img_0505
Motors

Alida Vos blog: ‘Op pad met ‘n Jack Russell’

Net voor die skoolvakansie besluit ons ons moet ’n bietjie wegkom. Oudste gaan binnekort vir ‘n lang ruk die land verlaat en droë Karoo-lug sal welkom wees. Daar’s een probleem, niemand is lus om Niklaas, ’n Jack Russell van 8 maande, by die huis te los nie.

Ná wik en weeg (dit was mos ’n vinnige besluit om iewers te gaan son soek) val die “dice” op die Karoo Nasionale Park.  Die 4 x 4-roetes laat oudste se oë blink.

Die park het plek, maar is glad nie bekostigbaar nie (vir my beursie) en laat nie honde toe nie. Die internet lewer ’n lys blyplekke op Beaufort-Wes op. Mev. Vermeulen van Little Green World in Donkinstraat – die hoofstraat van Beaufort-Wes – sê oor die foon sy hou van my stem (ai, hoe goed laat sy my nie voel nie) en sy dink my hond kan maar kom saamslaap. Wat ‘n verligting. (En dis ’n baie oulike blyplek, boonop stil en rustig, want dis agter ’n kantoorgebou.)  


Dag 1:
Op pad van die Paarl na die Noorde raak ons gou uitgekuier met die eentonige N1. Ons oorweeg die grondpad oor Merweville, want dan sien ons sommer ’n ander deel van die land. By Laingsburg hou ons stil vir drinkgoed en dis net modderbesmeerde bakkies vol kakie-geklede manne (duidelik jagters) wat langs ons intrek. Volgens die jagters is dit oral sopnat in die Karoo, maar ons verneem die grondpad wat ons wil ry, is heel begaanbaar.

Merweville in die Koup is piepklein en die mooi kerk toring, soos by menige ander Karoo-dorp, bo alles en almal uit. Daar’s net hier en daar ’n siel te sien en ’n mens wonder wanneer stadsjapies hier eiendom gaan begin koop. Iewers het ek gelees omdat dele van die omgewing soos Nevada en Arizona lyk, word hier somtyds rolprente en advertensies verfilm.

Die grondpad verby die Karoo-plase na Beaufort-Wes is nie sleg nie. Hier en daar is groot plasse water en op ’n kol gly ons lekker. Ek’s nie mal oor modder ry nie, maar my man geniet homself. Ons hou stil vir bene rek en sodat Niklaas kan rondloop. Dit ruik na bossies en skoon lug om ons  – ja, dít mis ’n mens as jy in die stad werk. Selfs Niklaas stap ywerig ruik-ruik rond, ondanks die stropie wat hy moes sluk om karsiek te oorwin.

Ons kom eers laat Sondagmiddag op Beaufort-Wes aan en ons gasvrou bied aan om Niklaas op te pas sodat ons iets kan gaan eet. Ook ’n eerste vir hom en ons, maar, sowaar, hy hou die gesin se naam hoog en bly stroopsoet sit op sy kussing terwyl sy oppassers TV kyk. Ek kon dit self nie glo nie.

Dag 2: Maandag kom haal ’n vriendelike Bradley van die DBV op Beaufort-Wes hom, want hy gaan vir die dag by hulle bly terwyl ons deur die Karoo Nasionale Park ry. Hy word agterop ’n bakkie in ’n hokkie geplaas vir die kort rit na die hondehokke, en kyk ons verwytend aan . . .

Die veld in die park is nat en groen, en diere is bitter skaars. Ons ry op en af en sien meestal volstruise. Hier en daar lig ’n gemsbok sy kop. Geëlektrifiseerde drade by die hek is glo vir die leeus, maar ná ’n uur se ry is dit ook duidelik dat die groot geel katte nou nie tydens ons besoek hul snorre gaan wys nie. Nog ’n irritasie kom voor. Ons kan nie die 4 x 4-roetes ry nie; almal is gesluit omdat hulle verspoel is. Die enigste ander pad, ’n bietjie berg-op, wat ons wil ry, word herstel en dit is ook gesluit. Maar dit vertel hulle jou eers nadat jy betaal en jou kwitansie het, nie wanneer jy bel nie.   

 “Waar dink julle is die wild?” vra ek toe aan die einde van die dag by die toeristeplek op die dorp. “Daar is nog grond bygekoop en die wild wei nou daar, want daar’s heelwat kos in die veld,” was die antwoord. Maar daar mag ons nie ry nie . . . Ek wou nog ‘n paar stuiwers in die armbeurs gooi, maar los dit toe liewer. Ek sal maar mense waarsku om ’n lys vrae reg te hou en op elk ’n antwoord te kry voordat jy jou na die park wend.

