Lewe + Liefdes

Local is lekker!

Altesame 28 Suid-Afrikaanse boeke kry van nou tot 27 Junie ‘n kans om te skitter in Exclusives se HomeBru-projek. Die boeke is so uiteenlopend soos die bevolking van ons land. Nataniël, Piet van Rooyen, Christiaan Bakkes, Riaan Cruywagen en Dana Snyman is van die Afrikaanse skrywers wie se boeke vanjaar die lys gehaal het.

 Nicky & Lou  Hiervandaan  Die Staat teen Anna Bruwer  Rodriguez Stoffel op safari   Riaan Cruywagen

Nataniël en Dana Snyman is al so deel van ons Afrikaanse leeskultuur soos brood en botter.  Nicky & Lou (Human & Rousseau) is ‘n bundel met 46 Afrikaanse en Engelse stories wat sedert 2007 deel van Nataniël se vertonings was. Sy stories tref altyd ‘n aar. In Hiervandaan reis Dana Snyman op die agterpaaie op soek na sy herkoms. Altyd teenwoordig is die humor en patos waarmee hy skryf oor die mense wat hy op sy reise raakloop.

Volgens Rene Brophy, bemarkings- en reklamebestuurder van Exclusives, is daar ‘n sterk verteenwoordiging van Afrikaanse titels op die HomeBru-lys, want daar is “tans ‘n sterk kultus-aanhang van Afrikaanse boeke in die SA uitgewerswêreld en HomeBru poog om dit te reflekteer”.

Ander skrywers wie se boeke vanjaar se lys gehaal het, is Lawrence Anthony met Graham Spence. Sy boek, The Last Rhinos (Sidgwick & Jackson), wat ná sy skielike dood vroeër vanjaar gepubliseer is, vertel oor sy desperate poging om iets aan die lot van renosters te doen. Ook op die lys is Roger Smith, Sarel van der Merwe saam met Steve Smith, Michiel Heyns en Imraam Coovadia.

The last Rhinos SuperVan & I Year of the gherkin A Week in The KitchenT Invisible Furies

Brophy sê die lys is saamgestel met toeganklikheid in gedagte en daar is nie gefokus op intellektuele literêre werke nie. Dit gaan hier eerder oor die stories oor die lewe van gewone mense en dinge wat vir gewone lesers saak maak.

Ek is trots Suid-Afrikaans en gaan beslis ‘n paar van my gunsteling-skrywers se boeke aanskaf terwyl dit lekker voor in die winkels pronk!