hoener met die rooi skoene
Hieroor praat mense

WEN kaartjies na ’n voorskou van Koos Roets se Hoener met die rooi skoene

Dis nie ’n kinderstorie of ’n feëverhaal nie. Ook nie ’n drama nie, maar ’n riller-komedie wat jou tone sal laat krul van plesier.

Lizz Meiring, wat die rol van Bonnie van der Byl vertolk in dié nuwe rolprent deur die bekende filmmaker Koos Roets, sê: “Die karakters is uniek en die draaiboek oorspronklik en magies. Net so fassinerend en eksentriek soos die onontdekte juweel-dorpie waar ons verfilm het – Klaarstroom, weggesteek in die hart van die Klein-Karoo.”

Bonnie is ’n ontvangsdame by die internasionaal bekende De Waal Teateragentskap. Terwyl sy een aand weer lustig voortklets op die foon, vermoor iemand haar baas, die suksesvolle maar minder gewilde sakeman en impresario Du Toit de Waal (Deon Lotz). 

Sy tref hom met ’n dolk in die rug op die kantoortafel agter haar aan en skakel die polisie. Maar by nadere ondersoek van haar bloeiende baas val sy flou. Wanneer sy met die flitslig van konstabel Mickey Mentz (André Weideman) in haar oë bykom, is die lyk skoonveld … 

Hiermee is die tafel gedek vir ’n spannende én skreeusnaakse riller-komedie vol kinkels waarin die ontvangsdame met haar bekkige papegaai, Napoleon, en die hoogs beneukte, geïrriteerde en grieperige speurder kaptein Hendrik Greyling (Louw Venter) sentraal staan. 

Tydens die ondervragingsessie ná die moord word al die interessante karakters op kantoor in ’n kloustrofobiese ruimte saamgegooi. En dis dan wanneer allerlei donker geheime onthul word … 

Soos dat Cecilia de Waal (Dorette Potgieter), die aantreklike, veel jonger vrou van die baas, meer as een skelmpie het, en dat sy ouer privaat-sekretaresse, Miss Enith Conradie (Lida Botha), al jare lank verlief is op hom. Daar is ook die ligsinnige Roxie Roos (Laré Birk), die baas se minder gewillige pretpoppie, en die sjarmante losbol Percy Celliers (Geon Nel). Die ouer klerk Harold Berrington-Smith (Flip Theron) is ’n tail gunner

En midde-in dié storm van verdagmakery en beledigings verskyn die baas se “lyk” dan weer skielik perdfris en gesond op die toneel.

“Dis nie ’n fliek wat mense lewenslesse leer nie. Ek het hierdie fliek gemaak met een doel voor oë: om mense te vermaak. Daar is genoeg nonsens in ons land waaroor almal hulle kwel. Mense moet ook net ’n bietjie kan terugsit, ontspan en lekker lag. Dis nou wanneer jy nie te veel skrik vir die moordenaar nie,” skerts Koos.

Maar hy waarsku: “Dis nie ’n tipiese slapstick-komedie nie. Niemand gooi iemand anders met ’n pastei nie. Die humor en snaakse insidente is toevallig. En die karakters eg – mense wat werklik kan bestaan.”

Roets se vorige prent was die gewilde ’n Pawpaw vir my darling.

Gasspelers soos Anton Goosen, Leon Ecroignard, Soli Philander en Goitsemang Lehbyeword maak ook hul verskyning in Hoener met die rooi skoene, wat op 27 Januarie 2017 landwyd vrygestel word. Dit word versprei deur Ster Kinekor Entertainment.

WEN!

Drie gelukkige SARIE.com-lesers kan dubbelkaartjies na die spesiale voorvertoning in Kaapstad wen.

Al wat jy moet doen is om jou besonderhede hieronder in te vul.

DATUM: 16 Januarie 2017

PLEK: Ster Kinekor, Tygervallei

TYD: 19:30 vir 20:00

DRAG: Formeel

Die kompetisie sluit op 12 Januarie 2017 om 12:00.

* Die prys sluit slegs kaartjies in. Enige ander onkoste is uitgesluit.

Wen kaartjies na Hoener met die Rooi Skoene