Daardie 4 x 4-roete kan dalk oor ’n maand of wat juis ’n goeie uitdaging word – dis nou as hulle jou toelaat om dit te ry, dink ek so in my enigheid.

Ons het wel die fossielroete in die park besoek – dit is baie oulik gedoen en die moeite werd om te sien. En ons het hope vars lug gekry.

Dag 3: Op Beaufort-Wes koop ons die allerheerlikste biltong en fyngebak – alles in Donkinstraat. Ons eet lekker ontbyt by ’n koffiewinkel. Jy kan hier ook na die Chris Barnard museum gaan kyk – beslis ’n besoek werd.

Van Beaufort-Wes ry ons met die N1 en toe die N12 terug suide toe. Sowat 85 km van Beaufort-Wes af kies ons weer grondpad, dié slag na Prins Albert. Dis regtig Karoo-mooi om ons, met skape en lammers wat wit kolletjies maak in die groen veld. Ons eerste stop op Prins Albert is die slaghuis vir koedoe-salami, biltong en lekker wildsvleis en daarna die hotel se stoep, waar Niklaas ook welkom is. (Hy het net ’n bietjie wanordelik geword toe die inwonende kat sy verskyning maak.)

Ons bak hier in die winterson en eet hamburgers met patties en broodjies wat op die perseel gemaak word. 

Gelukkig is die Swartbergpas oop, en die son skyn lekker. Heel bo kom ’n veteraanmotor aangery. Hy en sy eienaar het aan ’n wedren op George deelgeneem. Die ou motor op die kronkelende bergpad lyk soos ‘n toneel uit ’n vergange rolprent. Ek vergaap my so dat ek skoon vergeet om te kyk watter soort motor dit is. Kyk ’n bietjie na die foto, en laat my weet . . .

Hierna is dit heelpad teerpad na Oudtshoorn, George en die N2. Die son sit hoog en ons mik vir Stilbaai om te gaan branders ry.

My ma het graag die uitdrukking “a change is as good as a holiday” gebruik, en hoewel ons “change” kort was, was die wegbreek heerlik.

– Alida Vos

Werd om te weet:  

As jou hond goeie toiletmaniere het, is mense heeltemal gewillig dat hy saam met die gesin oornag.  Eetplekke met sitplek buite, is natuurlik jou voorland, maar maak eers seker waar die inwonende kat se lêplek is.

Die DBV op Beaufort-Wes het mooi na Niklaas gekyk vir die dag. Hy was doodtevrede en kalm met sy terugkeer.

Honde-liefhebbers praat met mekaar en die “kinders” word vergelyk.  Maak jou maar reg om vreemdelinge te woord te staan.

Die kerk op Merweville
Gemsbok in die Karoo Nasionale Park Pragtige Karoo-landskap
‘n Veteraanmotor op die Swartbergpas. Uitsig vanaf die Swartbergpas
Stilbaai-strand, Junie 2011, vol opdrifsels en boomstompe na die baie reën. Stilbaai-strand, Junie 2011, vol opdrifsels en boomstompe na die baie reën.
  • Louwra

    Beeldskoon en lyk vreedsaam…

  • Hester

    Dit klink en lyk idillies. Julle doen altyd sulke lekker goed!

    Hester

  • Isabella Niehaus

    Hoe lekker het ek nou gelees . Jy moet meer vir ons skryf Alida.

  • Marguerite van Wyk

    Klink of Niklaas die perfekte reis “buddy” was op dié lekker trip Alida!

  • Wendy Weir

    Ek hou ook van daai deel van ons land… Het lekker gelees. Laat mens terug verlang.On het altyd daar by vriende gaan kuier..Beelskoon en die hemelruim vertoon daar op sy beste.

  • search engine ranking software

    hiya and welcome http://www.sarie.com admin discovered your website via yahoo but it was hard to find and I see you could have more visitors because there are not so many comments yet. I have discovered website which offer to dramtically increase traffic to your site http://xrumerservice.org they claim they managed to get close to 1000 visitors/day using their services you could also get lot more targeted traffic from search engines as you have now. I used their services and got significantly more visitors to my website. Hope this helps :) They offer better search engine ranking seo forums backlinks backlink service Take care. steve