Lewe + Liefdes

Min mense het al van Ras Al Khaimah gehoor.

Waar woon jy en waarom?

Ek en my man, Theo, woon in Ras Al Khaimah (RAK), die mees noordelike en een van die 7 Arabiese Emirate. RAK is so 45 min se ry noord van Dubai en op die Oman-grens. Ná 11 en ‘n half jaar in Engeland het ons besluit dis tyd vir `n nuwe avontuur en son! Ek hou skool by `n privaatskool nl. Ras Al Khaimah English Speaking School British Curriculum (RAKESS BC) en Theo is `n prokureur in Dubai.  Ek geniet die kleuteronderwys baie.

Aanpassing en leefwyse daar?

Toe ons hier aanland, in Augustus 2010, was dit Ramadan. Ons kon nie in die openbaar gedurende die dag eet of selfs water drink nie. Dit was moeilik, omdat ons nuut was en alles wou verken. Dit was in die middel van die somer en die kwik was tussen 40 en 44 grade elke dag! Ons het intussen goed aangepas; winkels, motors, huise en kantoorgeboue het lugverkoeling. Geduld was die een ding wat ons vinnig moes aanleer.  Alles, van die internet, telefoonlyn-installering, TV-konneksie en werkvisum sal gebeur, maar soos ons telkemale gehoor het: “Inshallah tomorrow, inshallah next week, selfs inshallah next month.”  Ons eie afleiding: Moenie jou bekommer nie, dinge sal gebeur, aanvaar net dit sal nie wees wanneer jy dit wil hê nie.  

Die kos?

In RAK het ons nie `n groot verskeidenheid supermarkte om van te kies nie. Die twee grootstes en gewildstes is maar Carrefour en Lulu Hypermarket. Ons het wel `n Spinneys, wat ‘n bietjie duurder is, maar daar kan ons wel goed koop soos cream soda, biltong, droëwors, Aromat, die Huisgenoot en vark-produkte.

Ons het `n verskeidenheid van restaurante en as ons “local” wil eet, gaan ons waar die “locals” gaan. Tradisionele Arabiese kos is Falafal – fyngemaakte kekerertjies en sesamesade opgerol in balletjies en dan in olie gebraai. 
Mehalabiya – ‘n nagereg wat besprinkel is met rooswater en pistasieneute. 
Tabbouleh is `n slaai gemaak van bulgar wheat, tamatie, komkommer, fyngekapte pietersielie, ment, asook uie en knoffel. Hierdie slaai het olyfolie, suurlemoensap en `n knypie sout oor. 

My gunsteling is `n nagereg nl. Um Ali, dit beteken “koningin van nageregte”, nogal baie soos `n broodpoeding en word voorgesit met soet vla.

Hoe ontspan julle?

In die ooste is die mooiste bergreeks, Ru’us Al Jibal. Dit vorm deel van die Hajar-bergreeks. Hier is daar “Wadi’s” (droë rivierbeddens) waardeur ons heerlik kan ry met die  viertrekvoertuig. Ons swem ook baie. Die Persiese Golf is op ons voorstoep en al is die water nie so skoon en mooi soos in SA nie, is dit heerlik om wel daar te kan afkoel.  Gholf is natuurlik ook `n gunsteling en alhoewel ek nog nie 18 putjies kan speel soos Theo nie, geniet ek die “mashie”-baan baie.

Reis jy baie?

Behalwe vir in die UAE en Suid-Afrika, het ek vanjaar nog nie weer oorsee gereis nie.  Daar is so baie om in die UAE te sien; Fujairah, Al Ain, Liwa, Abu Dhabi en so kan ek aanhou. Ons beplan om vanjaar na die Musandam te gaan, en wil graag ook Muscat in Oman gaan besoek.  

Hoe ervaar jy die mense?

Die meerderheid mense is Emirati, Indies en Pakistani. Expats is in die minderheid.  Emirati-families is groot en die kinders is nie inkennig nie. Die Emirati-mans groet mekaar deur hul neuse teen mekaar te druk, hulle noem dit “nose kissing” en dit was nogal snaaks om dit die eerste keer te sien. Die jong mans loop in groepe en die jong meisies loop saam in groepe. Oor die algemeen is die Emirati’s vriendelik en gasvry.

Die lekkerste en interessantste van daar wees?

Die andersheid van die kultuur, die son, die see, die woestyn en die berge. Dis nou wel nie die mees moderne Emiraat nie, maar die mooiste. Ek geniet die skoolhou en om 26 klein kindertjies hul eerste formele Engelse blootstelling te gee is vir my die lekkerste uitdaging ooit!

Wat mis jy?

My familie in SA en ek mis om in Afrikaans te sosialiseer.

Sal jy terugkom?

Verseker! Suid-Afrika gaan weer vir ons `n ander avontuur inhou en ons sien uit daarna.

  • Alet Gardner

    Annaleen, ek is dol oor jou storie! Hoop julle gaan heerlike herinneringe daar bou om eendag saam te neem SA toe. Alet

  • Mari buys

    Wat n pragtige artikel ; ek is trots op julle en kan nie wag om terug te kom SA toe nie

  • Annaleen Buys

    Baie dankie vir die terugvoer, waardeer dit en bly julle het dit geniet!

  • Frederick en Susan Meyer

    Ek en my man was vir 10 dae saam met Annaleen (my sus) en haar man Theo in RAK en dis ‘n baie goeie beskrywing van wat jy kan verwag sou enige iemand graag soontoe wou gaan. Groete en Liefde die Meyer’s.

  • Deon Erwee

    Ons wil julle graag terug he. Julle plekkies is leeg.

  • Elza Meyer

    Annaleen jou storie is pragtig en baie lekker om te gelees het. Ek weet dat jy daar in die vreemde ook ‘n verskil maak in daardie kleine mensies se lewens. Ons sien uit daarna om julle weer terug te hê in Suid-Afrika waar jy in jou eie taal kan sosialiseer.