louis_brittz
Lewe + Liefdes

Louis Britzz oor sy nuwe boek

In Februarie 2010 het Louis Britzz en sy gesin deel van die misdaadstatistiek in Suid-Afrika geword. Hulle was die slagoffers van ‘n gewapende roof in hul huis in Centurion, Pretoria. Hettie, sy vrou, is verkrag. Ná die voorval het hulle in ‘n onderhoud met Nuus24 gesê: “Dit sal oor tien jaar relevant wees as hulle kan getuig oor alles wat hieruit voortgevloei het.”

Dis weliswaar nie tien jaar later nie, maar in Louis se jongste boek, Wat Wenners Weet (Struik Christelike Boeke, R140), skryf hy in die inleiding openhartig en eerlik oor hierdie gebeure, want dis juis sulke gebeure wat maak dat hy en sy gesin wenners is. Dat hulle die aanval kon oorleef en heel anderkant uitgekom het en dit nou gebruik om getuienis te lewer van hul geloof en hoe hulle sterker en geestelik gesonder daaraantoe is.

In hierdie boek deel hy sekere lesse van wat dit beteken om ‘n wenner te wees en hy bespreek die beginsels waarop so ‘n leefstyl rus. Ek het  per e-pos met hom gesels.

Waarom het jy die boek geskryf?
Ek het in die afgelope tyd besef dat ‘n versameling beginsels oor ‘n lewe van oorwinning baie nodig is, omdat mense dikwels sukkel om die kaf en die koring van mekaar te skei in hul geestelike lewens – ook omdat boeke hieroor dikwels te dik is. Ek besef meeste lesers het vandag nie baie tyd nie. Ek wou die belangrikste beginsels, wat vir my ‘n lewe van oorwinning teweegbring, op ‘n ‘hier’s die bottom line’ manier oordra, hopelik op ‘n helder manier wat maklik en vinnig lees.

Jy skryf baie openhartig in die inleiding oor die gewapende roof en verkragting van jou vrou, Hettie. Wat is die waardevolste les wat julle uit hierdie gebeure geleer het?
Ons het geleer dat mens in jou donkerste uur nie alleen is nie; dat God nader as jou vel is en dat dit juis die krag van ons oorwinning oopsluit. Jy moet hom kan ‘sien’ en ‘hoor’ in so ‘n situasie, en ons loof die Here dat ons reeds geleer het hoe om God deur die newels van hierdie wêreld raak te sien. Die tweede belangrike les is iets wat ons lankal weet: dat mens enigiemand vir enigiets kan vergewe en dat dit jou vrymaak!

Vir wie het jy hierdie boek geskryf?
Vir mense soos ek wat nie net wil oorleef nie, maar wil wen – in hierdie wêreld, en in die ewigheid hierna. Ons is nie hier net om suurstof te steel nie, maar om ‘n verskil te maak en vervulling te beleef! Ek het dit ook geskryf vir mense wat nie hou van herhaling en ‘n lang geborduur op temas nie, maar steeds erns wil maak met swakhede wat hulle in hul eie lewens raaksien. Dis vir mense wat wil groei . . .

Hoe sou jy jou boek beskryf – as ‘n werkboek, selfhelpgids?
Dis eerstens ‘n spieël: as ek in elke hoofstuk skryf dat ‘n wenner sekere dinge weet en doen, hoop ek die leser sal hom, of haarself daaraan meet. Weet ek dit?  Doen ek dit?  Daarom is daar klein ‘begin hier . . .’ werkstukkies na elke hoofstuk – om die leser betrokke te maak by die materiaal. Dis dus ‘n leesboek en ‘n werkboek wat mense alleen of  in kleingroepe kan deurwerk.

Is jy steeds betrokke by jeugopleiding en is dit vir jou belangrik om betrokke te wees?
My grootste huidige projek wentel om tieners. Ek glo dis die belangrikste generasie om te ontwikkel en dat ons as kerk baie swak daarmee vaar. Ons moet besef dat ons geestelike erflating in die lewens van kinders en jongmense gaan voortleef. Die vraag is: Is ons besig om daardie belegging by hulle te maak? Dis makliker om ander generasies te bedien, dis verseker, maar geen werk is belangriker as om jongmense op ‘n stewige koers vir hulle toekoms te plaas nie.

Hoe balanseer jy alles wat jy doen, sing, skryf en musiekvervaardiging ens?
Ek hou daarvan om verskillende goed gelyktydig te doen, en ek doen niks alleen nie. Ek is oral deel van spanne mense wat verskriklik kundig, passievol en gedrewe is. Ek maak net seker ek hap my stukkie van die olifant raak – maar ek probeer hom nie alleen opeet nie :-)

Is daar ‘n nuwe projek in die pyplyn?
As musiekvervaardiger is ek besig met Soweto String Quartet se ‘Afrikaanse Treffers 2’ album wat in September die rakke tref, en verder reël ons kliphard aan #Imagine, die tienerprojek vir 2014 waarvan ek in ‘n vorige antwoord vertel het. ‘n Hele rits optredes in Suid-Afrika en elders lê voor, en ek bied saam met Retief Burger en ander opleiers tydens September twee opleidingsgeleenthede aan vir aanbiddingsleiers en gemeenteleiers wat met aanbidding gemoeid is. Dis ‘n voorreg om die kerk so te mag dien.