Huis bly huis, maar Charlotte in die VSA is ’n lekker ervaring

Deur Phyllis Green

Huis bly huis, maar Charlotte in die VSA is ’n lekker ervaring Foto’s: Verskaf Galery

Op 10 Augustus 2011 het Jaco en Elfriede Conradie gehoor hulle verhuis vir net ’n paar maande na Charlotte in die staat Noord-Carolina in die VSA.

Elfriede vertel ’n bietjie meer van hul lewe in Charlotte.

Hoekom so iets doen vir so ’n kort tyd?

Ons het altyd gesê as ons die geleentheid kry om ‘n ander land en sy mense te ervaar, sal ons dit aangryp. Hoekom nie? Ons het dan nie eens ‘n goudvis nie! Toe die maatskappy waar Jaco werk ons die geleentheid bied, het ons nie twee keer gedink nie.

Wat doen julle in die vreemde?

Jaco is ‘n pas-gekwalifiseerde ouditeur en werk vir ‘n internasionale finansiële maatskappy. Amerika is baie streng oor werkspermitte vir buitelanders. Ek is in die proses om vir ‘n werkspermit aansoek te doen en hoop om ook die geleentheid te kry om hier te kan werk. Sover geniet ek dit om huisvrou te wees en betrokke te wees by ons kerk se gemeenskapsprojekte. 

Hoe verskil die leefstyl van Suid-Afrika?

Soms voel dit asof ons net Engels gemeen het!  Hulle hou van uiteet of wegneemetes oor middagete, elke dag van die week. Dis soms vir Jaco erg, want hoe sit jy nou met ‘n vol maag vir die res van die middag op kantoor? Die Amerikaners het ook baie vakansiedae wat hulle vier met versierings en kos, maar nie almal is ‘n afdag by die werk nie. Charlotte het sy eie nuuskanaal wat 24 uur van die dag uitgesaai word, met goeie én slegte nuus. As die brandweer ‘n kat uit die boom haal, weet die hele stad dit! Die middestad is ongelooflik skoon en netjies, die magrietjie-potplante word selfs elke oggend vervang met nuwe vars potplante.

Maar daar is darem ook ooreenkomste met Suid-Afrika: Hulle is sportmal, net soos die Suid-Afrikaners, en ondersteun veral college-voetbal. Die meeste Sondae gaan gepaard met ‘n kuier by die voetbalstadion met baie kos, vriende en ‘n speletjie genaamd Corn Hole: ‘n sandsakkie word gegooi na ‘n bord met ‘n gat. Die inwoners van Charlotte hou ook daarvan om aktief te wees. Die weer dra grotendeels by daartoe, want dit sneeu selde hier. En hier is ‘n Whitewater Centre wat verskeie buitelug-aktiwiteite bied, van roei tot bergfietsry, rotsklim en stap.

Hoe verskil die kos van Suid-Afrika?

Die plaaslike supermarkte het ‘n ongelooflike verskeidenheid produkte. Letterlik rakke en rakke vol pap, brood, koekies en tjips. Maar ons sukkel om sekere goed hier te kry wat algemeen in Suid-Afrika is, soos ProNutro, Marie-koekies (of enige gewone koekie wat nie gegeur is nie), bruin-uiesoppoeier, Maizena en aanmaak-sap.  Hulle het baie “ready to eat”-produkte. Ontbytpap soos mieliepap kom in individuele sakkies, klaar gegeur met suiker en botter, skons kom in blikkies, deeg klaar gesny in blokkies net reg om in die oond te sit.

Beskryf Charlotte.

As ek dit moet vergelyk met ‘n plek in Suid-Afrika, sal dit George wees. Charlotte is geweldig boomryk, selfs die middestad. Die stad verander in die herfs van ‘n ongelooflike mooi rooi, na oranje en geel. Dis ‘n groot stad, maar alles is so verspreid dat ons byna voel of ons op die platteland bly. Daar is oral wandelpaadjies in die erwe, met huise meestal van hout of rooi bakstene, sonder enige heinings. Die meeste huise het ‘n stoep of dek aan die voorkant, met ‘n hangmat of leunstoele.

En die plaaslike inwoners?

Die inwoners is ongelooflik vriendelik en hulle hou van geselsies maak, ongeag of dit nou die kassier is of iemand wat vir die trein wag. Dit is asof niks hulle pla of jaag nie, selfs ‘n middagete in die stad kom as vreedsaam voor. Ons het baie vinnig ingeskakel by ‘n kerk en sommer dadelik tuis gevoel. Ek is lid van ‘n vrouegroep met die naam EveGarden. Ons maak ‘n gemeenskapstuin en die groente word 3 keer per week gepluk en na die huise van 14 werkloses geneem.

Wat mis julle?

Naweke saam familie en vriende, die reuk van ‘n braaivleisvuur en natuurlik ‘n vleisie oor die kole, kamp, voorspelbare weer, Spur-sous, goeie Jacobs-koffie, rooibostee, Four Cousins-wyn, om die Afrikaanse Onse Vader te kan opsê, ‘n somer-Kersfees iewers langs die Tuinroete en, laastens, om nie nodig te hê om geld na dollars om te skakel nie.

Dit is ‘n ongelooflike geleentheid wat ons nooit vir enigiets anders sal verruil nie, maar dit gee jou definitief perspektief oor jou eie land. Elke land het sy eie geskiedenis en positiewe en negatiewe aspekte, maar Suid-Afrika bly ons huis!

Galery

  • 'n Pragtige laning bome.
  • Jaco en Elfriede Conradie.
  • Die stad, Charlotte, in die aand.
  • Die kerk waarheen die Du Plessis gaan.
  • Herfs is prentjie mooi.
  • Elfriede en Jaco Conradie by die voetbal.

Kommentaar

  • Stunning artikel Couz! Verlang na julle!!! Madeleine, Martin, Jemma

    7de Jan. 2012, 21:33
  • Geniet dit julle twee! Kom jul nou glad nie terug vir ons troue 3 Maart nie, ek is seker jul wil een of ander tyd kom kuier ;-)

    7de Des. 2011, 11:16
  • Hi kinders Baie oulike gestel, mis julle baie

    6de Des. 2011, 15:51
  • Hi Elfriede ons woon al bietjie langer in Amerika as net 'n paar maande. Kontak my dan kan ek vir jou laat weet hoe en wat en waar jy produkte kan kry wat dieselfde of baie na aanmekaar is.

    6de Des. 2011, 05:01