Volvo XC90

Volvo XC90

Motors

Ons ry SA se Motor van die Jaar – Volvo XC90

As jy ooit getwyfel het of Volvo met die top-rygoed in die luukse-segment kan meeding, moet jy weer dink! Die Sweedse vervaardiger se XC90-sportnutsvoertuig is immers pas aangewys as Suid-Afrika se  Motor van die Jaar. Dit is boonop ’n toonbeeld van superluuksheid en ongelooflike bougehalte, terwyl dit voorwaar ’n goeie ryding is.

Volvo XC90 Vooraansig

Volvo XC90

Daar is geen twyfel by ons dat die XC90 in dieselfde geselskap as die Range Rover Sport, Audi Q7, Mercedes-Benz GL en Porsche Cayenne hoort nie. Jy hoef net na die XC90 se intimiderende voorkant te kyk om te besef dis ’n super-sportnuts wat nie ongesiens wil verbygaan nie. Dis duidelik die dae is verby dat Volvo’s meer bedees gelyk het.

Ons toetsmodel was die D5 Inscription-model en die binnekant is so weelderig soos kan kom. Dit beskik oor al die nuutste tegnotruuks en byderwetse foefies.

Volvo XC90 Instrumentpaneel

Volvo XC90

In die middel van die instrumentpaneel is ’n groot tablettipe raakskerm waar jy omtrent al die motor se funksies soos die klankstelsel, lugversorging, satelliet-navigasiestelsel en motorverstellings beheer. Daar is net ’n klein ry noodsaaklike knoppies onder die skerm. Dit gee die XC90 se binneruim ’n skoner voorkoms. Boonop werk die stelsel baie goed en is dit van die bestes wat ons al teëgekom het, want jy raak dit regtig baie maklik baas.

Daar is geen tekort aan ruimte nie, terwyl daar nou ook ’n derde ry sitplekke is waarin selfs volwassenes pas. Hulle vou weg in die groot bagasieruim wat selfs redelike ruimte bied al is die ekstra sitplekke in gebruik.

Volvo XC90 Ruim binnekant

Volvo XC90

Die D5-turbodiesel-kragbron is ’n juweel en voel en klink meer soos ’n wakker turbopetrol-enjin. Hoewel dit net ’n 2 l-enjin is, het dit ’n dubbele turbo wat ’n skaflike 165 kW en ’n allemintige 470 Nm uitskop. Dit is gekoppel aan ’n verfynde agtspoed- outomatiese ratkas wat vinnige maar egalige ratwisselings bied.

Die XC90 is ’n groot voertuig, maar glad nie lomp nie. Die enjin is lewendig en die ritgehalte voel asof jy in ’n luukse groot sedan ry wat oor die pad sweef.

Hoewel die XC90 vierwiel-aangedrewe is, is dit beslis nie (soos die meeste sportnutse) ’n veldryding nie en help dié tegnologie meer om te sorg dat die XC90 stewig en vlugvoetig op die pad is. Tipies Volvo is die XC90 ongelooflik veilig met al die nodige én ’n oorvloed ekstra veiligheidskenmerke.

Volvo XC90 Sportnutsvoertuig

Volvo XC90

Volvo het alles moontlik gedoen om die XC90 een van die beste voertuie in sy klas te maak en daarin geslaag. Hoewel hy duur is, is hy ’n bietjie bekostigbaarder as sy mededingers en kry jy op die koop toe meer motor vir jou geld.

As jy gelukkig genoeg is om byna R1 miljoen aan ’n ryding te kan bestee, is dit beslis die moeite werd om na die XC90 te kyk.

Model: Volvo XC90 Inscription AWD

Prys: R936 783

Enjin: 2,0 L-turbodiesel

Krag: 165 kW @ 4 250 r.p.m.

Wringkrag: 470 Nm @ 1 750-2 500 r.p.m.

0-100 km/h: 7,8 sek.

Topspoed: 220 km/h

Gemiddelde verbruik: 5,8 L/100 km

Volvo XC90 2,0 L-turbodiesel enjin

Volvo XC90

Lees nou