terios_7_seater
Motors

Alida Vos blog: ‘Troue, Terios en treurige weer’

Die Terios het ’n 1,5 liter-enjin en die opdraandes is nie heeltemal sy ding nie. Heelparty motors gaan ons verby, maar die verkeer speel mooi saam en ons is net ná donker op die balkon van ’n woonstel op Marine Drive om te kyk hoe die branders wit skuim maak.

Saterdagoggend is daar letterlik ’n stilte voor die storm. Ons drentel deur die dorp, kyk na die winkels en koop hier en daar iets. Haak selfs vas by die troeteldierwinkel om te verneem hoe maak die eienaar ’n papagaai van ’n paar weke oud groot.  Die grys dingetjie sit in sy mandjie agter die toonbank. Ons verneem voëls wat só grootgemaak word, raak glo so gewoond aan mense dat hulle na enigiemand toe gaan.

Toe die sluise van die hemel laatoggend oopmaak, klouter ses van ons in die Terios.  Albert en Christine Eksteen is lank en lenig en sit heel agter. Dis glad nie ongerieflik nie, is hul gevolgtrekking. Ons ry na The Wine Village waar die wynkenners in die geselskap behoorlik die wyne bekyk soos ek boeke in ’n biblioteek benader. Ons koop op pad 3 sakke hout en pas dit tussen die middelste passasiers in.  

Dis duidelik, as daar ses passasiers sit, is daar nie baie plek vir bagasie nie. Maar die Terios gedra hom goed op die nat pad. Die motor hanteer maklik, uitsig is goed en jy kan met min gesukkel in- en uitklim na die heel agterste sitplekke. Op die N2 het ons heelwat padgeraas gehoor, maar teen 50 km per uur deur Hermanus kom jy niks hiervan agter nie. Die ruitveërs en ontwasemers werk heeltyd voluit, want dit reën sonder ophou.

Saterdagmiddag soek ek en Christine ’n TV sodat ons die troue in Monaco kan kyk. Ja, ons blyplek het ’n TV, maar die manne dink die Stormers gaan wen en wil niks weet van ’n troue nie. Foei tog, hulle loop nou nog en frons oor die Kaapse rakkers se flou vertoning. Dit het gou vir ons twee duidelik geword dat Hermanus glad nie troukoors het nie, maar wel die rugby-ritteltits. Selfs restaurante het besprekings geneem van mense wat wil rugby kyk.

Gelukkig het die verhuringsagent haar oor ons ontferm, sodat ons darem ’n groot deel van die troue kan geniet.

Sondag sous dit steeds, maar ná ontbyt by Savannah Café is almal in ’n goeie bui. Die skons van dié eetplek kan sekerlik geklassifiseer word as een van die Overberg se “moet-eet-ervarings”.  Die ander een is die wonderlike pasteie van De Oude Bakkery – so ’n klein geboutjie oorkant The Beach House in die midde-dorp. Ek het lanklaas so ’n lekker hoenderpastei geëet.

Die strand het ons danksy die onminlike weer glad nie gesien nie, maar dit was ook lekker om vanaf die warmte van ’n sitkamer na die nimmereindigende branders te staar. Dis soos ’n visservrou op ’n keer vir my gesê het: “Die branders mesmeraais ’n mens en maak jou kalm.”  

Vir nog inligting oor Hermanus besoek www.hermanussouthafrica.co.za en vir Savannah Café www.savannahcafe.co.za.

NOG TERIOS-FEITE

  • Met die middelste en agterste sitplekke platgevou, kan jy selfs ’n meubelstuk of 2 inlaai.
  • Daar’s lugsakke, ABS-remme met EBD en remhulp.
  • Prys: R224 995 (handrat).
Die Terios met sy effens langer lyf en sewe sitplekke. Die binnekant van die Terios
Die Terios se kontrole-paneel Walkerbaai lyk rustig ondanks die nat winterweer.
Hermanuspietersfontein is Hermanus in die 1830’s genoem. Die wyn van Hermanuspietersfontein- landgoed – Die Martha – het dié ma se oog gevang.  Ons eie Marta is ’n bietjie ver van die huis, en Ma verlang. Walkerbaai lyk rustig ondanks die nat winterweer.
Walkerbaai lyk rustig ondanks die nat winterweer.