Motors

Alida Vos toetsbestuur die nuwe Nissan NP200

Hy leun met sy elmboog op die dak en loer oor my skouer – nie na my nie – maar na die binnekant van my ryding: “Is hy so goed soos hulle sê, of lyk hy maar nou net so fênsie?” wil die boer weet.

Ek’s amper onkant gevang, maar herstel darem vinnig genoeg om te besef ek het met ‘n vriendelike ou te doen, nie ‘n kaper nie.

“En is dit nou ‘n 1.6 masjien?” wil hy in dieselfde asem weet.

Ek is al gewoond aan vreemde mans (nou en dan ook ‘n vrou) wat my voorkeer en vrae vra oor die motor wat ek bestuur. Ook mans wat die “duime op”-teken gooi, het ek al teëgekom. Dis wat gebeur as jy oor motors skryf en toetsbestuur.  

“Ja, dis net so,” beaam ek.

Die nuwe bakkie van Nissan – die NP200 – kan lekker woelig raak. Hy hanteer gemaklik, die kajuit is ruim met ook heelwat pakplek agter die sitplekke. En lg. het my veral beïndruk. Dit bied goeie ondersteuning vir ‘n mens se rug – veral belangrik op die langpad.

“Nissan se bakkies is kanniedoods,” verseker die boer my. “Ek het twee op die plaas, vrek oud, maar hulle loop nog steeds.”

Ek’s nogal haastig, want die Handelshuis gaan sluit en ek moet  nog my inkope doen.  Ek wonder of ek nou sal aanbied om die boer vir ‘n “spin om die blok” te neem, maar ek bedink myself. Ons leef mos in onveilige tye.

“Ek weet van kanniedood-Nissan-bakkies,” antwoord ek dus maar eerlik. “Ekself het een gehad, ‘n 1987-model, wat nog steeds daagliks in gebruik is. Sy huidige eienaar gebruik hom vir tuindienste.

“Nou ja, ek is bly jy vertel vir my die bakkie ry so lekker. ‘n Man kan dit sekerlik in hierdie tye oorweeg om hom te koop, want daar is min bakkies wat jy vir onder R100 000 kan kry.”

Nie net het die Riversdalse boer nader gestaan en die bakkie bekyk nie, maar terug op my tuisdorp  het die manne van Cumpsty Elektries gelyk of hulle dokter-dokter met die NP200 speel toe ek een oggend voor hul besigheid stilhou. Als is bekyk en bevoel – sitplekke, instrumentpaneel,  ook die laaibak met sy hake en beskermlaag om die kante. Die diagnose was bemoedigend.

Selfs die Matie in ons huis het gereken hierdie is nou net die regte ryding vir ‘n student, maar haar “ai tog, watse naam is NP200 nou vir ‘n bakkie? Kon hulle nie iets meer zippy wat by die wiele pas uitgedink het nie?” Die grootbase van Nissan sal maar moet antwoord …

Die NP200 kos R88 900. – Alida Vos

  • Hallo Alida,

    Ek is bly ons bakkie het die koppe laat draai – en dit nogal ‘n boer en ‘n Matie s’n. Dit wys net die teikenmark is wyd. Wat die naam aanbetref, dit is ‘n internasionale ding: Die N vir Nissan en die P vir Pickup. Ons het ook ‘n NP300 – dis nou die Hardbody. Se vir die Matie hy moet maar self ‘n troetelnaampie vir sy bakkie uitdink. Oor ‘n maand of wat stel ons ‘n wyer reeks NP200s bekend veral op die ‘trendy’ jeugmark gemik. Groete en dankie vir die deel van jou ry-ondervinding.

    Groete

    Veralda Schmidt
    Nissan Mediaverhoudings