lewisgordonpugh
Lewe + Liefdes

Lewis Pugh deel sy lewenslesse in boek

Dis Lewis Pugh se woorde waarmee hy groet toe hy soos ‘n regte gentleman saamstap hek toe ná ons onderhoud oor sy boek 21 Yaks and A Speedo (Jonathan Ball, R200). Hy is die eerste mens wat in elke oseaan van die wêreld geswem het: deur die ysige waters van die Noordpool om aandag te vestig op die vernietiging van dié omgewing, oor ‘n ysmeer op Everest om aandag te vestig op hoe klimaatsverandering ook hier sy tol eis. So kies hy elke plek waar hy swem juis omdat dit bedreig word deur die een of ander ramp. Dís waarom hy doen wat hy doen, dat wêreldleiers en gewone mense moet besef hoe ons die omgewing met ons leefstyl vernietig. In dié boek deel hy die lewenslesse wat hy geleer het uit al die swem-ekspedisies wat hy en sy span al onderneem het. Hy hoop om mense te inspireer om hul drome na te jaag en om die boodskap oor te dra dat daar baie min dinge is wat onmoontlik is om te bereik. Hierdie boek gaan langs my bed lê vir weer en weer lees, want uit dié waardevolle lesse leer ek elke keer iets nuut.

Jy praat in jou boek hoe belangrik dit is om die basiese dinge reg te doen. Word jy gelei deur die basics?
As jy die basiese dinge reg doen, gaan jy uitstekend wees. Baie mense doen daardie basiese dinge nie reg nie. Selfs voordat ek in die water klim wanneer ons op ‘n ekspedisie gaan, gaan dit daaroor om te sorg dat die span reg is. Dis om seker te maak ons het die beplanning en voorbereiding gedoen. Dis om te verseker die oefening was reg. Dis om op die dag seker te maak dis veilig. Daar’s geen nut daarin om op ‘n ekspedisie te gaan en nie terug te kom nie. Jy moet die basiese dinge doen, en dan het jy natuurlik nog ‘n belangrike eienskap nodig – geduld.

Het jy dit altyd besef, of het dié eienskappe ontwikkel soos jy ondervinding opgedoen het?
As jy kyk na van my vroeëre swemtogte, het ons die basiese dinge nie reggekry nie. Ek het ‘n swem gedoen om Kaappunt van Valsbaai af ná die Atlantiese oseaan se kant en daar is ‘n strand genaamd, Dyersstrand, waar die vloer net heeltemal wegraak. Dis waar die golwe van diep in die Atlantiese oseaan af instroom. Die see het my gerol en gerol en ek het gedink daar gaan iets leliks gebeur, maar dit was oor ek die basiese goed nie reggekry het nie. Geduld, sê hulle, is ‘n gawe. Ek wens ek het meer daarvan gehad. Die Britse Special Air Services (SAS) bestaan al ongeveer 70 jaar en alles wat jy daar doen, is gechecklist. Jy bou voort op dit wat geleer is by die ouens wat in die Falkland-eilande gaan veg het en dié wat in die Tweede Wêreldoorlog was. SAS het my geleer om in ‘n span te werk en om ‘n span te lei. Ek is gek daaroor.

Hoe was jy as jong seun, en was jy toe al gefokus?
Twee goed wat my onderkry, is red tape en Australiërs. Dié twee goed het bymekaargekom toe ek die Sydney-swem gedoen het. As iemand vir my sê hulle gaan nie vir my toestemming gee om te swem voordat ek nie al die versekering voorskiet nie, sal ek ‘n manier daarom vind. Ek is nie van nature iemand wat reëls oortree nie. Maar wanneer ek onnodige red tape sien, veral as dit die Autraliërs s’n is, maak dit my baie ongeërg.

