toulopers
Lewe + Liefdes

Liefde, avontuur en hoop vir tieners

Ons het groot geword met die avonture van Saartjie, Kobie en haar koshuismaats in Maasdorp, Keurboslaan en Trompie. Dit was wonderlik. Maar soos wat ons lewens meer modern word, moet die wêreld van boeke dikwels ook bietjie vernuwe.

Ek het vyf boeke vir tieners uitgesoek en elkeen op ’n ander vlak geniet. Die karakters het insig, realistiese lewenskwessies, goeie waardesisteme en tonne humor. Ek sal so ver gaan om te sê nie net tieners gaan lekker hieraan lees nie, maar ook ouers, broers, susters, ooms, tannies en dalk nog sommer Ouma ook! Wie kan dan jou eerste liefde vergeet? Of die kameraderie wat daar net tussen tienervriende kan wees?

Moenie dié boeke onderskat nie!

Onthou om ons elektroniese boekwinkel op kalahari.com te besoek om van die boeke teen afslagpryse te bestel.

Toulopers, saamgestel deur Jaco Jacobs (LAPA Uitgewers, R80)
Hoe kan tieners ’n liefde vir die digkuns ontwikkel as hulle net in die klaskamer aan dié kuns blootgestel word? Nou gee dié digbundel vir tieners 54 gedigte waarmee hulle kan assosieer – lees oor tienerliefde, gebroke harte, ouers wat nie luister nie, sosiale media, ADHD, vrees en al die ander kwessies waarmee vandag se jonges stoei. Met gedigte deur Fanie Viljoen, Franci Greyling, Annie Klopper, Izak de Vries en 24 ander Afrikaanse woordkunstenaars sal elke gedig met die jong, tienerhart praat – selfs die tienerhart wat nog in volwassenes skuil.

Amper Einstein 

Amper Einstein, Christien Neser (Tafelberg, R130)

Leonard en sy vriende, Jarred, Hannelore en Greeff,  is ingeskryf vir ’n brugboukompetisie. As hulle kan wen, kan Leonard die kans kry waarvan hy droom – ’n beurs na een van die goeie universiteite in Amerika toe. Maar die lewe is nie so ordelik soos wiskunde nie, ten minste nie vir Leonard se gesin nie. As sy jonger broer, Mischa, met Asperger-sindroom gediagnoseer word, begin Leonard uiteindelik sy klein Einstein-broer verander. Dit word ’n baie mooi storie oor die liefde tussen broers en hoe ’n ‘freaky’ gesin leer om met Aspergers saam te leef. Dan is daar natuurlik ook die onskuldige tienerliefde wat tussen Leonard en Hannelore wil kop uitsteek. Die boek lees vinnig en maklik en die meeste tieners, veral dié wat deel van hul skool se geek-klub is, kan daarmee identifiseer.

 Agent Alex

Agent Alex – Spioenkop Akademie, Justin Richards (Protea Boekhuis, R90)

Alex en sy ouers trek na ’n nuwe buurt toe en so  moet hy nou ook ’n nuwe skool kry. Hulle stuur hom na Spioenkop Akademie, maar besef nie hoe spesiaal dié skool is nie. Want Spioenkop Akademie is nie sommer ’n gewone skool nie – dis waarheen seuns en meisies wie se ouers en voogde betrokke is by die Geheime Diens gaan. Hier is die kinders veilig teen gevaar. En Alex is in ekstase, want hy doen baie goed by sy nuwe skool, veral in vakke soos Sabotasie en Kamoeflering en hy kry ’n klomp interessante nuwe vriende. As ’n belangrike satelliet van die Geheime Diens verdwyn, moet die leerders van Spioenkop Akademie seker maak hulle kry dié bate voor die skelms! Die storie is propvol staaltjies en avontuur wat jong mense sal laat skater én hul naels sal laat kou! Vertaal deur Carina Diedericks-Hugo.

 Onkant

Onkant, Nerine Ahlers (LAPA Uitgewers, R100)

Kayla het gedink haar lewe is perfek – ’n mooi huis, liefdevolle ouers, ’n hot en famous kêrel en min bekommernisse. Toe verloor haar pa sy werk en Kayla moet saam met haar ouers by ’n woonstel bokant die Spar intrek. Skielik wil sexy Emile nie meer by haar kom kuier nie, sy kan nie vir hokkietoere betaal nie en almal kry haar jammer. Die enigste uitweg is om die beste hokkie van haar lewe te speel, sodat sy die hokkiebeurs kan kry. Maar wat van Coach, wat haar deesdae so ongemaklik maak? Uiteindelik leer dié storie tieners dat hulle enige kwessies kan oorkom, veral as daar goeie vriende is om jou te help. Dis ’n storie van vriendskap, oorlewing en die waarde van goeie beginsels.

 Danda

Danda, Chris Barnard (Tafelberg, R130)

Danda het agt dae om meer as 100 km op sy tuisgemaakte vlot te reis. Anders kan sy pa alles verloor. So pak hy en sy troeteldiere – Vlooi die hond, Sindo die nagapie, die kraai Kiki en sy mank Ratel – die tog aan. Dan is daar nog ongenooide gaste wat sy reis stadiger maak. Om nie eers van die hiënas, krokodille en seekoeie te praat nie. Gaan Danda betyds by die hawe kom om sy pa te help? Dié boek is pure avontuur. Dit gaan oor ’n jong seun uit moeilike omstandighede wat enige iets vir sy pa sal opoffer. Nie net beklemtoon Danda se reis ’n motief van natuurbewaring nie, dit leer die jong leser ook baie oor die natuur.