hr-v-8_880x500
Motors

Ons toets die veelsydige Honda HR-V

Kompakte sportnutsvoertuie is baie gewild en vervaardigers in dié segment het volop mededingers. Verlede jaar het Honda tot die stryd toegetree met die HR-V wat met die Nissan Qashqai en VW Tiguan moet meeding.

Ons het die Comfort-model met ’n outomatiese ratkas toetsbestuur. Honda se motors is bekend vir hul betroubaarheid en goeie gehalte, en die HR-V voel ook of dit goed gebou is en jare se rygenot sal verseker. Boonop is dit nogal mooi en het dit ’n koepee-tipe voorkoms omdat die agterste deure se handvatsels in die vensterrame versteek is.

Verder is die HR-V taamlik ruim en besonder prakties. Wat veral indrukwekkend is, is hoe maklik en vinnig die agterste sitplekke kan wegvou om ’n plat laai-area te skep wat 1 002 liter groot is. Daar is ook meer as genoeg geriefskenmerke, onder meer ’n multimediastelsel met Bluetooth-funksionaliteit. Met ses lugsakke en talle ander moderne veiligheidskenmerke is die HR-V voor in die koor as dit by veiligheid kom.

hr-v-41_880x500

Die 1,5 l-petrolenjin kwyt hom ook goed van sy taak, hoewel dit nie noodwendig die meest verfynde kragbron in sy segment is nie aangesien meeste soortgelyke motors deesdae turbo-kragbronne met goeie verbruik het. Tog is die enjin gewillig en werk dit goed met die outomatiese ratkas saam.

Dit is ook regtig ’n lekker motor om te bestuur met goeie hantering terwyl jy voel dat jy regtig beheer het. Uiteraard sit die bestuurder bietjie hoër as gewoonlik en is sig redelik goed.

hr-v-35_880x500

Jy sal nie sommer ’n Honda-eienaar teëkom wat nie van hul motor hou nie en die HR-V behoort ook nie teleur te stel nie. Dit het ’n mooi ontwerp en is werklik veelsydig. As jy ’n betroubare nuwe ryding soek wat iets is vir die oog, kan jy gerus na die HR-V ook gaan kyk.

  • Model: HR-V 1,5 Comfort CVT
  • Prys: R313 100
  • Enjin: 1,5 l-petrol
  • Krag: 88 kW @ 6 600 r/min
  • Wringkrag: 145 Nm @ 4 600 r/min
  • Brandstofverbruik: 7,6 litres/100 km

Lees ook wat dink Wilmer van die BMW 120d