santa_fe_front_01_1800x1800
Motors

Ry-indruk: Hyundai Santa Fé

Hyundai is deesdae ’n gerekende vervaardiger wat in dieselfde asem as gevestigde handelsmerke soos Volkswagen en Toyota genoem kan word. Jy sien immers baie Hyundai’s op die pad – van die bekostigbare i10 en i20 tot die vervaardiger se gewilde sportnutsvoertuie, die iX35 en Santa Fé. Laasgenoemde het boonop einde 2015 ’n verjongingskuur ondergaan en SARIE het onlangs die sewesitplek-weergawe met vierwielaandrywing toetsbestuur.

santa_fe_side_01_1800x1800

Hyundai Santa Fé

Die Santa Fé was nog altyd ’n mooi voertuig, maar danksy die bietjie botoks wat dit gekry het, lyk dit selfs nóg meer begeerlik. Van die verbeterings sluit in nuwe Xenon-hoofligte, herontwerpte agterligte, sportiewe vierkantige uitlaatpype, nuwe allooiwiele en meer chroomafwerking. Dit alles gee die Santa Fé ’n meer prominente voorkoms en dit lyk nou nog meer na ’n topgehalte-voertuig.

sante-fe_interior_02-rgb_1800x1800

Hyundai Santa Fé

Binne het Hyundai ook die Santa Fé opgekikker om dit ’n moderner voorkoms en eersteklas-afwerking te gee. Dis nog nie noodwendig vergelykbaar met ’n Volkswagen of Audi nie, maar die Santa Fé kom steeds baie luuks voor en voel goed gebou. Wat veral in die Santa Fé se guns tel, is sy standaardtoerusting wat by sy mededingers ’n hele paar duisend rand by die koopprys sou byvoeg.

Buiten die gewone kenmerke soos klimaatbeheer is daar ook bykomende toerusting soos volgafstandbeheer, blindekol-waarskuwing en satelliet-navigasie.

sante-fe_interior_03-rgb_1800x1800

Hyundai Santa Fé

Die Santa Fé het ook leersitplekke en dit is besonder ruim, terwyl dit regtig gemaklik is. Dit is dalk ’n baie groot voertuig om te bestuur, maar dit hanteer maklik en danksy hulpmiddels soos parkeersensors is selfs parkering nie te veel van ’n problem nie. Die sesgangratkas, outomaties, is seepglad en dra by tot die goeie bestuurservaring.

Daar is ’n kragtige 2,2-liter turbodieselenjin wat die Santa Fé aandryf en die woema voel altyd meer as voldoende, ongeag die omstandighede. Dit sukkel glad nie in dié groot wa nie. Boonop is brandstofverbruik goed en het ons ’n gemiddelde syfer van 7,3 liter/100 km gekry.

santa_fe_seven_seater_02_1800x1800

Hyundai Santa Fé

Soos by die meeste Hyundai-produkte is dit moeilik om met die Santa Fé fout te vind. Dit behoort ’n uitstekende keuse te wees as jy ’n ruim sportnutsvoertuig soek – veral vir diegene wat gesinne en die hele boksemdais moet rondry. Die Santa Fé is aan die duur kant en daar is goeie mededingers in sy klas, soos die Land Rover Discovery Sport. Dit maak ook sin om eerder ’n paar rand te spaar en die goedkoper voorwielaangedrewe weergawe, in plaas van die vierwielaangedrewe model, te koop.

Toetsmodel: Santa Fe Premium AWD

Prys: R724 900

Enjin: 2,2-liter turbodiesel

santa_fe_rear_01_1800x1800

Hyundai Santa Fé

Lees nou: