FOTO: verskaf

Boeke

Marlize Hobbs gesels oor Score my ‘n gwai

Agt lang jare het verloop sedert die publikasie van Marlize Hobbs se pryswennende debuut. Nou is daar ‘n tweede boek uit haar pen.

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Score my ‘n Gwai (Human & Rousseau, R165) vertel die verhaal van twee karakters wie se lewens verweef is. Siena Maamogwe werk op ‘n plaas in die Louwna-omgewing anderkant Vryburg. Hier woon Miesa, saam met haar boeties, Harry en Barend, en haar ma Betta en pa, Wilhelm. Haar verhaal loop van haar kinderdae tot waar sy volwasse en getroud is. Siena is die waarnemer wat alles sien, maar haar lewe draai tot ‘n groot mate om die van Miesa vir wie sy moet besig hou. Alles is nie lekker pluis in Miesa se huis nie. Haar pa kom terug van die Grens af, gebroke en verbitterd. Haar ma sien wat gebeur, maar wil ook nie sien nie. Siena sien alles en probeer op haar manier om Miesa te koester. Toe het daar ‘n tyd gekom waar Siena nie meer wou sien nie – en het sy “haar dolosse in die vuur gegooi. Miesa was twaalf en die borsies het soos bysteke gesit. Ek het gesien en geweet ek wil nooit weer die môrens vooruitsien nie.”

In hierdie boek is daar heelwat onderliggende temas, net soos in Flarde wat in 2005 gepubliseer is. Dié boek is bekroon met drie pryse: Die Eugène Marais-prys, die UJ-prys vir ‘n debuutwerk en die Jan Rabie/Rapport-prys vir innoverende skryfwerk. In haar nuwe boek raak sy aan bloedskande, rassisme, die soeke na self, die soeke na geluk, die kompleksiteit van ‘n patriargale stelsel wat vroue se stemme stil maak . . . Op die vraag of daar ‘n volgende boek in wording is, antwoord Marlize eerlik: “Ek werk aan ‘n bundel erotiese verhale en aan ‘n digbundel. En ek is in die dinkfase van ‘n nuwe boek. Ek het darem die eerste paragraaf geskryf en weet waarheen die verhaal gaan en nou wag ek maar.”

Jy gebruik ‘n baie persoonlike stem in jou boek, maar dis nie noodwendig biografies nie.
Ek vat werklike insidente en gebeure en ek verwerk dit in ‘n storie. Party goed is waar en party goed is nie waar nie. Vir my moet dit net real wees, maak nie saak wat dit is nie. As jy dit lees, moet dit vir jou werklik wees. Jy moet voel jy is daar in die oomblik. Die enigste manier wanneer iets vir jou werklik voel, is as daar nie melodrama betrokke is nie. Wat iets vir jou werklik maak, is wanneer dit gestroop geskryf is. Dis vir my die grootste kompliment as iemand vir my sê my werk is gestroop. Wat vir my ‘n werk real maak, is juis daardie kort en kragtige, amper digterlike kortheid wat dan simbole voed wat ‘n skop in die gut is. Dis ‘n geweldige onbewuste proses. Ek gaan dink oor ‘n boek vir jare en dan eers gaan ek oor tot skryf. Ek word onmiddellik moeg as ek ‘n idee kry. Ek wil net in die bed gaan klim en slaap, sodat die onderbewussyn sy ding kan doen. Wanneer die verhaal dan uitkom, lees dit baie meer vloeiend as ‘n boek wat uitgedink is.

Van die tema’s wat in Flarde was, kom nou weer voor in hierdie boek. Het die feit dat jy ‘n opgeleide maatskaplike werker is ‘n invloed op die temas waaroor jy skryf?
Dit doen. Skryf is ook ‘n baie goeie vorm van terapie; mens gebruik stories om trauma te verwerk. Om die beskrywing van die karakter goed te kan doen, moet jy al in kontak gewees het op een of ander vlak. Die ooreenkoms tussen skryf en maatskaplik is, albei is waarnemers van die intenste soort moontlik. In maatskaplik wanneer jy ‘n verslag skryf, sal jy juis skryf oor dit wat jy nie gehoor het by die kliënt nie en jy sal op die stiltes fokus en dit aan die lig bring. As skrywer doen jy dieselfde. Jy observeer, jy gaan dink daaroor en dan gaan maak jy iets daarvan.

Dink jy jou lewe het jou gedruk om in hierdie spesifieke genre te skryf eerder as romantiese verhale of rillers?
Ja. Ek dink jou lewensondervinding en waar jy vandaan kom maak dat jy tematies familiêr is met die onderwerp. Jy verstaan en jy ken dit. En as jy daaroor skryf, lees dit werklik.

