FOTO Eyescape Corporate Photography

FOTO Eyescape Corporate Photography

Inspirasie-vroue

Die De la Rey wat Tuks lei: Prof. Cheryl de la Rey

‘Toegang tot gehalte-onderwys is die hoeksteen van ’n suksesvolle nasie’: Prof. Cheryl de la Rey, visekanselier en rektor van die Universiteit van Pretoria

Cheryl de la Rey is petite en haar begeerlike skoene ’n besprekingspunt by vroulike kollegas. Vroeër vanjaar, tydens die protesaksie oor Tuks se taalbeleid, was een ding altyd in die warm stryd seker: Haar naels was goed versorg, geen haar uit plek nie.

Vroulik, mét gravitas. Sy laat haar nie sommer onderkry nie. Nie nou met ons kampusse kort-kort letterlik en figuurlik aan’t brand nie. Ook nie toe sy in 2009 as visekanselier en rektor die eens sterk manlike domein betree het nie. Ná sowat 100 jaar was sy Tuks se eerste vroue-rektor. Boonop nie wit en Afrikaans nie. Sy is Engelssprekend, in Natal gebore en getoë.

“Toegang tot gehalte-onderwys is die hoeksteen van enige suksesvolle nasie. My hele loopbaan is daaraan gewy. Ek is passievol daaroor, dit het my lewe transformeer.” (Nóg haar winkelassistent-ma nóg haar lorriedrywer-pa het matriek gehad.)

Haar professionele agtergrond as sielkundige help haar om brandpunte uit verskillende gesigspunte te sien. Sy probeer ook na kritiek luister, baie bewus daarvan dat niemand perfek is nie. “Ek probeer die beste stukkie raad wat ek nog gekry het, nastreef: Ondersoek dinge en dink vir jouself. Luister na ander se mening, maar doen wat jy dink die beste is.”

Dié slim professor is ’n vurige Blou Bul- en Springbokondersteuner en naweke sal jy haar soms voor die TV vang, met rugby, sokker en krieket haar gunstelinge. September is sy 30 jaar lank getroud met haar jeugliefde, Eldridge, wat in die staalbedryf werk. Hulle het nie kinders nie. Haar nooiensvan, wat sy behou het, is beslis ’n ysbreker.

“Bok van Blerk se liedjie was die fliek, White Wedding, se temamusiek en daarom bekend aan alle taalgroepe. Mense sing dit dikwels vir my; by meer as een geleentheid op Oliver Tambo-lughawe as ek deur die doeane gaan.”