BMW
Motors

Ry-indruk: BMW X1

BMW se nuwe X1 behoort selfs gewilder te wees as sy voorganger, wat in 2010 hier sy verskyning gemaak het. Die nuwe weergawe is veral baie mooier, want die grootste kritiek teen die vorige X1 was juis sy “ongemaklike” voorkoms.

Daar is ook talle ander verbeterings en in die geheel is die X1 ’n moderne sportnutsvoertuig met heelparty pluspunte. Ons het die X1 2,0d met BMW se xDrive-vierwielaandrywing toetsbestuur.

Die basiese X1 is betreklik goed toegerus, maar soos dit ’n luukse Duitse ryding betaam, is daar talle ekstras wat die prys aansienlik kan opjaag. Een van dié opsies is ’n indrukwekkende Harman/Kardon-klankstelsel. Binne is die X1 ruim met kenmerkende BMW-stilering, soos die groot inligtingskerm in die middel. Tussen die twee voorste sitplekke is en ’n draaiknopmuis waarmee jy omtrent al die motor se funksies kan beheer.

FOTO: BMW

FOTO BMW

BMW se tweeliter-, viersilinder-turbodieselenjin in ons toetsmodel is nie net kragtig is nie, maar bied ook ’n taamlik goeie brandstofverbruik. Dié enjin is gekoppel aan ’n seepgladde outomatiese agtgang- ratkas. Hoewel ons toetsmodel met xDrive toegerus was, wat beteken dat krag na al vier wiele gaan en hantering beter is, jaag dit die prys op terwyl die goedkoper voorwielaangedrewe weergawe hom ewe goed van sy taak sal kwyt.

Dit is ’n ryding wat sin maak vir ’n gesin van vier en hul bagasie, terwyl dit ook maklik as ’n alledaagse luukse ryding ingespan kan word. Die X1 is ’n heerlike voertuig wat nie sommer teleur sal stel nie. Mededinging is wel straf met modelle soos die Audi Q3, Mercedes GLA en Lexus NX. Tog is die X1, as jy dit kan bekostig, ’n sportnutsvoertuig wat die koppe sal laat draai, hy is prakties en, tipies van BMW, vlugvoetig.

Model: X1 2,0d xDrive Steptronic

Prys: Vanaf R584 140

Enjin: 2,0 liter-turbodiesel

Krag: 140 kW

Wringkrag: 400 Nm

Gemiddelde verbruik: 4,6 liter/100 km