Is jy ‘n goeie waarnemer?
Ek hoop so. Omdat ek baie skaam is, word ek in groepe onmiddellik die waarnemer. Die persoon wat teruggetrokke is, lees ook gewoonlik die skare die beste, want jy kom in die gewoonte om nie die fokus te wees nie.

Daar is twee stemme in die boek. Waar kom die inspirasie vir Miesa en Siena vandaan?
Ek het ‘n Siena in my lewe gehad. Ek was een van ‘n tweeling en dit was vir ma baie werk, want my oudste broer het ‘n hartkwaal. So Siena het my besig gehou met prentjies teken en storietjies. Selfs my politieke bewussyn het van haar af gekom op ‘n vreemde, indirekte manier. Dit het my laat vrae vra oor die politieke bestel. Dit aan die een kant. En dan aan die ander kant, die beeld van die waarnemer wat alles sien tot die punt waar jy nie verder wil sien en waarneem nie – dat jy die dolosse in die vuur gooi want dit is net te veel. In Flarde sal die maatskaplike werker op ‘n punt sê sy is moeg en seer van al die dieper in die mens kyk. Dit is wanneer waarneming ook ‘n las is.

En Miesa?
Ek dink oor die algemeen is kinders meer kompleks as wat ons dink. Ek kyk na my dogtertjie wat outisties is en haar klein wêreld wat heeltemal anders is as enigiemand anders se wêreld. Baie van Miesa se karakter kom ook uit die ervaringswêreld van ‘n persoon met outisme wat nie aan die buitewêreld gekommunikeer kry wat dit is wat ek wil hê, of waarheen ek op pad is nie. Daar is net nie die vermoë om dit te doen nie. Dit kom basies daarop neer: Siena is in haar andersheid alleen, Miesa is in haar andersheid alleen en ook die outistiese kind in die boek is in haar andersheid alleen. Maar hulle alleenheid maak hulle verbonde aan mekaar.

Een van die onderliggende temas wat jy aanraak is bloedskande. Dis vir my opvallend dat daar deesdae meer in Afrikaans hieroor geskryf word.
Skrywers is minder bang om moeilike onderwerpe aan te raak. Dit is ‘n onderwerp waaroor party lesers glad nie sal wil lees nie. En natuurlik, dis die grootste taboe. Om nou so ver te gaan om daaroor te skryf, sê jy by implikasie iets van die wit Afrikaner man. Dit gaan oor ‘n patriargale stelsel waar omdat ek die mag het, het ek die mag tot die uiterste toe. Totale mag korrupteer jou. Dit was die wit Afrikaner man wat die mag gehad het. Die vrouens het nie veel mag gehad nie. Vandag nog het jy jou Angus Buchans met hulle ‘mighty men’ en wat is die vroue? Jy moet waardig wees vir jou man. Die hele morele las wat op ‘n vrou geplaas word, is ongelooflik. Dit het nie verander nie, nie vir my nie.

Wanneer jy begin werk aan ‘n boek, is daar bewuste temas wat jy wil aanraak?
Dit is bittermin ‘n bewustelike tema. Na Flarde was daar soveel temas wat uitgekom het, wat ek nie eens besef het dit was daar nie. Maar met die terugblik is dit daar. Dieselfde met Score my ‘n gwai. Vir my gaan die boek daaroor om iets verniet te kry; om genade te kry. Dit is ook ‘n pleidooi om nie die foute van die verlede te herhaal nie. Terselfdertyd is dit ‘n pleidooi vir menslikheid, vandaar “ ‘n mens is ‘n mens deur ander mense.”

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Daar was ‘n baie lang tydsverloop tydens Flarde en hierdie nuwe boek. Flarde was bekroon met drie pryse. Hoe moeilik was dit daarna om weer ‘n boek te skryf?
Mens is skoon bang. Die vreemde ding is Flarde was ook deur ‘n hele paar uitgewers afgekeur voordat Genugtig bereid was om dit uit te gee. Score my ook. Die kritiek was nie teen die skryfwerk as sulks nie, maar eerder teen die storie. Maar in die tydsverloop, na ek die pryse gewen het – daar was pressure op my om beter te doen, want jy het hierdie standaard gestel. Daar was van die resensente wat gevra het of ek dit sal kan herhaal, en of Flarde die totaliteit van my skrywe was. Wat ek gedoen het, was om tussenin kortverhale en erotiese verhale te skryf. Ek het ook eers bietjie geleef . . . Wat mens doen is om uiteindelik vrede te maak met die feit dat jy eintlik talent het. Dit mag wees dat jy regtig goed is. Glo dit en implimenteer dit en gaan sit net en skryf. Onbevreesd.