FOTO Phyllis Green
STILERING Fanie Cronjé

FOTO Phyllis Green STILERING Fanie Cronjé

Inspirasie-vroue

‘Ek is sterker vandat ek ’n ma is’ sê Olimpiese atleet Irvette van Zyl

Koersvas na die Spele: Irvette van Zyl, marathon-atleet en ma

Haar baba, Louis, is nog nie eens ’n jaar oud nie, maar Suid-Afrika se langafstand-ster is gereed vir die Olimpiese Spele wat dié maand in Rio afskop.

Irvette van Zyl is in topvorm – sy het by die Londen-marathon in April met ’n tyd van 2:32:20 vir die Spele gekwalifiseer.

Moederskap het haar beslis nie op haar louere laat rus nie. Toe sy vier maande swanger was, het sy die Twee Oseanehalfmarathon kafgedraf. Duidelik ’n vrou met #woema!

“Ek dink eintlik ek hardloop beter vandat ek ’n ma is,” sê sy. “Deesdae het ek nie tyd om voor ’n wedloop te stres nie – iets wat in die verlede vir my ’n groot probleem was. Nou is ek net aan’t oefen of besig met Louis. Ek dink nie aan iets anders nie.

“Ek is sterker. As jy ’n ma is, kan jy nie in die badkamer  gaan sit en huil as jy ’n slegte dag het nie, want jy moet na iemand anders kyk en dis jou eerste prioriteit. Jy leer om oor dinge te kom en aan te gaan.”

Dit was ’n harde pad om haar lyf terug te kry. “Ek het kort ná my keisersnee begin gim en ná agt weke intensief begin hardloop. Sommige dae was ek so negatief dat ek my direk nadat ek geoefen het aan olierige hoender vergryp het. Toe kom ek agter hoe lekker dit is om Louis te sien grootword en dit het my opgebeur. Ek kan nie onthou wanneer laas ek KFC geëet het nie!”

Sy en haar man, hekkies-atleet LJ van Zyl, gaan albei Spele toe, en dié keer gaan sy dit anders hanteer as in Londen, 2012. “Toe was ek so opgewonde om ’n nuwe land te besoek dat ek alles wou sien – en eet! In Rio gaan ek eers werk, dán speel. My mikpunt is ’n tyd onder 2:30.”