Motors

Motor van die Maand

Kompleet soos ‘n sjarmante dame…

Citroën DS3 VTi 82 Design

Sy’s sjiek aangetrek, lig op haar voete en met haar kan jy bedags gaan werk en saans gaan flankeer. Dié mooi meisie is Citroën se DS3 VTi 82 Design. En meer as 200 000 mense wêreldwyd stem hiermee saam. Sedert die Citroën DS3 drie jaar gelede die mark betree het, het kopers gewys hulle hou van die motor se ontwerp, styl en innovering. Die DS3 het nog altyd verskeie kleurkeuses en –kombinasies gebied – die toetsmodel se dak was pers en die res roomkleurig. En nou is daar ook Moondust-metaalgrys en Infini-blou by die kleurpalet gevoeg. Die 1,2-liter-driesilinder-enjin drink so fyntjies soos ’n loopplank-model en volgens Citroën kan die brandstofverbruik so laag soos 4,6 liter per 100 km wees. Maar die model-lyf het genoeg ruimte binne vir vier, glip gemaklik deur die stadsverkeer en op die oop pad moet jy ligvoets ry, want daar’s woema genoeg om die verkeersmanne se bloeddruk op te stoot.

Prys: R199 900