FOTO Audi

FOTO Audi

Motors

Ry-indruk: Audi A4

Die Audi A4 is al vir byna twee dekades een van die gewilde keuses onder diegene wat ’n meer kompakte premiumsedan kan bekostig. Die motor is in ’n permanente stryd met die Mercedes C-klas en BMW 3-reeks gewikkel. Ja, daar is ook ander mededingers soos die Jaguar XE en Lexus IS en selfs Volkswagen se Passat, maar die Duitse trio is die groot kokkedore. 

Soos dit in motor-evolusie gaan, is die nuwe A4 groter en natuurlik beter as die model wat dit vervang. Dit beteken ook dis ’n bietjie duurder, en met die koms van die kleiner A3-sedan het dit die A4 die geleentheid gegee om selfs ’n trappie hoër te klim.

Die A4 het nog nooit teleurgestel nie en nes jy dink Audi het die resep vervolmaak en kán dit nie beter maak nie, verras hulle jou met ’n nog beter model.

FOTO Audi

FOTO Audi

In sy jongste gedaante het Audi regtig nie veel gepeuter aan die A4 se voorkoms nie, want die nuwe model se ontwerp is evolusionêr eerder as revolusionêr. Dit is steeds aantreklik en met die S-Line-ontwerpspakket lyk die A4 selfs effens sportief. Tog lyk dit asof Audi dalk te veilig met die A4 se stilering was, want dit het nie noodwendig soveel trefkrag as sy mededingers nie.

Maar binnelangs is waar die A4 wel sy troefkaart speel. Daar is ’n subtiele gevoel van luuksheid en die afwerking is topgehalte. Die paneelbord het skoon lyne en tegno-kenmerke word vir die bestuurder slim aangebied met eenvoudige kontroles en knoppe. Daar is ook ’n digitale instrumentepaneel voor die bestuurder, wat allerhande inligting oor die voertuig oordra. Daar is nou meer beenruimte vir alle passasiers en die kattebak is ook groter.

FOTO Audi

FOTO Audi

Ons toetsmodel se enjin was Audi se indrukwekkende 1,4 liter-turbopetrol. Sjoe, en wat ’n enjin is dit nie! Kraglewering is altyd onmiddelik beskikbaar en binnelangs hoor jy skaars hoe dit sy werk doen – en as jy wel iets van onder die enjinkap hoor, is dit net ’n sagte sportiewe brul wat soms deurdring soos jy vet gee. Die A4 se outomatiese ratkas is een van die bestes wat jy kry en ratwisseling is blitsig en onopvallend.

Die A4 is ’n perfekte sedan wat vir enige eienaar onvoorwaardelike rygenot gaan gee. Maar, ander motors in sy segment – veral die C-klas en die Jaguar XE – maak dit gewis nie maklik vir die A4 om koning te kraai nie.

Toetsmodel: Audi A4 1,4T FSI Sport

Prys: Van R505 000

Topspoed: 210 km/h

0-100 km/h: 8,5 sekondes

Gemiddelde vebruik: 4,9 liter/100km

FOTO Audi

FOTO Audi

Het jy al Wilmer se ander Ry-indrukte gelees?

Ry-indruk: Ford Everest

Ry-indruk: Mazda CX-5

Ry-indruk: BMW X1

Ry-indruk: Hyundai H1

Ry-indruk: VW Passat

Ry-indruk: Hyundai Santa Fé