FOTO Leana Clunies-Ross

FOTO Leana Clunies-Ross

Inspirasie-vroue

‘Liefdadigheid is my roeping’ – Hanna Grobler

Filantroop: Hanna Grobler, aktrise en stigter van Hanna Charity & Empowerment Foundation

As aktrise het Hanna Grobler die aandag getrek in haar rol as Kiki in Getroud met rugby, maar deesdae is sy meer bekend vir haar liefdadigheidswerk. Haar organisasie, Hanna Charity & Empowerment Foundation, doen werk in agt gemeenskappe in Pretoria, Johannesburg en Kaapstad. Haar reis as filantroop het jare gelede as skoolkind al begin. “Ek dink jy word gebore met insig oor hoe om ander te help, ’n begrip vir wat hulle nodig het. Myne het ek geërf by my ma, Marietjie, ’n maatskaplike werker. Tydens my dramastudies aan die Universiteit Stellenbosch het ek reeds straatkinders begin help – dis iets wat net nog altyd deel was van my lewe.”

Terug in haar geboortestad, Pretoria, het sy met ’n plan die strate ingevaar met klere en kos in haar kar om op eie stoom mense daar te help. “Ek het toe besef hoe groot die nood in ons land regtig is. Ek het konserte in my huis begin hou om geld in te samel sodat ek sopkombuise in Elandspoort [in die weste van Pretoria] kan oopmaak.”

Binne drie jaar het haar netwerk só gegroei dat sy ’n niewinsgewende organisasie geregistreer het. ’n Reuse-span vrywilligers help vandag om die sopkombuise, klerebanke,oefenprogramme, biblioteke, naskoolsentrums, programme vir vroeë kinderontwikkeling, vaardigheidwerksessies en lewensvaardigheid-programme te bedryf. “Ek het nooit gedink dit sal so groot word nie. Deesdae is dit my voltydse werk, en dan het ons pleegsorgkinders wat by ons in die huis in Pretoria-Oos, wat as hoofkantoor dien, woon.”

Daarom vat sy vanjaar ’n breek van aktrise-wees, soos sy al ’n paar keer vantevore gedoen het, om op liefdadigheid te fokus. “Liefdadigheidswerk is my roeping. Ek praat altyd van my God feeling eerder as my gut feeling – ek wéét dis wat ek moet doen. Boonop is daar soveel narsisme in die vermaakbedryf en hierdie bring balans in my lewe. Jy moet dink aan wat jy gaan agterlaat. Gaan alles oor jóú, of wil jy ’n verskil in die wêreld maak?”

*Besoek hannacharity.org of volg Hanna Charity and Empowerment Foundation op Facebook.

Lees nóg inspirasie-vroue se stories HIER