Ek onthou as jong seun het ek hierdie twee hovercraft gehad. Ek het in die klas daarmee gespeel nadat ek gesê is om dit nié te doen nie. Toe konfiskeer die matrone dit en sy wou dit nie teruggee nie. Ek was agt, en kon elke dag in haar kantoor na my speelgoed gaan kyk. Toe maak ek ‘n klomp vriende bymekaar en sê hulle moet rumoer sodat die matrone moes gaan kyk wat aangaan. Toe gaan haal ek blitsig my speelgoed in haar kantoor. Maar was ek regtig stout? Nee. Interessant genoeg, was daar ‘n ou by die boek se bekendstelling en hy, Hoepie, was saam met my in die weermag toe ek in die Suid-Afrikaanse Vloot diensplig gedoen het. Ek was sewentien en saam met ‘n klomp ingenieurs in ‘n kamer. Hulle was almal 25 of 26 en Hoepie het gesê hulle het daardie tyd al besef ek is baie gefokus.

Jy praat oor jou lewenservaringe in hierdie boek en deel lesse uit jou eie lewe.
Ons wou nie hê dit moes ‘n self-help, motiveringsboek wees nie. Ek het die lesse gedeel wat ons as ‘n span geleer het en hoop dis van waarde vir ander mense. Ons wou nie hê dit moet wees: hier is 21 stappe tot rykdom en geluk of so iets nie. Ek dink mense is bietjie moeg daarvoor.

Waarom spesifiek 21 Yaks en 18 of  25 of watter getal ook al nie?
Ek het gedink aan 31, een vir elke dag van die maand of ons kon 25, 21, 18, 15, 12 of  7 doen. Ek het die 31 Yaks gevat en saam met die span daardeur gegaan en net die bestes uitgekies. Ons het  by 21 uitgekom. Dit was bloot toevallig. Maar ek was in 21 SAS en 21 is my gelukkige nommer . . .

Het jy baie deursettingsvermoë?
Ek wil nie tou opgooi nie. Ek lewer baie toesprake in die VSA en Europa en ek praat baie oor vasbyt, dis so lekker woord. Daar’s ‘n hele hoofstuk oor vasbyt in die boek. Ek wil hê die woord moet deel van die Engelse taal word. Vasbyt is om net een tree per keer te gee, hou net aan beweeg, moenie te ver vooruit kyk in die pad nie. Wanneer een ding in jou lewe verkeerd gaan, probeer dat jou hele lewe nie uitrafel nie. Dit gebeur so maklik.

Mense probeer deesdae tred hou met soveel verskillende dinge. Hoe kan hulle tred hou met alles?
Ek  het twee stiefkinders, ‘n seun van 16 en ‘n dogter wat pas 21 geword het. Toe ek die boek geskryf het, wou ek die belangrikste lesse vir hulle uithaal. Ek het gevoel dis twee dinge. Nommer een: maak seker jy volg jou eie drome in die lewe, nie myne nie, nie jou ma s’n nie, maar jóú drome. En jy moet nou reeds volle verantwoordelikheid neem, vir die vakke wat jy op skool neem, vir die kursus wat jy op universiteit volg, of  met wie jy ‘n verhouding aanknoop. Jy  moet 100% verantwoordelikheid neem. Kom na ons toe en vra raad, maar jy moet eienaarskap aanvaar.

Nommer twee: Doen asseblief dit waarvoor jy lief is, doen waarin jy goed is. As jy dit doen, dan bereik die twee dinge ‘n kruispunt en dis waar die magic gebeur. Dit gebeur al te dikwels dat mense nie doen waarvoor hulle ‘n passie het nie en wanneer hulle daardie fout maak, vra hulle hulself dikwels aan die einde van hul lewe waarom hulle iemand anders se drome nagejaag het en waarom hulle nie hul eie talente gebruik het nie.

Wat neem dit vir iemand om uit ‘n situasie te kom, as hulle in daardie strik getrap het om nie hul passie en drome te volg nie?
Daai ontsnapping is nie maklik nie. Mense raak op ‘n manier gewoond aan die sekuriteit van middelmatigheid. Daar moes ‘n stadium wees waar my ma baie bekommerd was nadat my pa oorlede is, toe ek na my studies as regsgeleerde by ‘n top firma in Londen gewerk het en ek haar vertel het ek wil swem.Sy het geen oordeel gemaak nie. Sy het my net ondersteun. Sy is soos enige ma wat net wou hê haar kind moet gelukkig wees.

