FOTO Twitter

FOTO Twitter

#SARIEsport

Zola Budd oor dáái val van 32 jaar gelede

Zola Budd en Mary Decker het mekaar in Maart vanjaar vir die eerste keer in 32 jaar van aangesig tot aangesig gesien. Hulle het ontmoet in die Los Angeles Memorial Coliseum, die einste stadion waar hulle 32 jaar gelede saam in daardie berugte 3 000 m-wedloop by die Olimpiese Spele gehardloop het.

Hul ontmoeting is deel van ’n dokumentêre rolprent, The Fall, oor die opspraakwekkende val van Mary Decker tydens dié item by die 1984-Spele. Die rolprent deur Sky Atlantic is op 27 Julie vanjaar in die Verenigde Koninkryk uitgereik, maar dis nog nie bekend wanneer dit in ander lande gesien sal word nie.

Budd was deel van die Britse span nadat die Londense koerant Daily Mail gehelp het dat sy vinnig haar burgerskap kry sodat sy internasionaal kon deelneem. Zola se oupa was Brits. Die koerant het natuurlik ook betaal vir Zola se storie. Zola was opgewonde om teen Mary Decker kragte te meet, want Decker was een van haar helde.

Op beeldmateriaal van die Olimpiese wedloop sien jy hoe ’n kaalvoet Zola Budd probeer om die pas vinniger te maak en in die proses bots Mary Decker teen haar. Decker was die Amerikaners se gunsteling. Terwyl Decker van die baan gedra word, bly Zola hardloop onder luide gejou van die Amerikaanse skare. Sy hardloop al hoe stadiger en eindig uiteindelik sewende.

Nou, 32 jaar later, omhels die twee atlete mekaar in die einste atletiekstadion waar hulle soveel hartseer ervaar het. Mary sê ook aan Zola dat sy hoop Zola weet dat sy wat Mary is, haar nie blameer vir die insident nie. Dié voorval moes deur die jare by Zola gespook het, want sy het oor die dokumentêre rolprent aan The Guardian gesê die rolprentmense het haar belowe dat die film nie partydig of veroordelend gaan wees nie en dat sy die geleentheid sou kry om haar storie te vertel. Sy hoop dat die ontmoeting en gesprek hulle sal help om die insident nou agter hulle te sit.

Kyk ’n uitreksel oor The Fall hier:

In 2012 het SARIE met Zola gesels tydens ’n besoek aan Suid-Afrika.

In die April-uitgawe van SARIE het sy gesê die ding waaroor sy spyt was, is die Olimpiese Spele van 1984. “Ek was emosioneel nie opgewasse daarvoor nie. Ek moes eers aan ’n paar kampioenskapstoernooie vir juniors deelgeneem het. Die ervaring was traumaties, maar ek kon gelukkig my kop oplig en aangaan. Dit het my geleer dit maak nie saak hoe hard jy val nie, dis belangriker om op te staan en aan te gaan. Al maak jy foute en beleef teleurstellings, is die moeilike dinge net tydelik. Dis nie jou hele lewe nie. Die lewe gaan altyd aan.”

Sy en haar man, Mike Pieterse, woon in Myrtle Beach in Suid-Carolina, waar Zola betrokke is by atletiekafrigting by die Coastal Carolina University. Hulle het drie kinders.

Kyk die video van Zola en Mary se ontmoeting hier.

Bronne: Runners World, The Telegraph, The Guardian, The Sun.