FOTO Jordan Davis

Hieroor praat mense

Woef se wonder-neus

Van kanker tot migraine en selfs narkolepsie. Honde kan ons waarsku as ons siek is.

Honde is bekend vir hul skerp reuksin. Met sowat 220 miljoen reukreseptore (teenoor mense se 5 miljoen) kan hulle dinge uitsnuffel waaroor ons nie eens kan droom nie. Daar is ongelooflike stories van hoe goed honde kan ruik. Op die internet lees jy van die dwelm-snuffelhond wat ’n plastiekhouer met 16 kg dagga ontdek het – in ’n petroltenk! Dan is daar Tucker, die tienjarige labrador wat moordwalvisse aan die Kanadese kus opspoor. Hy is opgelei om die reuk van hul mis uit te ken. Lees meer hier.

Jy weet lankal jou hond kan jou emosies “lees”. Nou wys al hoe meer studies hulle kan tekens van ernstige siektetoestande “uitruik”.

FOTO Rodion Kutsaev

Kanker

Jy’t dalk al gehoor van ’n hond wat gedurig sy baas se moesie wou lek. En dan word dit as kanker gediagnoseer! Navorsing toon dis dalk nie net bogstories nie. In ’n Amerikaanse studie (2006) is honde opgelei om kanker te bespeur – deur na asemmonsters te ruik. Hulle was 88% keer reg met borskanker, 99% met longkanker.

Migraine

Migraine-lyers is in ’n studie gevra of hulle voor ’n aanval enigsins ’n verandering in hul hond se gedrag waarneem, berig Psychology Today. Meer as die helfte van die 1 027 deelnemers het dit bevestig. Sowat 60% van hulle het gesê hul hond het hulle al op ’n komende aanval bedag gemaak.

Lae bloedsuiker

Honde word toenemend gebruik om diabeteslyers bewus te maak van ’n daling of styging in hul bloedsuikervlakke. Hulle ruik isopreen – ’n chemiese stof in die liggaam wat beduidend styg as jou bloedsuiker laag is – in jou asem, volgens ’n studie in die joernaal Diabetes Care.

Narkolepsie

Dié breinafwyking tas jou vermoë aan om jou wakker-slaap-siklusse te beheer. Jy kan in die middel van ’n taak (soos terwyl jy bestuur!) aan die slaap raak, wat lewensgevaarlik kan wees. In ’n Spaanse studie het twee opgeleide honde 11 uit 12 narkolepsielyers aan die hand van sweetmonsters korrek geïdentifiseer.  

Epilepsie

Dokters kan dit nie verklaar nie, maar sommige epilepsielyers sê hul hond waarsku hulle wanneer hulle ’n toeval gaan kry. Honde kan nie opgelei word om toevalle te voorspel nie, volgens Jennifer Arnold, stigter van Canine Assistants in Georgia, Amerika. Wel om te reageer as dit gebeur. Maar 9 uit 10 dienshonde in haar organisasie ontwikkel binne ’n jaar ná hul plasing by ’n lyer vanself die vermoë, volgens webmd.com.

Bykomende bron: Mnn