Alida op pad: Langebaan en Friday Island toe
Foto’s: Alida Vos Galery
Soos baie ander blom-agies val ons ook onlangs op ʼn Sondag in die pad om te gaan blomme soek. Oor die radio vertel die omroeper van “our amazing country – while some of us are visiting the daisies others in the north are building snowmen.” En dit is toe ook wat ons ervaar.
![]() |
![]() |
Ons kies die R27 tot by Langebaan. Die BMW 530 d, toetsmotor, sluk die kilometers met ʼn paar happe in. ʼn Mens moet fyn trap of jy kom in die moeilikheid met hierdie ryding. Met die sondakkie oopgeskuif en die groen landerye weerskante van ons, kry ʼn mens ʼn bietjie van ʼn “saliger kan dit nie wees”-gevoel.
By die Weskus is dit aansienlik koeler as in die Boland, en ʼn stappie op die strand in die geniepsige wind lyk beslis nie lekkerder as die warm gerieflike motor. Middagete raak toe vinniger ʼn beter opsie en ons gaan kyk by Friday Island of daar nog plek is. Wat ʼn wow-plek!
Die eetplek is verseker ʼn kleinood wat ek nie omgee om te deel nie. Die ingang, aan die straat se kant, verklap bittermin. Maar as jy binne stap, raak jy dadelik deel van ʼn “vakansie by die see gevoel”. Wit meubels, ʼn houtdek wat op die see front, branderplankryers in die water en selfs ʼn seiljag wat verby vaar. Wie wil nou Miami toe gaan?
![]() |
![]() |
Ons bestel vis en skyfies, baie lekker. Daar’s ʼn uitgebreide spyskaart – verseker iets vir enige smaak. Die diens is flink, die kelners vriendelik, maar nie lastig nie en ons kan ons sit en vergaap aan alles wat in die branders aangaan. Jy word ook nie aangejaag nie. Ek is amper spyt toe ek die laaste sluk van my koffie neem.
![]() |
![]() |
Op die buitewyke van Langebaan, kry ons wel ʼn klompie veldblomme, en op pad terug – oor Hopefield geniet ons die canola-lande en blomme wat kol-kol in die veld verskyn. Ons was dalk ʼn bietjie vroeg vir ʼn super blom-skouspel, maar Friday Island sal ons weer besoek, en enige tyd weer ʼn 530 d bestuur.
Friday Island verskaf ook akkommodasie en konferensie-fasiliteite.
Dis in Hoofstraat en die tel. nr. is 022 7722506 of 082 6409319.
Nog BMW feite:
Die vuurwa is lewendig en dis met moeite dat jy die 3.0 liter-sessilinder met turbo-aandrywing inhou om nie die spoedbeperkings te oortree. Die 530 d is vroeër vanjaar saam met die Volkswagen Polo Comfortline 1.6 TDI aangewys as Motor van die Jaar.
Die wiele kan van 0 tot 100 km/h in 6.3 sekondes versnel en kan glo tot 242 km/h haal. Hiervoor kan ek nie ma staan nie. Dat die petrolverbruik wel suinig is, kan ek beaam. Die BMW-mense self praat van 6.1 liter per 100 km.
Dis ʼn ruim motor, met genoeg plek agter vir Pierre Spies, Schalk Burger en Jo-Ann Strauss in die middel, goeie stylvolle afwerking en ʼn kattebak ontwerp vir “bring maar nog”.
Maar dis verseker die “perde” onder die enjinkap, uitstekende padhouvermoë en al die moderne tegnologie soos parkeerhulp, wat opval. Ja, met die druk van ʼn knoppie word die parkeerplek se grootte bepaal en die motor parkeer ook as’t ware homself. Die bestuurder beheer die remme en brandstof-toevoer.
Enjin- en padgeraas is minimaal.
Jy kan ook kies hoe jy wil ry deur tussen sport, gemaklik en gewoon te kies en as jy graag self wil ratte wissel, kan jy die spane by die stuurwiel gebruik.
Lugreëling kan afsonderlik deur die voorste insittendes gestel word en bekerhouers is vir alle passasiers beskikbaar. Daar is ook sensors om jou te help parkeer, nogal belangrik as jy so ʼn groot motor by die Mall se afgeskeepte parkeergaatjies moet inkry.
BMW mag dalk hierdie ryding beskou as wiele vir die uitvoerende bestuurder, wat daaglik pendel en naweke bietjie wil gaan rondry, maar dis duidelik dat die motorjoernaliste wat die ryding goeie punte toegeken het, verseker na die goeie eienskappe, voorste tegnologie en ontwerp gekyk het.
Prys: R642 500 + R3 420 C02-belasting
Verwante artikels
-
Alida op pad... na Halfaampieskraal
SARIE November 2011
"Jy is een van ʼn groep joernaliste wat uitgenooi word na die mediabekendstelling van Halfaampieskraal vier fees…"
-
Alida op pad: 'Kosfees in die Kaapse stadsaal'
SARIE September 2011
Saterdag val ek vroegoggend in die pad om die Toffie Food Festival in die Kaapse stadsaal by te woon.
-
Alida op pad: 'Red Hill'
SARIE Augustus 2011
Al gewonder waarheen om met gaste en familie op besoek in die Kaapse Skiereiland rond te ry – dis nou as jy omtrent al oral was? Die Red Hill-pad tussen Scarborough en Simonstad is ‘n plesierige rit, met uitsigte wat jou na jou kamera laat gryp. En langs die pad is daar ‘n plek of twee waar honde welkom is.
-
Alida op pad: 'Robertson: Stoep-etes met ʼn vierpoot'
SARIE Desember 2011 | Kommentaar: 1
As jy met ʼn hond wil reis moet jy jou storie ken, want honde is nie oral ewe welkom nie.
-
Alida Vos blog: 'Op pad met ‘n Jack Russell'
SARIE Junie 2011 | Kommentaar: 5
’n Wegbreek met ’n hond – een wat kwaai karsiek kry – kan lelik skeef uitdraai, maar as mede-hondeliefhebbers jou pad kruis, raak sake hankiedôrie.
-
Alida Vos blog: 'Troue, Terios en treurige weer'
SARIE Julie 2011
Vrydag ná werk val ons in die pad met ’n Daihatsu Terios see toe. Daar’s sewe sitplekke, maar dis net twee van ons oor Sir Lowryspas tot in Hermanus.




























Kommentaar
Isabella Niehaus het gesê:
Alida.....ek het nou sommer al die blogs gelees en hoe lekker!!!! Hiers 'n nuweling op die Duin...skaaphondjie...Persentjie of sommer Sent!! Sy ry so saam.. Stuur tog altyd jou link vir my...dis heerlik om al jou reise te beleef. Bella.x
7de Des. 2011, 20:30Mavourneen Esterhuizen het gesê:
Ag Alida, hoe gaan ek nie nou in heimwee terug saam met jou na Langebaan en die duisende mooie blommetjies, pragtige strande, my kinners en Friday Island. Ek het in Julie vandaar af getrek na Mauritius waar my man tans werk. HIerdie eiland is pragtig maar mensig ek mis die Weskus. Geniet al jou "rond-rits".............ons ry graag saam elke maand. Groete uit Mauritius Mavourneen Esterhuizen
15de Sep. 2011, 16:19