FOTO: MotorPress

Motors

Citroën C4 Picasso: Tegnologie om oor huis toe te skryf

’n Motor wat self parkeer, jou rug masseer en met sensors wat jou waarsku as jy uit jou baan beweeg ? Ja, die nuwe Citroën C4 Picasso het heelwat nuttige tegnologie om oor huis toe te skryf.

Wat jou heel eerste opval as jy agter die stuurwiel inskuif, is die groot voorruit en hoe lig dit binne die motor is. In die Picasso met sy sesspoed-ratkas kan vyf mense (langeraat ook) gemaklik sit en ry, ook danksy die dieselstofverbruik wat besonder gunstig is.

FOTO: MotorPress

FOTO: MotorPress

Wat jy dadelik sien, is die 2 skerms voor jou. Op die kleiner een (7″) kan jy funksies soos onder meer satelliet-navigasie, lugreëling en Bluetooth kies en op die groter skerm (12″) word inligting soos jou spoed en brandstofvlakke vertoon.

Die C4 Picasso word as ’n veeldoel-voertuig (MPV) beskryf en is toegerus met 16 e-HDI 115 turbodiesel-enjin. Jy kan kies tussen Seduction (R325 900) of Intensive (R345 900).

Die dieselmotor het ook ’n Stop & Start-stelsel vir brandstofbesparing, wat beteken as jy tot stilstand kom, sluit die enjin outomaties en as jy jou voet van die rem lig of die koppelaar trap, skakel die enjin weer aan. Die blindekol-liggie wat jou waarsku as ’n ander motor links of regs agter jou is, was vir my besonder nuttig. In druk verkeer en veral in mistige Kaapse winterweer was dit ’n wonderlike hulpmiddel. Nog nuttige tegnologie is die waarskuwing as jy uit jou baan beweeg. Die sensors tel die wit strepe van die pad op en jou veiligheidsgordel begin vibreer.

Met die parkeerhulp-funksie raak parkering in smal plekkies makliker. Sensors “meet” die parkeerplek, en al wat jy hoef te doen is om die ratte te kies en die brandstofpedaal te trap, maar sonder dat jou hande op die stuurwiel is. Die motor doen die res.

Die Picasso se sitplekke is gerieflik en vir agterste passassiers is daar ook ’n afslaan-tafeltjie en ’n leesliggie. Die kattebak het ruim pakplek, en kleiner pakplekkies op verskeie plekke in die motor is baie gerieflik. Veiligheidseienskappe is puik en sluit onder meer in ABS-remme, noodremhulp (EBA), elektroniese stabiliteitsbeheer (ESC) met intelligente traksie-beheer en ses lugsakke.

Citroën bied ’n waarborg van 3 jaar/100 000 km, 5 jaar of 100 000 km-diensplan, 3 jaar van 24 uur-padbystand en die waarborg kan tot 5 jaar of 100 000 km verleng word.  En les bes jy kan kies uit 5 kleure – polar white, aluminium grey, ruby red, teles blue en shark grey. Nou kort jy nog net ’n gawe bankbestuurder.

FOTO: MotorPress

FOTO: MotorPress

FOTO: MotorPress

FOTO: MotorPress

  • Bernadine

    Die motor is so mooi!