Lewe + Liefdes

Hou die kinders besig!

Elke keer wanneer ek kinderboeke moet uitsoek, is dit eers ‘n gespeel en gelees van ‘n ander wêreld in my kantoor. Ek is versot op boeke wat kan raas, of uitvou, of waarin jy kan teken en dit afvee. In my dae as kind was daar nie sulke handige boeke waardeur ek goed kon leer nie. Ek moes op die ouderwetse manier leer, eers leer lees met Mossie en Baas en a vir appel, b vir boek en so aan. Nie dat ek kla nie, maar ek sou darem baie pret gehad het met hierdie hoop boeke. Gelukkig word mens nooit te groot of te oud vir ‘n kinderboek nie!

Onthou om ons elektroniese boekwinkel op Kalahari.com te besoek om van die boeke teen afslagpryse te bestel.

Belladonna prima donna, Philip de Vos (Tafelberg, R115)
Belladonna is ‘n operahuismeisiemuis, die enigste van haar familie met ‘n droom om voor ‘n skare mense in ‘n opera op te tree.  Die res stel net belang in kos. In hierdie storie kry sy haar kans om op die groot verhoog haar piep te piep wanneer ‘n GROOT sopraan in Tosca kom optree. Sy bring haar ewe GROOT kat, Esmerelda, saam wat sorg vir snaakse tonele tydens die opera en op die end die hele spul tot ‘n val bring. ‘n Langer storie (nie ‘n prenteboek nie, maar met mooi swart en wit tekeninge) met beskrywings van die karakters en hul dinge wat mens laat lag en jou laat klaar lees om by die einde van die storie te kom. Die storie is tog ook leersaam oor die opera en wat dit alles behels. –  Cailin Spickett (8 jaar, Gr.2) 

My bed is my bed  MY BED IS MY BED,  Mij Kelly en Mary McQuillian, vertaal deur Philip de Vos (Human & Rousseau, R99,95)
Betsie het haar bed, maar al die plaasdiere wil saam met haar kom slaap! Hoe nou gemaak? ‘n Grappige slaaptydstorie vir selflees of voorlees. Dit kan ook oor en oor gelees word, met mooi rymwoorde en groot skrif wat dit interessant en maklik maak om te lees. Nie ‘n lang storie nie,  net lank genoeg vir voor slaaptyd,  met prettige prentjies wat die aandag lank genoeg sal hou. Daar is ook ‘n les te leer – elkeen het sy plek, elkeen het sy bed. Ek  het dit baie geniet en self ‘n hele paar keer oorgelees. – Cailin Spickett
 Wie's my ontbyt?

Wie’s my Ontbyt?, Nick East, Clair Freedman (Human & Rousseau, R99,95)
Op ‘n vriendelike plasie is dit rustig tot die Stadsvos eendag opdaag.  Hy is so opgewonde, want die plaas is vol smullekker diere.  Hy is honger en proe al die diere.  Hen en haar vriende skrik hulle boeglam.  Bul het ’n baie slim plan.  Hulle gaan die Stadsvos se kop deurmekaar maak.  Hen maak of sy ’n perd is, Eend is ’n koei en Lam is ’n donkie.  Dis ’n ramp, Vos kan nie een van hulle eet nie, want sy boek sê so.  “Ek gaan dood van die honger”, brul Vos.  Hy is woedend en storm na die hoenderhok, gooi die deur oop en sien vir Bul.  “Ek is ’n hoender! Kan jy nie sien nie?”,  sê Bul.  Vos bewe van vrees.  “’n Hoender? Vosse eet mos hoenders maar jy is reusagtig.  Wat is jy?”  Bul snork en storm op Vos af.  “Waarvoor wag jy, eet my”, bulk Bul.  Vos het so groot geskrik, hy hardloop so vinnig as wat sy bene hom kan dra, weg van die plaas af terug tot in die Groot Stad.  Hoera! Juig die diere en hulle hou toe ’n groot partytjie.  Almal is weer vrolik en gelukkig.

Ek het hierdie boekie vreeslik geniet en die prente is te oulik.  Dit het gevoel of ek ook op die plaas was om die diere te beskerm. – Carla Taljaard (8 Jaar, Gr 3)

 

 In 'n huis in 'n huis

In ‘n Huis, In ‘n Huis, Wendy Hartmann, Joan Rankin (Human & Rousseau, R103)
Die hele boekie rym en die prentjies is baie oulik.
Daar was ‘n muis in ‘n huis.  Iets het vreeslik gestink nes vrot voete, maar Muisie droom net van kaaskoek.  Daar was vreeslike donderweer en toe dit blits, spring Muisie uit sy bed soos hy skrik.  Toe hoor hy ‘n geklop.  Dis hoender wat nie lekker voel nie en baie bang is.   Onder die lakens met groot oë en bang lê hulle en bewe, bang iets gaan hulle vang.  Toe hoor hulle ‘n gestamp teen Muisie se deur.  Dis kat wat net so bang is.  Styf teen mekaar lê die drietjies en bewe.  Toe is daar ‘n vreeslike kadoef, en amper maak hulle die lakens sopnat.  Hulle spring uit die bedjie en gaan loer by die deur.  Dis Rosie, die hond en daar is ‘n gebrom agter in haar lyf.  Rosie voel glad nie goed nie.  Sy kan dit nie keer nie.  Die reuk was baie erg en toe raas Muisie:  Gaan doen dit buite die huis. Rosie is vreeslik jammer, maar vertel vir Muisie sy het van Muisie se stinkkaas gegaps en dis wat nou so stink.  Muisie gee vir Rosie ‘n stywe dop en daarna is Rosie weer reg. Hulle het partytjie gehou en alles was weer goed in ‘n huis in ‘n huis. Van vandag af is hierdie my gunsteling boekie.  Jy lag van die begin af tot die einde. – Carla Taljaard

