Motors

Alida op pad met ‘n Pajero

Vir die Pajero Sport met sy 3.2 Di-D turbo-masjien is 4 x 4- veldry geen kopseer en pakplek is daar hope as die agterste twee van die sewe sitplekke platgeslaan word. Ons het nou nie ‘n swaar vrag soos wanneer jy in die boendoes gaan kampeer, ingelaai nie, maar dat die krag daar is as jy wil verbysteek of die lang bulte moes baasraak, was gou duidelik.

Pakplek is meer as genoeg vir ‘n gesin van 4 vir ‘n langnaweek by die see, met Wagter deel van die geselskap. Ek het die platgevoude sitplekke so bekyk en gedink ekself kan dalk net-net inpas indien ek in so ‘n voertuig sou moes oorslaap as die leeus in Botswana my uit ‘n tent sou verjaag.  

Die binnekant is funksioneel en ruim, hoewel nie so modern ingekleur soos ander rygoed wat beskikbaar is nie. Maar daar is genoeg moderne tegnologie om die gewone mens gelukkig te hou. In baie motors moet jy rondsoek vir die  gevaar (hazard)-knoppie, maar in die Pajero is dit sommer op jou linkerhand langs die stuurwiel. Die leersitplekke, is gerieflik, maar ook met die nodige ondersteuning. Agterste passassiers kan hul eie lugventilasie (in die dak) stel, nogal handig as dinge buite bietjie warm raak.  

Die model beskik ook oor ABS-remme, ses lugsakke, spoedbeheer, parkeersensors en elektriese vensters. Danksy die  voortreflike 4 x 4-eienskappe (jy mag wel in die ry teen 100 km/h oorskakel van 2H na 4H) kan jy rowwe terrein aanpak. Ons kon net ‘n gruispad in die Klein-Karoo  aandurf, maar vir die Pajero was dit min van ‘n uitdaging. Ons het wel lekker gerieflik op die Brandrivier-grondpad (daar naby Ladismith) gery wat die R323 met die R62 verbind, danksy die goeie padhouvermoë.  

En ons waghond, Niklaas, wat meestal karsiek kry, het wonder bo wonder die rit sonder glipse geniet.  
Na die toetsrit was daar in ons huis eenstemmigheid. ‘n Pajero is ‘n ryding om te oorweeg as jy wil gaan rofry. Self sou ek nie omgee om Vanzylspas in Kaokoland, in die Noorde van Namibië met die wiele aan te durf. 

Die Pajero kos R435 900 vir handrat of R445 900 vir outomaties.