Motors

Alida op pad in die nuwe Kuga

Die toetsrit het op die lughawe begin waar 2 joernaliste per motor ingedeel is, en ‘n iPad vir elke motor sowel as ‘n blokraaisel om te voltooi toegewys is. Ja, jy het reg gelees, ‘n iPad en ‘n blokraaisel, en genadiglik was lg darem op ‘n stuk papier!

My  reisgenoot was Romy Heldsinger van Marie Claire en sy het flink en vinnig die ritaanwysings op die iPad (een is per motor toegewys) onder beheer gehad. Die blokraaisel was ‘n ander storie.

Die Kuga, wat nuut in SA is, is wel al ‘n bekende in ander wêrelddele. Daar is 2 modelle, die Trend en  die Titanium. 

Die ontwerp en stilering verklap dis ‘n sportnutsvoertuig, maar dis toe die wiele die N2 Stellenbosch toe vat en ons dinge deeglik begin bekyk dat ek begin wonder het of Ford nou nie net dalk ‘n baie gewilde ryding in SA bekend gestel het nie.  

Met die afwerking is “daar nie fout nie” soos my oom Gert sou sê. Met die hantering ook nie. Die outomatiese 2,5 liter-enjin is op en wakker en kan sy spiere bult. Die Kuga het permanente vierwielaandrywing maar nie ‘n laestrek-ratkas nie. Dit beteken dis ‘n sagtebaard-4 x 4 en jy kan nie jou lyf Camel-man/vrou gaan hou nie.  

Die vyfde luikdeur (agter) is myns insiens baie gerieflik omdat jy net die boonste helfte kan oopmaak as jy iets kleins wil inlaai. Vir jou kampgoed of vir Wagter maak jy die hele deur oop.

Veiligheidseienskappe is puik. Daar’s ABS-remme met elektroniese remverspreiding en ‘n elektroniese stabiliteitsprogram, elektroniese remhulp, en lugsakke. Allerlei moderne tegnologie soos ‘n aansit-knop (geen sleutel), spoedbeheer, sitplekke wat jy kan verwarm, reënsensitiewe ruitveërs, lugversorging en sensors agter om met parkering te help is beskikbaar. Hoe verder ons gery het, hoe meer het die motor beïndruk. Die blokraaisel was eintlik net ‘n lastigheid en ons het besluit om dit te los en die nuwe motor te geniet.

Te gou was ons by die Annandale-afrit (tussen Stellenbosch en Somerset-Wes op die R44) op pad na Hidden Valley Wines vir middagete. Die pad kronkel opdraand deur die wingerde, verby plaasdamme omring met varings en die allergroenste plante. Dis besonder mooi hier.

Ons kon ook hier ‘n skotige opdraande deur die wingerd, wat teen die berghange geplant is, aanpak.   Die motor het stewig geklou en die los gruis en erosie-walletjies het nie gepla nie. Die Kuga het al hoe meer punte begin verdien.

Nou watter van die sportnutsvoertuie beskikbaar sal jy kies, vra ‘n kollega toe ek haar van die Kuga vertel. Ai, wat ‘n vraag –  hoe kies ‘n mens nou tussen George Clooney en Daniel Craig……
Die Kuga Trend kos R375 000 en die Titanium R395 000.

NS. Min van die joernaliste het die blokraaisel voltooi, maar die vrae het ‘n taamlike bespreking ontketen.