In jou geval is jou span baie belangrik. Jou ondersteuningspersoneel gaan soms deur erge dinge, soos die Generaal wat ‘n pad deur die ys gekerf het en Nic Marshall wat ‘n pad vir jou gebaan het deur die jellievisse tydens die Teems-swem. Is hulle die onbesonge helde van jou ekspedisies?
Ek wou elke storie kort hou, mense het nie tyd vir langer goed nie. Dit moes wees soos ‘n Afrika-storie wat onder ‘n boom om die kampvuur vertel word. Elke storie moes ook die punch aan die einde hê. Ek wou ook praat oor hierdie onbesonge helde, nie om hulle te verheerlik of op te hemel nie, maar net om die waarheid te vertel oor wat hulle gedoen het. Hulle het soveel ongelooflike goed gedoen. Die Generaal het sy dagboek vir my gestuur, want hy is besig om ‘n boek te skryf vir sy kinders. In sy dagboek beskryf hy hoe ons by Everest  op gaan en dan skryf hy hoe hy in een stadium nie weet of hy dit sal kan doen nie, omdat hy die vorige nag omtrent niks geslaap het nie. Dis wat gebeur wanneer mens boontoe gaan, jy kry bergsiekte – jy sukkel om te slaap en ook om asem te haal. Hy het gedink hy is besig om dood te gaan. Maar dink jy ek het ooit ‘n woord daarvan gehoor? Nee, elke oggend was hy op en wakker en vrolik. Ek het eers bewus geraak hiervan toe ek sy dagboek gelees het. Nicholas Marshall kan kwalik onthou dat daar jellievisse in die  Teems was, maar hy onthou darem die swem!

Die Deception-eiland swem blyk ‘n keerpunt te wees vir jou. Is dit so?
Dit was die ware keerpunt, want daar het ek besef die quest waarop ek was, was nie belangrik nie. Daar’s iets veel belangriker – dit wat besig is om met die omgewing te gebeur. Dit het net binne my begin brand. Ek wonder waar ek vandag sou wees as ek nie Deception-eiland geswem het of miskien ‘n ander roete geswem het waar daar nie al daardie walvisbene was nie. Ek is onlangs gevra hoe vind mens jou passie en my passie het soort van stadig ontvou. Mense wat sê  hulle het skielik hulle passie ontdek, analiseer dit verkeerd. Dis gewoonlik ‘n verloop van gebeure. Dis soos om vir goud te myn. Soms kry jy die goud op die oppervalk en dan is jy regtig gelukkig. Vir die meeste van ons is dit nie so nie, ons moet diep in onsself delf om daardie spesiale ding te vind.

Waarom het jy die boek aan David Becker opgedra?
Ek was baie gelukkig om twee mentors te hê, na my pa oorlede is. In die weermag was dit die Generaal en met regte was dit David Becker. Eendag het ons buite St.Pauls gestaan en toe sê ek vir hom ek wil ná die Noordpool gaan. Hy het vir my gesê hoe belangrik dit is op jou drome na te jaag in hierdie lewe. As daar een mens was wat my gehelp het om al die swemme te kon vermag, dan is dit David. My vorige boek het ek aan my pa opgedra en my  volgende een sal ek aan my ma opdra.

Stel wat jy doen eise aan jou huweliksverhouding?
Ek ken Antoinette al vandat ek 16 is. Sy ken my soos ek is. Dit beteken nie dat sy nie worry nie. Ek probeer haar kommer minimaliseer deur die regte span te kies. Ek doen hierdie dinge omdat ek wil lewe, nie omdat ek wil sterf nie. Ek sorg dat baie veiligheidsmaatreëls in plek is en sal nie in die water klim as ek nie veilig voel nie. My vrou lei honde op. Sy is passievol oor diere. Sy is lief vir die omgewing, so dit waarvoor ek staan, is ook iets waaroor sy omgee.