FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Boeke

Kerneels Breytenbach deel sentimente oor sy minnares.

Ester is die minnares van wie hy moeilik afskeid neem en dit was vir hom ’n vreemde gevoel.

Kerneels Breytenbach is emosioneel wanneer hy vertel hoe moeilik dit is om van sy boek, Ester (Human & Rousseau, R220) afskeid te neem. “Ek vermoed dis maar soos om vir ’n minnares te sê jy kan haar nie meer sien nie. Terwyl jy skryf is jy so ingenome met jouself en trots op wat jy doen. Die oomblik wanneer die manuskrip klaar is en by die uitgewer lê, begin jy vir jouself sê dit was eintlik miskien ’n mistykie. Ek het vir myself gesê as die resensies positief is, gaan ek ontspan.” Lees mens die resensies wat tot dusver geskryf is, lyk dit of Kerneels inderdaad kan ontspan oor sy boek oor ’n insident in die geskiedenis van Suid-Afrika wat hom so gefassineer het dat hy net daaroor mòès skryf.
esterTydens die oorlog in 1940 het dr. DF Malan ’n Duitse spioen, mev. Thyra Denk ontmoet en in 1946 staan Malan voor ’n kruispad in sy politieke loopbaan en moet mev. Denk voor ’n Gekose Komitee in die Volksraad kom getuig oor die verslag wat sy aan haar man gestuur het oor dié ontmoeting. Haar getuienis sal bepaal of Malan aan hoogverraad skuldig is. Vir Breytenbach is die groot vraag: Wat sou gebeur het as Malan nie eerste minister geword het nie en hoe sou die geskiedenis van Suid-Afrika dan verloop het?
Thyra Denk moet gehaal word op die plaas in Suidwes waar sy woon en dié taak word toevertrou aan AO Dieter Bergman van die polisie in Piet Retief. Die grootste deel van die verhaal speel af oor die drie dae wat die treinrit van Windhoek na Kaapstad duur. Die intrige lê in die ontmoeting tussen Malan se regspan, verteenwoordig deur die juris Doerkstra, en die Duitse spioen op die trein. Natuurlik alles georkestreer deur Bergman.
Die verhaal is gedeeltelik gegrond op geskiedkundige gebeure, maar word meesterlik verweef met musiek, spys en drank, modes en die kleurryke karakters wat deel van die reis uitmaak. Daar is treindrywer Jurie Kimberley, sy stoker Daveltjie en die musikante Chris Blignaut en Hendrik Susan en sy orkes. Hulle voer jou mee op ’n onstuitbare leesreis tot die heel laaste verrassende hoofstuk. Ek het met Kerneels Breytenbach gesels oor sy boek.

Hoe ontwikkel jy jou karakters?
Sekere mense is historiese figure soos mev. Denk en Malan en aan hulle kon ek nie te veel peuter nie. Ek weet nie eens wat die ou se naam is wat haar begelei het nie, maar hy sou soos Bergman wees, wat Duits magtig is en wat kom uit ’n gemeenskap waar Duits daagliks gepraat word, sodat hy vir haar kon tolk. Daar het ek teruggeval op baie voor-geskiedenis, veral van die dorp en ek het wonderlike dinge oor Piet Retief uitgesnuffel. Van die karakters het self ontwikkel soos die treindrywer Jurie Kimberley en stoker Daveltjie. Hulle het tydens die skryf vir my interessanter geword en ek het gevoel ek kon hulle uitbou. Met Bergman het ek net geweet ek kan nie manipuleer nie en ek moes put uit die geskiedenis.

Hoeveel van die juris is biografies?
Ek het vasgestel wie hy is, maar daar is nie ’n manier hoe ek dit kan bewys nie. Hoe meer ek ander regsmense daaroor gevra het, hoe meer het ek besef ek sal die man ’n geweldige oneer aandoen as ek sy naam sou noem en hom ontmasker. Ek het besluit om hom anoniem te hou. Hy was baie bekend in regskringe en hy het later ’n regter geword. Die sjarme van die verhaal is dat dit ’n raaisel bly.

