FOTO: Hyuandai webtuiste

FOTO: Hyuandai webtuiste

Motors

Ry-indruk: Hyundai H1

Bussies speel al meer tweede viool as gesinsryding, veral weens die gewildheid van sportnutsvoertuie en die soeke na ’n voertuig wat maklik hanteer in druk verkeer of in die stad. Tog moet jy nie sommer dadelik ’n bussie as moontlike ryding ignoreer nie, veral as jy ’n groterige gesin het of hou van ’n aktiewe leefstyl. Dit is seker een van die mees praktiese vervoermiddels wat ’n gesin kan aanskaf. En as jy in die mark is vir ’n bussie, moet jy Hyundai se H1 ernstig oorweeg.

Die H1 is al in 2009 hier bekend gestel en het onlangs ’n bietjie van ’n verjongingskuur ondergaan, wat onder meer ’n herontwerpte sierrooster, nuwe allooiwiele en ’n paar subtiele verbeterings binnelangs insluit.

Sedert sy bekendstelling sewe jaar gelede het dit een van die gewildste bussies geword, want die prys is mededingend, dit ry lekker en Hyundai het immers deesdae ’n reputasie dat dit goeie motors bou.

Daar is plek vir nege mense oor drie sitplekke, terwyl die laairuimte ook meer as genoeg spasie bied. Natuurlik kan die sitplekke wegvou of uithaal na gelang van jou behoeftes.

Dit is taamlik luuks en die sitplekke is afgewerk in grys leer wat maklik is om skoon te maak. Daar is al die nodige luukse kenmerke en ook Bluetooth-funksionaliteit wat met jou slimfoon verbind sodat jy onder meer oproepe kan maak of neem, sonder om jou hande van die stuurwiel af te haal. Die H1 het ook dubbelsone-klimaatbeheer en agterste passasiers kan self die lugvloei bepaal met draaiknoppe in die dak.

Boonop maak die paneelkissie koud om dinge soos versnaperings vars te hou.

Ons toetsmodel het Hyundai se 2,5 liter-turbodieselenjin gehad, wat redelik vlytig is. Dit voel nooit of dié bus, al is hy hoe swaar gelaai, enigsins sukkel nie. Dié model kom ook gelukkig met ’n outomatiese ratkas – ’n handrat-weergawe sal dalk net bestuurders afskrik. In geheel is dit regtig ’n baie rybare voertuig wat taamlik maklik hanteer, ondanks sy grootte. Ja, jy moet in gedagte hou dat die H1 eintlik ’n groot langerige boks op wiele is, maar jy voel gou in beheer daarvan. Die ritgehalte is goed en dit bestuur eintlik heerlik!

Die H1 is nie meer goedkoop nie, maar dit is ’n voertuig wat sin maak as jy jou gesin gemaklik en veilig wil vervoer. Sy veeldoeligheid is ook aantrelik, terwyl dit regtig voel of dit gebou is om te hou. Soos ander Hyundai-modelle is die H1 ’n goeie keuse en behoort dit vir jare se betroubare rygenot te sorg. Vir verdere gemoedsrus kom dit met ’n vyfjaar-diensplan en ’n omvattende sewejaar-waarborg.

FOTO: Hyundai-webtuiste

FOTO: Hyundai-webtuiste

FOTO: Hyundai webtuiste

FOTO: Hyundai-webtuiste

Model:

Prys: R599 900

Enjin: 2,5 liter-turbodiesel

Gemiddelde brandstof: 9,8 liter/100 km

Lees nou

Ry-indruk: VW Passat

Ry-indruk: Hyundai Santa Fé