO: Simon Deiner / SDR

FOTO: Simon Deiner / SDR

Hieroor praat mense

Wet teen té maer modelle

Weg met modellyfies wat soos takkies in die wind breek!

Die Franse het onlangs ’n wet aanvaar wat bepaal oormaer modelle sal nie meer geduld word nie. Modelbase wat modelle in diens neem wat anorekties lyk, kan met tot 75 000 euro (sowat R1 317 343) of ses maande tronkstraf beboet word.

Wat is té maer? Volgens ’n artikel op BBC sal dokters in Frankryk dié besluit neem op grond van modelle se gewig, ouderdom en liggaamstipe. Die wet bepaal ook as daar aan ’n model se silhoeët gepeuter word (soos wanneer haar liggaamsvorm oormaer gemanipuleer word met rekenaarprogramme), moet dit aangedui word (in byvoorbeeld mode-artikels).

Spanje en Israel het reeds soortgelyke wette. Die eetsteuring anoreksie is wêreldwyd ’n probleem. In Frankryk ly sowat 30 000 tot 40 000 mense, waarvan 90 persent vroue is, daaraan.

Die Australiese model Laura Wells het trouens al in Australian Women’s Weekly gesê van haar kollegas volg ekstreme kitsdiëte voor groot modeweke. Eetlusdempers word ingespan wanneer modelagente dié meisies maan om gewig te verloor. Hulle mag soms net ’n paar beskuitjies en baie glase water per dag inneem. “Dit is heeltemal ongesond – fisiek én emosioneel,’’ reken Laura.

Katryn Kies, een van Suid-Afrika se top- internasionale modelle, sê: “Die Franse wet is ’n gawe gedagte, dankie, maar of dit werklik toegepas gaan word, is ’n ander saak. Ek sal eers werklik beïndruk wees as ek sién dat die wet toegepas word. Dit is belangrik om ’n goeie rolmodel te wees. Deesdae, met die sterk invloed van sosiale media, is die druk op tieners en modelle iets vreesliks. Die wet is dus die eerste stap na die praktiese uitvoering daarvan. Ek hou dit met belangstelling dop, veral omdat die Franse eintlik die pas aangee in die modebedryf.’’

Die Suid-Afrikaanse neigingskenner Chris Reid, verbonde aan die Internasionale Trend-instituut in Durban, meen die Amerikaanse model Crystal Renn en die plusgroot Amerikaner Tess Holliday het ’n sterk leiersrol gespeel in die “beweging na ’n positiewe liggaamsbeeld”. Die uitwerking hiervan op die modebedryf? “Reekse vir groter vroue sal meer aandag kry. Maar diegene wat hulle beywer vir hoogmode op die loopplank sal vir seker nie dié wet omarm nie. In Suid-Afrika word real modelle gebruik, maar die neiging is steeds in die guns van die supermaeres,” sê Chris.

FOTO: Simon Deiner / SDR

FOTO: Simon Deiner / SDR

Sy ontvang dit met ope arms, sê Jackie Burger, modekenner en eienaar van die styl-en-mode-onderneming Salon 58. “Te maer modelle sorg al dekades lank vir debatte. Modelle wat té dun is, veroorsaak geweldige groepsdruk. Dit is so belangrik vir vroue om aan ’n gesonde selfbeeld te werk en ons selfvertroue minder te skoei op modelle en celebs se voorkoms. Hulle leef in ’n glanswêreld van tower en tooi – dit is nie realisties nie.”

Een van SARIE se voorbladmodelle van verlede jaar, Portia Moemedi, dra ’n nr. 34-kleregrootte, maar ’n paar maande gelede het ’n swembroek-adverteerder vir haar laat verstaan sy is ’n plusgroot model.

‘Modelle sal enigiets doen om maer te wees en werk te kry.’

- Portia Moemedi, SARIE Voorbladfinalis 2015

Sy is 1,70 meter lank en weeg 58 kg.”Ek dra nie eens ’n nr. 36-kleregrootte nie en dink definitief nie ek is ’n ‘groter model’ nie.”

FOTO: Leana Clunies-Ross

FOTO: Leana Clunies-Ross

“Ek stem 100 persent met die Franse saam. Dit is hoog tyd dat die modebedryf se persepsies van skoonheid verander. Modelle sal enigiets doen om maer te bly sodat hulle werk kry. Dit is nié gesond nie. Gelukkig gebruik moderedakteurs en heelwat kreatiewe mense vir advertensies al hoe meer vroue met gesonde lywe. Maar ontwerpers wil letterlik ‘lopende klerehangers’ hê vir hul skeppings op die loopplank. Of dié wet dus daardie modelle se lewens gaan verander? Ek wonder …,” sê Portia.

Lees nou

Gorilla geskiet – reg of verkeerd?

Duurder brandstof: spaar só