In Ester is daar wulpse sekstonele. Hoe skryf mens daaroor?
Seks is een van die moeilikste dinge om oor te skryf, want baie mense dink dis jou storie, jou ondervinding daai. Met Ester het ek op een of ander intuitiewe manier besef dat as jy in ’n moderne roman seks wil hê, moet die seks ’n integrerende deel wees van die verhaal. Die oomblik wanneer jy ’n sekstoneel skep en hom aanplak, is hy amper pornografies, want dit dra niks by tot die storie of die twee betrokke karakters nie. Jy wil iets wys van die karakters wat jy nie in die normale handel en wandel kan wys nie. Seks is nie ’n spectator sport nie, dis ’n participants sport. Jy wil eintlik die dinge wat mense in seks gee, daai kommunikasie, sensualiteit en sinlikheid – dit wil jy inbou in die ding in. Wat in Ester dit vir my so maklik gemaak het, is die Ester-karakter was op haar dag in ’n hoerhuis in Berlyn. Dis Dietrich wat ek daar gesien het, een van die mees asembenewende vroue wat daar al ooit was. Ester het toe te make met ’n ou wat aan vrouens gevat het, maar basies nie verder as die vat gekom het nie. Dan het jy ’n lekker ding, want die ou ontdooi en dis vir hom ’n inisiasie. Die ander element snap jy eers as jy aan die einde van die roman kom, dat dit eintlik ook ’n obsessie vir iemand anders was. Die tema wat regdeur Ester hardloop is begeerte. Wat gebeur wanneer jy iemand begeer? Die juris het gedink hy is die middelpunt van die kosmos en vroue spring sommer saam hom in die bed en hy beheer alles. Hy besef skielik sy behoefte is nie eintlik net om saam met haar in die bed te kom nie, maar sy behoefte is na die liefde. En dis elemente van seks wat jy moeilik vir mense verduidelik. Ek verwag nie die boek gaan op skool voorgeskryf word nie, so hoekom nie wulpse seks hê nie.

Begeerte en politiek is twee goed wat hand aan hand loop?
Die wil tot mag, om beheer oor ander te kry. Dié vrou sit met twee elemente daarvan. Sy sit met die fisieke, sy het ses jaar laas ’n man gehad en sy is iemand wat gewoond was om mans te hê. Sy het die begeerte om dit weer te doen, maar aan die anderkant is sy ’n Nazi en sy het hierheen gekom om Malan om te praat om die Nazi’s te steun en hy het vir haar gesê nee. Sy is ’n verbitterde mens en sy gaan nie met toegeneentheid aan Malan terugdink nie. Haar begeerte sou eintlik wees om hom bietjie te grind, om hom bietjie so in die modder te smeer. Dit was lekker om te sien toe sy besef sy gaan dit nie regkry nie, hoe sy dit manipuleer om vir haar ’n agterdeur te skep.

Ander mense dink hulle beheer die verhaal, maar sy is eintlik die een wat in beheer is?
Dis hoe ek dit gesien het. Saam met begeerte gaan ook beheer. En Ester – as jy mense se begeertes kan manipuleer, dan het jy hulle in jou mag en dan is jy hulle politieke meester.

Hoeveel navorsing het jy gedoen?
Baie. Ek het op ’n paar maniere die navorsing aangepak. Ek het die rolprent Salon Kitty oor en oor gekyk om die gevoel te kry van Duitsland en die Weimar-periode, hoe die mense aangetrek het, hoe hulle geloop het en opgetree het. Ek het ook in die biblioteek gaan sit en deur die koerante van daardie tyd geblaai, asook die Brandwag en al die ou tydskrifte, die advertensies en al die foto’s. Die interessante ding van oorlogtyd is dat die vrouens nie ophou klere aantrek het nie, daar was steeds ’n soort mode aan die gang. Ek moes ’n idee kry van wat Ester sou aantrek. Vrouens het nog hul eie klere gemaak. My oë het oopgegaan vir hoe moeilik dit daardie tyd was om alles te kry. Vandag stap jy by ’n groot winkelsentrum in en jy kry alles onder een dak. Ek het ook Mein Kampf bestudeer. Ek kon ’n ou spyskaart van die treine opspoor en kon sien presies wat hulle bedien het en het ook wonderlike inligting oor treine en stokers opgespoor deur onderhoude met vriende en iemand wat ek deur ’n Facebook-vriendskap mee kontak gemaak het.

Wat prikkel jou om verhale daarvan te maak?
Dis mense wat nie gewoon is nie, mense wat bietjie anders is, die andersheid van mense. Wat is normaal? Ek hou van daardie mense wat op die rand van normaal is.