 

Wibbly Pig has 10 Balloons, Mick Inkpen (Hodder Children’s Books, R152)
Inkpen is een van die top kinderboekskrywers en –illustreerders. Sy boeke is altyd pragtig om na te kyk, want die illustrasies is kleurvol, eenvoudig en treffend. Die storie  bevat ook altyd ‘n les vir die leser. In hierdie geval is dit hoe om van een tot 10 te tel. Wibbly Pig het tien ballone, almal verskillende kleure en vorme. Al sy maters wil ook ‘n ballon hê en arme Wibbly het geen keuse as om maar sy ballonne een-een uit te deel nie – totdat hy geen ballonne het nie. Maar hy kry ‘n verrassing, want sy gunsteling ballon kom tog weer op ‘n vreemde manier terug in sy kloutjie. Selfs ouers sal hierdie boek geniet!

 

Dit raas op die plaas, Stephanie Stansbie (Human & Rousseau, R149,95)
Hierdie boek sal kinders (en sommige ouers) vir ure amuseer. Ander ouers gaan gek raak, want as jou kind eers uitgevind het waar om die knoppies te druk vir die geraas op die plaas, gaan daar geen stilte meer wees nie. Selfs ek kon myself nie daarvan weerhou om weer en weer die knoppies vir die verskillende geluide te druk nie. Daar is koei, kat, eend, kuiken en skaap. . .Een-een en uiteindelik ‘n hele kakofonie van ‘n dierekoor. Dis ‘n eenvoudige verhaaltjie van kat wat wakker word met die besef daar is stilte op die plaas. Die hoenderhaan het nie al die diere wakker gekraai soos sy gewoonte is nie. Kat gaan dan op ‘n soektog na al die diere om uit te vind waar is hoenderhaan. Op die tog ontmoet hy vir eend, skaap en koei. Almal kry uiteindelik vir haan, waar hy in verwondering is oor hen se kuikens wat uitgebroei het, tot so mate dat hy skoon vergeet het om die plaas wakker te kraai. Dis nooit te laat om te kraai nie!

 Proppie-prentjies: op die plaas

Proppie-prentjies: Op die plaas, Brenda Apsley (Human & Rousseau, R99,95)
Kinders leer baie makliker as hulle iets moet doen. Hierdie boek is perfek daarvoor. Hulle moet die regte prentjie kies om by die teks te pas en dit dan inprop by die aangewese plek. Op ‘n pretmanier leer hulle in hierdie boek om te tel, diere te identifiseer, watter geluide verskillende diere maak en om kleur te onderskei. Die teks is so geskryf dat daar vir die kind ook geleentheid is om sy eie storie by te voeg om die verhaal uit te bou. Die boek is gemik op kinders tussen drie en vyf jaar. Dis kleurvol en van harde duursame karton wat ure se speel kan deurstaan.

 My lig-die-flappie woordeboek

My lig-die-flappie woordeboek en My lig-die-flappie telboek (Human & Rousseau, R129,95)
Die twee boeke is daarop uit om beginnerlesers te help om ‘n woordeskat te ontwikkel en om tel- en syfervaardighede te ontwikkel. Die illustrasies is pragtig, kleurvol en met fyn detail wat kinders lank besig sal hou. Die flappies maak dit natuurlik opwindend om te sien wat is daaronder weggesteek. Die boekies is ook so geskryf dat kinders moet soek na spesifieke goed, wat hulle help om goed te identifiseer. ‘n Pret manier om te leer.

 Flitskaart-boek: Vorms en Kleure

Flitskaart-boek: Vorms en Kleure en Flitskaart-boek: Syfers, Afrikaans deur Simone Hough en Simone van der Merwe (Human & Rousseau, R99,95)
Die reeks boeke is gemik op kinders tussen ses en nege jaar. Dit moet verkielik weggehou word van kleinder kinders, want die boeke bevat klein, los deeltjies wat maklik in ‘n mond geprop kan word. Elke boek het skoonveebladsye waarop geskryf, geteken en nagetrek  kan word, asook plakkers en flitskaarte. Die oefeninge waardeur die kinders syfers, vorms en kleure leer, is so ontwerp om kinders se aandag te hou. Die voorbeelde van items is ook goed wat kinders maklik sal herken en mee identifiseer, soos roomys, balle en diere. Hoekom was daar nie sulke boeke toe ek so klein was nie?

 Cailin SpickettCailin Spickett  Carla TaljaardCarla Taljaard