Lewe + Liefdes

Mense en hul dinge

Lees jy tydskrifte, sien jy hoeveel artikels gepubliseer word oor verhoudings. Daar word raad uitgedeel oor emosionele kwessies wat saak maak, sowel as die fisieke dinge soos seks en erotiek. Jy kan kies en keur uit kenners soos Dr. Phil en Dr. Eve, of jy kan skryf aan ‘n tydskrif of ‘n koerant se biegtante. Deesdae help mense mekaar ook sommer op Facebook, want daar kan jy talle ondersteuningsgroepe volg.

Hierdie week is my leeskeuse boeke wat almal op die een of ander manier oor verhoudings handel. Sommige is ligte liefdesverhale, ander het ‘n kinkel in die verhaal, maar almal fokus op mense en hul dinge. Die eerste boek op my lysie is The Silver Linings Playbook, wat ook verfilm is en waarvoor Jennifer Lawrence met ‘n Golden Globe as beste aktrise in ‘n komedie of musiekblyspel bekroon is. Die fliek is ook vir 8 Oscars benoem.

Onthou om ons elektroniese boekwinkel op kalahari.com te besoek om van die boeke teen afslagpryse te bestel.

The Silver Linings Playbook, Matthew Quick (Pan Macmillan, R105)
Pat Peoples is ’n optimis. Ná ’n paar jaar in ’n psigiatriese inrigting probeer hy om sy lewe en huwelik met sy vrou, Nikki, weer op dreef te kry. Die voorwaarde vir sy ontslag uit die inrigting is dat hy by sy ouers woon totdat hy herstel het. Sy pa praat nie ’n woord met hom nie en sy ma probeer haar bes om dié probleem op te los. Hy ontmoet tydens ’n ete die eksentrieke Tiffany. Dié twee knoop ’n unieke vriendskap aan en help mekaar op hul eie manier om oor hul hartseer te kom.

Ek was van die heel eerste bladsy reeds mal oor Pat, wat ook die verteller van dié storie is. Ek het onmiddellik deernis gevoel vir dié saggeaarde siel wat probeer om die silwer randjie van elke situasie raak te sien. Matthew Quick kry dit reg om karakters te skep wat jy ook in jou eie lewe ken en dit is hoekom ek myself so met dié boek kon vereenselwig. – Liesl du Toit

An Intimate War 

An Intimate War, Donvé Lee (Jacana, R150)
As jy van erotiese verhale hou, dan sal jy hierdie boek geniet. Daar is heelwat seks, wat nogal grafies beskryf word. Soms raak die seks bietjie baie, en soos enigiets wat té is, kan dit verwater raak.

Die verhaal is boeiend en terselfdertyd frustrerend. ‘n Geskeide skilder raak betrokke by ‘n man wat emosioneel te kort skiet. Sy grootwordjare het gesorg vir ‘n hele paar kwessies wat hom jaag en wat hy projekteer in sy verhoudings met vroue.

Die skilder is ‘n sterk, onafhanklike en talentvolle vrou en behoort baie goed op haar eie oor die weg te kom. Tog verbind sy haar emosioneel aan hierdie man wat haar as sy mindere ag en probeer om haar lewe te beheer en te reguleer. Selfs wanneer hul verhouding op die rotse is, sukkel sy om haar emosioneel van hom te distansieer.

Die verhaal is intiem en emosioneel geskryf en ‘n hele paar verhoudingskwessies word daarin aangeraak. Ek kon egter nie help om die skilder te wil wakker skud en te laat aanbeweeg met haar lewe sonder hierdie bagasie van ‘n verloorder nie. – Phyllis Green

 Skoenlapper

Skoenlapper, Irma Venter (Human & Rousseau, R180)
Alex Derksen is ’n gesoute, maar lewensmoeë joernalis wat hoofsaaklik vanuit Dar es Salaam in Tanzanië werk. Op ‘n troue iewers tussen dié stad en Arusha ontmoet hy onverwags vir Ranna Abrahams, ‘n pragtige donkerkop vryskutfotograaf. Voor Alex kan keer, is hy halsoorkop verlief op die geheimsinnige Ranna, al weet hy niks van haar nie en verklap sy ook niks oor haarself of haar verlede nie.

Dan spoel ‘n Amerikaanse IT-biljoenêr se lyk op die strand uit en die polisie beskou Ranna as ‘n verdagte in die saak. Skielik bevind Alex hom midde-in die intrige, en die chaos wat hom sy lewe lank agtervolg, kry amper die oorhand.

