FOTO Instagram / @zaynmalik

FOTO Instagram / @zaynmalik

Hieroor praat mense

Zayn se geheim: ‘Ek het eetsteuring gehad’

Zayn Malik, eertydse lid van die boy band One Direction, verklap iets in sy nuwe outobiografie wat vir bewonderaars nuus gaan wees: Sy dieet-afwyking.

Die ster het met sy deelname aan die Britse TV-werklikheidsreeks The X Factor op die toneel gebars. Sy Labrador-bruin oë en cupid-bekkie laat die meisies aan sy voete tuimel. Sy besluit om die suksesvolle groep te verlaat vir ’n solo-loopbaan is aan die groot klok gehang. Só ook sy liefdeslewe, met supermodel Gigi Hadid wat nou sy nuutste liefie is.

FOTO Instagram @zayn

FOTO Instagram @zayn

Maar weg van sy gillende bewonderaars het hy met angs gesukkel en dae lank nie geëet nie. “As ek kyk na foto’s/video’s van myself in November 2014, kan ek sien hoe siek ek was. Ek het ’n dieet-afwyking gehad, iets waaroor ek nog nie vantevore gepraat het nie, maar waarmee ek myself versoen het sedert ek One Direction verlaat het, sê hy in ZAYN (Penguin Random House), pas gepubliseer.

Zayn het die multiplatinumgroep in 2015 verlaat ná hy verskeie optredes weens stres misgeloop het. Hy het vanjaar sy debuut-album, Mind of Mine, vrygestel.

In die laaste paar maande saam met die groep het sy dieetsiekte vererger. In ’n onderhoud met die Associated Press (via die BBC), sê hy: “Ek dink dit het oor beheer gegaan. Ek het gevoel ek het net beheer oor kos, niks anders nie. Ek het soveel gewig verloor, ek het siek geword.” Hy beskryf ook hoe angs hom gedwing het om groot solo-vertonings te kanselleer. Deesdae tree hy voor kleiner gehore op en gaan dit van daar af verder vat, sê hy.

Eetversteurings beïnvloed sowat 20 miljoen vroue en 10 miljoen mans in Amerika, volgens die land se nasionale vereniging vir dieetsiektes. Nuwe navorsing wil dit laat lyk asof die gaping tussen mans en vroue besig is om te krimp, berig CBS.

Dis nie asof meer mans deesdae ’n eetversteuring het nie, dis eerder dat meer mans nou hulp soek, sê Annemarie Louw, kliniekbestuurder by die Akeso Montrose Manor-kliniek in Kaapstad. Dis beslis nie net vroue wat dié siektes kry nie – sowat 25-40% van lyers is mans. Omdat dit tradisioneel as ’n vrouesiekte gesien word, soek minder mans hulp.

Mans het dieselfde simptome as vroue. Ontevredenheid met die liggaam kan lei tot spesiale diëte, oefening in die gimnasium, aanvullings of gebruik van middels om spiere op te bou. Mans begeer ’n lenige, gespierde liggaamsbou. Groepsdruk en die samelewing moedig dit aan: Die verwagting is dat mans taai en in beheer moet wees en ook so moet lyk.

Volgens haar is tienerseuns veral kwesbaar en hul individuele, fisieke ontwikkeling kan ’n sneller wees. Dis ’n fase waar seuns blootgestel word aan die persepsie oor wat ’n man moet wees en hoe hy moet lyk.

’n Belangrike simptoom is angs. Die ontwikkeling van ’n eetsteurnis het nie noodwendig net met ontevredenheid oor die liggaam te doen nie. Dit kan ’n manier wees om moeilike, ongemaklike emosies te hanteer. Soos Zayn genoem het, moes hy konserte weens angs kanselleer. Jy kan dalk nie die ongemaklike gevoelens beheer nie, maar wel jou eetpatrone. Die kan lei tot ’n obsessie, wat later alles oorheers, sê sy.

Die oorsake is dieselfde by mans en vroue

• Genetiese vatbaarheid

• Sielkundig: Slegte selfbeeld en liggaamsbeeld

• Omgewing: Moeilike gesinsverhoudings. Moontlike gespot oor gewig of liggaamsvorm. Sekere sportsoorte wat ’n spesifieke liggaamsbou of gewig vereis.

• Druk van samelewing

Kontak Akeso Montrose Manor se hulplyn: help@montrosemanor.co.za

021 7979270

www.montrosemanor.co.za

www.akeso.co.za