FOTO Willem Lourens
STILERING Magdel Muller

FOTO Willem Lourens STILERING Magdel Muller

Inspirasie-vroue

‘Dis soos asemhaal’ – Laurinda Hofmeyr

Woordkunstenaar, meester-toonsetter ‘Dis soos asemhaal’ sangeres Laurinda Hofmeyr

Die prettige “Sekretarisvoël” van Leipoldt*. Of “Sonar Sover” van Valiant Swart*, wat in jou kop bly spook.

Laurinda Hofmeyr snoer vers en melodie soos ’n kosbare string pêrels saam. Laat jou sién hoe die sekretarisvoël met sy lang bene hinkepink. Laat jou die ritmiese klop van die ongebore babatjie se hartjie aan jou lyf vóél.

“Sy sorg vir die teks soos ’n boeddhis na ’n gewonde soldaat of blinde vrou sou omsien,” sê Breyten Breytenbach. En: As hy musiek kon maak, sou dit min of meer na hare geklink het. Haar toonsettings van dié meester se gedigte is al staande toegejuig.

Laurinda het twee keer vanjaar ’n verhoog met hom gedeel: Tydens ’n optrede in Nederland en die Spier Digtersfees in Kaapstad. Sy het onder meer van haar Breytenbachtoonsettings gesing. Hy het van sy gedigte voorgelees terwyl sy en musikant Schalk Joubert hom met musiek begelei het.

Laurinda, ’n ambassadeur van Veldtog Afrikaans, sê: “Ek werk met Afrikaans se skatte – gedigte. En wil mense bewus maak van hoe ’n wêreld in jou kop, met die kleur en tekstuur van ’n paar woorde, oopgemaak kan word.”

Maar hoe voel dit as so ’n ikoon jou werk ’n goedkeurende kopknik gee? “Wat ek doen, is nie hoofstroom nie. As jy finansieel daarna kyk, kan dit jou laat wonder hoekom jy dit doen. Soos ’n bundel gedigte ook maar. Maar as jy só iets hoor, voel dit tog of dit bestaansreg het, waardevol is.”

Boonop doen jy dit nie vir geld of roem nie, maar omdat jy móét. Soos asemhaal. Soms, op die verhoog as dit voel asof die musikante en gehoor dáár is, gefokus, is dit magic. Voel sy heeltemal een met haar omgewing.

Net soos wanneer sy saans in die bed lê en besef hoe gelukkig sy is.

Laurinda en haar internis-man, Jantjie, en die blondekop Joanie (11), woon aan die voet van Paarlberg in dié Bolandse dorp. Warm, eg, trap hulle ligvoets op die aarde. Met die honde, Steffie en Herman, DBV-geskenke. En hoenders, Strepie en Ratsie, die laaste van ’n rits geveerdes wat Joanie kleintyd naam gegee het.

*“Sekretarisvoël” en “Sonar Sover” is albei deur Laurinda getoonset en op haar vierde CD, Wat ek wou sê.

Lees nóg inspirasie-vroue se stories HIER

Wys hoe lyk jóú Afrikaans op afrikaans.com en jy kan tot R10 000 WEN!

Selfie 1667 × 833