Hierdie is ‘n briljante verhaal met oortuigende karakters en baie aksie, wat strek van Dar es Salaam tot in die Karoo. ‘n Mens wonder waarom Irma Venter so lank gewag het om haar debuutroman te skryf. Ek kan nie wag vir die opvolg nie. – Retha Burger

 Maanschijnbaai: Jo & Sue

Maanschijnbaai – Jo & Sue, Chanette Paul (LAPA Uitgewers, R195)
‘n Roman waarin lag, liefhê en spanning saam sorg vir ‘n onvergeetlike leeservaring.
Ontmoet die Calitze, vier uiteenlopende vroue, elkeen in ‘n ander lewensfase, elkeen met haar eie geite en ‘n verlede met ‘n hoofletter V.
Maanschijnbaai sal nooit weer dieselfde wees nie, daarvoor het die Calitz-vroue gesorg toe hulle die dorpie in oorlede Casper se pienk Cadillac binnevaar.

Tussen die pragtige fynbos en see-agtergrond staan hul erfporsie, oom Casper se vreeslike turkoois kasarm van ‘n kasteel. Dit gaan baie verg om daardie plek bewoonbaar te maak; nie net geld nie, maar geduld ook. Iets waarvan hulle bitter min het.

Die uitsig op die vissershawetjie is lieflik, so ook die aantreklike en gewillige mans van Maanschijnbaai. Sue besef sy sal versigtig moet wees, want dis bitter min dat Sue Calitz op haar plek gesit word.

Dan is daar Jo, die blondine wat enige warmbloedige man aan onbehoorlike dinge laat dink. Saul moet Jo oorreed om van haar erfporsie afstand te doen sodat hy Casper se eiendom in die hande kan kry om daardie spoghotel te bou.

Maar Zach sien Casper se huis as ‘n simbool wat behoue moet bly en probeer alles in sy vermoë om die restourasie van die kasarm deur te sien.
As hulle die plek leefbaar maak, kan die Calitze dalk die onlangse verlede ontvlug. Jo kan ‘n verhouding wat haar finansieel en emosioneel geruïneer het, verwerk. Sue kan ontsnap van al haar vorige lovers. Nan kan oor die skok kom dat sy afgelê is, en Jeannie, Jo se dogter, kan wegkom van die Maidens of Sappho.

Maar op Maanschijnbaai haal die verre verlede hulle in. Daar is iemand wat reken Casper se erfenis kom nie die Calitz-slette toe nie. 

Ek sien uit na die avonture van deel twee: Nan & Jeannie. – Ronel Taljaard

 The Notebooks of Don Rigoberto

The Notebooks of Don Rigoberto, Mario Vargas Llosa (Faber & Faber, R129,95)
Die Peruviaanse Nobelpryswenner Mario Vargas Llosa boei ‘n mens van begin tot einde in hierdie verheerliking van erotiek. Die agtergrond is moderne Lima, die hoofkarakters is hy, sy engelagtige dog Mefistofeliese (bose) seun, Fonchito, sy beeldskone vrou, Lucrecia, die spilpunt van sy drome, en die parmantige, aantreklike huishulp, Justiniana. Newekarakters se doel is om begeertes en drange, bevredig of onbevredig, uit te beeld. Don Rigoberto skryf notaboeke vol eksotiese, erotiese fantasieë. Hy is ’n voyeur. Bedags is hy die direkteur van ’n versekeringsmaatskappy. Deur sy verbeeldingsvlugte ontsnap hy van die “burokratiese puin”, “desperately seeking refuge in his fantasies so as not to go mad or commit suicide”.

Wees gewaarsku, dit grens dikwels aan promisku. – Malene Breytenbach

 Eendagmooi

Eendagmooi, Kristel Loots (LAPA Uitgewers, R185)
Janeke bevind haarself in die posisie waarin geen vrou ooit wil wees nie: ná ‘n huwelik van sestien jaar en twee kinders vind sy uit sy is weer onbepland swanger. Haar man, Fanus, reageer met skok en afgryse op die nuus. Haar hele wêreld val binne die bestek van ‘n paar weke uitmekaar nadat sy die nuus gehoor het. Fanus trek uit en praat van ‘n egskeiding en Janeke moet alleen die mas opkom met ‘n moeilike sestienjarige tiener en ‘n tweejarige baba wat skaars uit die doeke is.

Hierdie boek beskryf met deernis en ‘n goeie skeut humor hoe die pittige Janeke probeer sin maak uit alles wat met haar gebeur. Janeke is ‘n sterk vrouekarakter wat hoegenaamd nie in sak en as gaan sit en ween nie. Hierdie is ‘n heerlike, lekkerlees liefdesverhaal. – Retha Burger

 Huis van die wind

Huis van die wind, Sophia Kapp (LAPA Uitgewers, R180)
Rosalie trou met Edward, ‘n Brit, nadat sy in Engeland gaan werk het. Sy is die oudste dogter van die Jordaans van Boshoek, ‘n spogplaas in KwaZulu-Natal. Haar geliefde jonger broer, Willem (en die erfgenaam), verongeluk en die hele familie sukkel om dit te verwerk.

