FOTO www.guidoschwarz.com

FOTO www.guidoschwarz.com

Inspirasie-vroue

‘Suzelle is trots Suid-Afrikaans, nes ek’

Verkleurmannetjie: Julia Anastasopoulos, aktrise en kunstenaar

“Om te skep is my suurstof,” sê Kaapse aktrise en kunstenaar Julia, wat die hele land eerder as Suzelle ken. Sy en haar spesiale vriend, Ari, het die Afrikaanse selfhelpkarakter Suzelle in Mei 2014 geskep. Teen die einde van die jaar het Channel24 haar as Suid-Afrika se gunsteling-aanlyn glanspersoonlikheid aangewys – sy het immers 97 000 volgelinge op Facebook, 84 000 op YouTube en 40 000 op Instagram. Suzelle het vandag ook haar eie TV-insetsel op Comedy Central (DStv-kanaal 122) en ’n selfhelpboek.

Ná ’n dramagraad aan Ikeys het Julia besef werk vir aktrises is skaars. Internasionale selfhelp-ghoeroes was baie gewild en daar was ’n gaping vir Suzelle in die plaaslike mark. “Sy is eg Suid-Afrikaans. Mense identifiseer met haar.”

Nes Suzelle, glo Julia aan Vrouedag. “Vroue moet veral dán dink oor hul rol in die samelewing.” Vir haar is gelyke geleenthede en vryheid van keuse die sleutel tot bemagtiging.

“As vroue bemagtig word, sal ons baie probleme oplos. Ook mans behoort feminisme te omarm.”

Hoewel Julia as kind ’n onderwyseres wou word, is sy dankbaar oor hoe haar lewe uitgedraai het. Sy is trots op projekte soos haar illustrasies vir die kinderboek Bonsai and Geronimo deur Gabrielle Weinstein (versprei deur Xavier Nagel). Dié boek was deel van Kaapstad se uitstalling in Helsinki, Finland, die Wêreldontwerp-hoofstad in 2012. Sy is ook dol op haar speelse muurtoneel vir die kinderafdeling in The Book Lounge in Kaapstad.

Nou droom Julia daarvan om Suzelle voor gehore “op te voer” en sy is besig om nóg komiese karakters te ontwikkel.

“Suzelle het my geleer om vas te byt, nie bang te wees om hulp te vra nie, pret te hê en nooit in gemaksones te verval nie.”