Die Cedar-Riverside woonstelblok waar Musa Dayib 11 verdiepings ver geval het FOTO: Flickr

Hieroor praat mense

‘Wonderkind’ van 15 maande oorleef nadat hy 11 verdiepings val

Dokters noem hom die wonderkind, want niemand kan glo dat dié kleuter van 15 maande oorleef het nadat hy 11 verdiepings geval het nie, berig Daily News.

Musa Dayib (15 maande) het van die balkon van sy ouerhuis in ’n Minneapolis-behuisingsprojek in Amerika geval. Hy het harsingskudding opgedoen en het veelvuldige gebreekte bene, maar almal verwag dat hy sal herstel.

Volgens dr. Tina Slusher van die pediatriese eenheid by die Hennepin County Mediese Sentrum is dit onmoontlik om so ver te val en nie dood te wees nie.

Slusher, wat hom behandel het, reken babas se soepelheid, en die feit dat hy op ’n sagte deklaag geval het, was klein Musa se redding. Tog is dit steeds ’n wonderwerk dat hy lewe.

Musa het deur die tralies van hul woonstel se balkon geglip toe sy pa, Guled Ahmed, vir ’n oomblik binne-in die huis was om iets te kry. Sy ma, Faduma Abdullahi, was nie by die huis nie en die pa het Musa en sy driejarige sussie opgepas.

Albei kinders was binne-in die woonstel, maar toe hul pa uit die kamer was, het die dogtertjie die glasdeur oopgeskuif voordat Musa uitgeglip het. Sy het dadelik na haar pa toe gehardloop om hom van die ongeluk te vertel.

BRONNE: Daily News & Star Tribune