Maar alles is nie pluis op Boshoek met die Jordaans nie en nog minder met Rosalie in Engeland. Haar huwelik is op die rotse. Sy keer terug vir middelsuster, Karen, se troue en deel almal mee sy is besig om te skei en gaan nie terug Engeland toe nie.

Sy begin op KwaMoyeni, buurman Juan Carlos D’Oliviera se spog-gasteplaas, werk. Van dag een is die aantrekkingskrag elektries tussen hulle. Intussen klim die jongste suster, Lizelle, uit die kas. Dit veroorsaak hewige stres. Boonop vind die familie uit dat die tweejarige Daniel van KwaMoyeni die liefdeskind van Willem is. Thandi, Daniel se ma, is egter ‘n swart vrou en Henriette Jordaan, wat ‘n groot rassis en snob is, ontken  alles ten sterkste.

Juan Carlos en Thandi het grootgeword soos broer en suster en gelukkig kan hy vir Thandi en Daniel ‘n tuiste bied. Ná twee maande by KwaMoyeni kan Rosalie en Juan hul gevoelens nie meer in toom hou nie. Die liefdestydbom ontplof behoorlik.

Ek kon die boek nie neersit nie en beveel dit beslis aan. – Jenny du Toit

 Die kamer langsaan

Die kamer langsaan, Annemari Coetser (LAPA Uitgewers, R170) 
Hierdie verhaal binne ‘n verhaal gaan oor Donné wat haar man verlaat ná ‘n ernstige uitval. Sy huur ‘n gemeubileerde meenthuis op die dorp en laat weet haar man per e-pos dat hy nie na haar moet soek nie. Om haar besig te hou besluit Donné om te begin skryf aan haar eerste roman en sy begin ‘n storie opmaak oor die afwesige eienaar van die meenthuis. Al wat sy van die vrou weet, is dat haar naam Theresa is, dat sy sestig jaar oud is, by ‘n oogkundige werk, en saam met haar tagtigjarige moeder by ‘n ouetehuis ingetrek het. Soos haar verhaal vorder, neem Donné se nuuskierigheid oor die ware karakter van die huiseienaar toe.

Donné se eie verhaal en die verhaal wat sy skryf, word slim verweef in hierdie roman. As ‘n eerstepersoonverteller lewer Donné ‘n paar baie pittige kommentare. – Retha Burger

 Mistress of my fate

Mistress of My Fate, Hallie Rubenhold (Doubleday, R215)
In dié eerste deel van ’n trilogie wat gedurende die jare 1789 tot 1835 afspeel, ontmoet lesers Henrietta (Ingerton) Lightfoot, sewentienjarige beskermling van graaf Stavourly. Ná ’n tragiese voorval op die landgoed word sy egter gedwing om voet in die wind te slaan. Sy laat die beskerming van die bekende agter en durf die ellende van die vreemde aan. Uiteindelik, warm op die spoor van baron Allenham (haar verbode liefde), bevind sy haar in Londen waar sy ter wille van haar ongebore kind voor etlike morele tameletjies te staan kom.   

In hierdie verhaal dien Rubenhold, ’n gerespekteerde Britse historikus en kenner op die gebied van agtiende-eeuse maatskaplike geskiedenis, se akademiese navorsingsveld as inspirasie vir haar debuut in fiksie. Die resultaat is ’n gedetailleerde en hoogs vermaaklike historiese hygroman. Haar pittige dialoog en tong-in-die-kies karakterisering, sowel as haar vloeiende skryftrant en afwisseling van feite met verdigsel, sorg vir ’n genotlike leeservaring. – Emsie Viljoen

 Seisoen van genade

Seisoen van genade, Alta Cloete (LAPA Uitgewers, R175)
Karla besluit ná ‘n liefdesteleurstelling in Australië om terug te keer na haar geboorteland, Suid-Afrika. Sy hoop om as ‘n maatskaplike werker hier ‘n verskil in mense se lewe te maak, maar dinge werk nie so uit nie. Sy is ongelukkig en vreemd by die werk, en sy is bang en eensaam alleen in haar woonstel. Dinge vererger toe sy een Sondag ‘n dronk voetganger doodry en die persoon wat tot haar redding kom, Chris Steyn, juis die een mens is wat sy nie kan verdra nie. Chris laat hom nie afskrik deur Karla se afsydigheid nie en help haar om hierdie traumatiese gebeure te verwerk en om ook die spoke uit haar verlede te besweer.

Hierdie is ‘n heerlike, lekkerlees liefdesverhaal wat die leser se belangstelling tot aan die einde prikkel. – Retha Burger