p1040974_1_
Lewe + Liefdes

Liberië is nie vir sissies nie

Hulle het onlangs dié onstabiele land verlaat en woon en werk nou in Ghana. Theuns bestuur hier ‘n uitvoer-pynappelplaas. Ria vertel meer van hul tyd in Liberië, waar die gebrek aan infrastruktuur meebring dat jy goed moet beplan.

Lees ook Ria se kuberkuier in SARIE, April 2013.

Waar het julle gewoon in Liberië?
Liberië is soos SA in nege provinsies of “counties” ingedeel. Ons het in die provinsie Maryland op die plantasie Cavalla, naby Pleebo City, ‘n klein dorpie naby ‘n groter hawedorp, Harper, gewoon. Voor die oorlog was Harper een van die uitvoerhawens en ‘n pragtige kusdorp met die mooiste argitektuur. Daar is steeds mooi ou geboue, maar die meeste is stukkend geskiet en afgebrand in die oorlog. Maryland is die mees onderontwikkelde provinsie van almal.

Liberië was die eerste republiek in Afrika en het ontstaan omdat die vry slawe wat van Amerika teruggekom het, hulle hier gevestig het. Hier is steeds sterk bande met Amerika en dis elke Liberiër se droom om Amerika ten minste een keer in sy of haar leeftyd te besoek. Hulle pendel baie na Amerika en doen aankope daar. Baie mense het steeds familie daar en praat ook nog met ‘n swaar Amerikaanse aksent.

Liberië was vir jare in ‘n burgeroorlog gewikkel. Is daar nog hoegenaamd enige infrastruktuur?
Die burgeroorlog het in 1989 uitgebreek en tot 2003 geduur. Daar is weinig oor ná die oorlog. Ons het 700 km van die hoofstad, Monrovia, af gebly, die enigste plek waar ons kon inkopies doen. Andersins moes ons Ivoorkus toe gaan. Daar is geen behoorlike pad na Monrovia nie en dit neem tussen 15 tot 18 uur om daar te kom. Daar is ook geen geriewe onderweg nie – nie toilette, eetplekke of vulstasies nie. Ons moes diesel saamry.

Monrovia is ‘n taamlike groot stad en die tekens van oorlog is oral te sien. Vir ‘n Afrika-stad is dit besonder skoon. Volgens wet is elke laaste Saterdag van die maand ‘n opruimingsdag. Sakeondernemings mag dan nie voor tienuur oopmaak nie en ook nie voor die stad skoon is nie. Ongelukkig is dit nie ‘n produserende land nie, alles word ingevoer en die lewenskoste is baie hoog. Die Liberiërs is nie goeie sakemense nie en die meeste ondernemings word deur Libanese, Indiërs en Chinese bedryf. Die Libanese supermarkte hou interessante kosse in voorraad, baie “aardse” produkte soos dadels, sade, olyfolies, neute en kruietee. Ons het altyd in die Libanese hotelle in die stad gebly, omdat hulle kos die beste is.

Is daar nou vrede en hoe is die mense geraak deur die oorlog?
Die gemeenskappe is rustig ná die oorlog, maar ek dink hulle voer steeds ‘n oorlog … in hulself. Hulle vertrou niemand maklik nie. Hulle is altyd op hul hoede en is redelik aggressief en wil net baklei. Jy kan nie maklik ‘n grappie met die mense maak nie. Ons het geleer om reguit en op die man af te wees met hulle.

Ek dink veral die vroue kry baie swaar ná die oorlog. Baie van hulle is daardie tyd verkrag en het dus op jong ouderdomme swanger geraak. Die algehele gebrek aan infrastruktuur maak dat skoolopleiding ook baie gebrekkig is. Die onderwysers word uiters swak betaal, indien hulle betaal word. Daar is so baie kinders en so min skole dat skool in twee sessies gehou word – een in die oggend en een in die middag.

Kon julle darem ontspan daar?
Daar is werklik geen restaurant of ontspanningsgeriewe waar ons gebly het nie, alles gebeur in Monrovia. Die slegte paaie maak dit onmoontlik om te reis in Liberië. Ons het maar die nabygeleë plekke soos Harper besoek en by die hawe gesit en die see geniet. Die baie seestrome maak dit baie gevaarlik om te swem. Ons kon wel die maatskappy se boot gebruik en Theuns en sy twee Franse kollegas het soms gaan visvang. Ons en die Franse kollegas het ook oor en weer gekuier en geleer van verskillende kulture. Rooivleis was skaars en ons het baie vis en kreef geëet.

Wat het die grootste indruk op jou gemaak?
Dis ‘n pragtige land van kontraste, van savanna tot bos tot bewerkbare landbougrond. Liberië is ryk aan minerale, maar ongelukkig is die vaardighede van die mense baie beperk en die myne word hoofsaaklik deur buitelanders bedryf. Die land se gebrek aan infrastruktuur maak ontwikkeling feitlik onmoontlik.

Ek sal altyd die mense se stryd om oorlewing met my saamdra, hul seer en stukkend wees ná die oorlog – stukkende mense en stukkende geboue. Dis asof dié mense Sondae reserveer vir “heel wees”, dan is almal netjies aangetrek en op pad na ‘n kerk. Die land is oorwegend Christelik, maar wanneer die omstandigheid van jou vereis om ‘n Moslem te wees, is jy ‘n Moslem – alles ter wille van oorlewing. Ongelukkig is die korrupsie geweldig hoog en niks word gedoen sonder ‘n omkoopgeldjie nie.