FOTO: BMW

FOTO: BMW

Motors

Ons toets die BMW 120d se luukse luikrug

BMW se 1-reeks is ’n gewilde keuse onder kopers wat ’n luukse luikrug soek en bereid is om bietjie meer geld uit te gee as op iets soos ’n VW Golf of Ford Focus.

Die 1-reeks is ook vroeër vanjaar opgekikker om dit ’n meer vaartbelynde voorkoms te gee. Die belangrikste veranderings is nuwe ontwerp vir die voorkant, wat dit meer sportief laat lyk, terwyl die ontwerp van die agterligte meer aggressief is. Die 1-reeks was nog nooit die mooiste BMW-model nie, maar danksy dié veranderings trek sy ontwerp meer aandag.

P90176744_lowRes_the-new-bmw-1-series

FOTO: BMW

Die 1-reeks se mededingers is immers die pragtige Mercedes-Benz A-klas en die ewe mooi Audi A3.

SARIE het die 120d-model toetsbestuur, wat ’n kragtige turbodiesel-enjin met meer as genoeg woema het, maar die belangrikste is dat dit suining is as dit by brandstofverbruik kom. Tipies BMW is hantering ongelooflik goed en die alghele rit is gerieflik, maar dit kan nogal hard wees. Dit is wel ’n plesier om die 1-reeks in die stad te ry aangesien dit redelik kompak is en maklik parkeer. Natuurlik is dit ’n baie veilige motor met al die nodige kenmerke, maar daar is ook talle bykomende veiligheidseienskappe.

P90176721_lowRes_the-new-bmw-1-series

FOTO: BMW

Binnelangs is dit luuks en die afwerking is regtig goed. Daar is genoeg ruimte ook, maar die 1-reeks is nie noodwendig bestem om ’n ruim gesinsryding te wees nie. Dit maak meer sin vir enkellopendes, klein gesinne of as ’n tweede motor.

Ons hou van

  • Ontwerp
  • Gehalte van afwerking
  • Hantering

Dit pla

  • Rit kan hard en stamperig wees
  • Dit is nie die beste waarde vir geld nie

Toetsmodel: BMW 120d (outo)

Prys: R429 900 (sonder enige bykomende kenmerke)

Enjin: 2,0 L turbodiesel

Verrigting: 140 kW / 400 Nm

0-100 km/h: 7,0 sekondes

Topspoed: 288 km/h

Mededingers: Mercedes A-klas, Volvo V40 en Audi A3

– Wilmer Müller