Alida op pad: 'Robertson: Stoep-etes met ʼn vierpoot'

Deur Alida Vos, SARIE Desember 2011

Alida op pad: 'Robertson: Stoep-etes met ʼn vierpoot' Foto’s: verskaf Galery

As jy met ʼn hond wil reis moet jy jou storie ken, want honde is nie oral ewe welkom nie.

Ons Niklaas raak karsiek, maar as hy sy stropie in het, kan hy nie wag om in die motor te klim nie. Hy sit selfs stroopsoet (ongewoon) en wag tot die laaste sak en wat nog ingelaai is – te bang hy word dalk agtergelaat.

Stop langs die pad om iets te eet, is nie iets wat ons maklik oorweeg nie. Wegneem-etes is vir ons, soos vir baie ander reisigers met Wagter by, ons voorland. As jy die slag ʼn plek vind waar vierpote welkom is, moet ʼn mens dit deel – vandaar die blog.

Sondag draai ons net voor Robertson (Worcester se kant) by die Affie Plaas -padstal en De Oude Kombuis -koffiewinkel in. Die twee geboue is ʼn duidelike baken langs die pad. Ons het al voorheen op die stoep van De Oude Kombuis iets geniet met Niklaas onder die tafel, aan die leiband. Ek vra elke keer of dit in die haak is, en die vriendelike mense het nog nooit ʼn probleem gehad nie solank ons  op die stoep sit.  Net langs die stoep is daar selfs ʼn sement-hond by ʼn waterbakkie – mooi geplaas vir vierpote om hul dors te les.

Ons eet meestal iets ligs en ek kan die spinasie- en feta-quiche aanbeveel. Jy kry baie slaai daarby  en  kan ook  “wedges” versoek.   Hul cappuccino is veral prima.  As jy nie tyd het vir  vertoef,  koop  by Affie Plaas –padstal  ʼn warm pastei.  Dis om oor huis toe te skryf. Jy sien hoe gesinne, boere in bakkies en selfs mense met hul woonwaens hier stop, pasteie koop, dit vinnig onder die bome verorber, en vlugtig-skelm hul vingers aflek! Allerlei lekker eetgoed en wyn word ook verkoop.

Nog ʼn hond-vriendelike stop is ʼn hele ent verder by die Wimpy buite Heidelberg. Daar is ʼn groot grasperk, ʼn  kraan met  2 bakke, een met water en een met honde-pille – ja sowaar en dit kos niks.   Bene rek beteken hier ook gesprekke met ander honde-eienaars. Soms moet jy wel vinnig wegtrippel as die groot vierpote begin tande wys. Skermutselings het ek tot nou toe nog nooit beleef nie, want honde-base, lyk my, het meestal goeie maniere.

Niklaas en sy sement-vriendjie. De Oude Kombuis-koffiewinkel

Veilig ry as jy die Kerstyd op pad is.

Verwante artikels

  • Alida op pad in die nuwe Kuga

    Alida op pad in die nuwe Kuga

    SARIE Februarie 2012

    Middel Januarie het dinge behoorlik gekook in die Boland en op een van die minder hittige dae (gelukkig)  kon ‘n klomp joernaliste die nuwe Ford Kuga op die proef te stel.

  • Alida op pad... na Halfaampieskraal

    Alida op pad... na Halfaampieskraal

    SARIE November 2011

    "Jy is een van ʼn groep joernaliste wat uitgenooi word na die mediabekendstelling van Halfaampieskraal vier fees…"

  • Alida op pad: Bettiesbaai se pikkewyne en Grabouw se grondpaaie

    Alida op pad: Bettiesbaai se pikkewyne en Grabouw se grondpaaie

    SARIE April 2012

    Ook moeg gewonder wat om Sondag met die familie, wat dink hulle het al alles in die Kaap gesien, aan te vang? ‘n Trippie van die Strand via die kuspad na Bettiesbaai, Kleinmond en dan op ‘n grondpad verby  Grabouw se appelboorde is dalk ‘n opsie.

  • Alida op pad: Langebaan en Friday Island toe

    Alida op pad: Langebaan en Friday Island toe

    SARIE Augustus 2011 | Kommentaar: 2

    Soos baie ander blom-agies val ons ook onlangs op ʼn Sondag in die pad om te gaan blomme soek.  Oor die radio vertel die omroeper van  “our amazing country – while  some of us are visiting the daisies others in the north are building snowmen.” En dit is toe ook wat ons ervaar.

Galery

  • Die Affie Plaas-padstal en De Oude Kombuis-koffiewinkel
  • Niklaas en sy sement-vriendjie.
  • De Oude Kombuis-koffiewinkel

Kommentaar

  • Alida, ek het jou storie geniet. Ek is nou sommer lus om op daardie stoep te gaan sit met my staffie! Die pastei sal ek definitief probeer ( al het my pa altyd gese, "'n 'Pie' is 'n 'pie' - jy kan nie 'n pastei vertrou nie"!) Die koffie klink ewe lekker. Die mooi foto van die twee brakke kleur die gesellige prentjie verder in. groete

    8ste Des. 2011, 15:09