FOTO Ford Everest

FOTO Ford Everest

Motors

Ry-indruk: Ford Everest

Ford is deesdae ’n gedugte speler in die motormark met ’n rits indrukwekkende voertuie soos die Fiesta, Focus, EcoSport en Ranger. Nóg ’n Ford-produk wat die aandag trek, is die Everest-sportnutsvoertuig.

Die Everest is ’n mededinger vir die Toyota Fortuner, wat ’n topverkoper is. Maar waar die Fortuner vir ’n paar jaar nie oor sy skouer hoef te geloer het nie, is sake nou anders met die koms van die nuwe Everest.

Die Everest het ’n sterk voorkoms en dit lyk sommer na ’n sportnuts wat reg is om berge te versit. Dit is ook regtig ’n groot ryding, maar talle hulpmiddels soos kameras en allerhande waarskuwingsgonsers maak dit redelik maklik om die Everest te maneuver. Binnelangs is die Everest se ruimte indrukwekkend en daar is ook twee bykomende sitplekke wat wegvou in die bagasieruim. Met die druk van ’n knoppie sal dié sitplekke uitvou en die Everest in ’n sewesitplekker verander.

everest-74_880x500

FOTO Ford Everest

Afwerking en bougehalte is redelik goed, terwyl daar ook luukse kenmerke soos leerbekleedsel is. Die Everest het talle standaardtoerusting en het ook ’n indrukwekkende multimediastelsel wat jy met stemfunksies kan beheer.

Soos genoem, is die Everest ’n groot voertuig, maar gelukkig voel dit nie te bonkig nie. Dit is ’n ryding waar die bestuurder sommer maklik in beheer voel. Wat veral vertroue inboesem, is dat jy taamlik hoog sit en die uitsig voor en om jou is onbelemmerd.

Onder die enjinkap skuil ’n kragtige 3,2 liter-turbodieselenjin, wat nuwe betekenis aan woema gee. Dit slaag suksesvol daarin om die groot Everest soos ’n wakker en ratse ryding te laat voel. Die Everest se outomatiese ratkas kwyt hom ook goed van sy taak.

everest-62_880x500

FOTO Ford Everest

Boonop is die Everest ’n volwaardige 4×4 wat beteken as jy regtig wil, kan jy uitdagende terrein of die veld gaan aandurf.

Ford is vol vertroue dat die Everest gerat is om koning te kraai in sy segment. En ná SARIE se toetstydperk met die sportnuts kan jy nie help om te wonder of die Fortuner dalk sy Moses gaan teëkom nie. Die Everest is reeds besig om ’n bekende gesig op ons paaie te raak, en Ford se grootste probleem is nou dat die modelreeks beperk is. Maar dit gaan ook verander wanneer meer bekostigbare weergawes binnekort beskikbaar gestel gaan word.

everest-19_880x500

FOTO Ford Everest

Toetsmodel: Ford Everest 4×4 Limited

Enjin: 3,2 liter-turbodiesel

Gemiddelde brandstofverbruik: 8,2 liter/100km

Prys: R698 900

Lees nou:

Ry-indruk: Mazda CX-5

Ry-indruk: VW Caddy

Ry-indruk: BMW X1